Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Slot 2 jaar geskors
WP se steroïed-skok
Gerbrandt Grobler: lank geskors.
Eben Etzebeth: vier weke op krukkelys.

Die Westelike Rugbyunie (WPRU) is tot in sy fondamente geskud met die nuus dat die slot Gerbrandt Grobler vir twee jaar geskors is nadat hy positief getoets het vir die gebruik van ’n anaboliese steroïed.

Khalid Galant, die uitvoerende hoof van die Instituut vir Dwelmvrye Sport Suid-Afrika (Saids), het Maandag by navraag aan Die Burger gesê dat die toets in Oktober verlede jaar tydens die Currie­beker-reeks gedoen is.

Toe Grobler ingelig is van die toets-uitslag, het hy skuld erken en ’n skikkingsooreenkoms met Saids aangegaan.

Hiervolgens het hy die reg opgegee om in ’n tugverhoor te verskyn.

Die WP het tot dusver “persoonlike mediese redes” vir Grobler se afwesigheid voorgehou. Hy het spanmaats glo gister oor sy positiewe toetsuitslag en gepaardgaande skorsing ingelig.

Dit kom kort op die hakke van slegte nuus dat die Stormers se eerstekeuse-slotpaar, Eben Etzebeth en Manuel Carizza, die vroeë rondes van die Super-reeks gaan misloop.

Etzebeth is vier weke op die krukkelys weens ’n borsbesering, terwyl Carizza se seer skouer hom drie weke langs die kantlyn gaan hou.

 Intussen kan die WPRU Dinsdag aankondig dat sy senior afrigter, Allister Coetzee, ná die Super-reeks groener weivelde gaan soek.

Coetzee, wie se kontrak met die WP eers einde vanjaar verstryk, gaan sy loopbaan in Japan voortsit, waar hy vir Gary Gold as die Kobe Kobelco Steelers se breier sal opvolg.

Só ’n skuif sal die weg baan vir John Dobson, tans die WP se o.21- en Vodacombeker-afrigter, om die Curriebeker-span vanjaar te brei. Dobson en sy agterlyn-afrigter, Dawie Snyman, was in die OP-Kings se visier om aanstaande jaar in Port Elizabeth af te rig.

Gert Smal, die WPRU se direkteur van rugby, het verlede maand gesê dat hy graag al die WP se huidige breiers wil behou, maar het toe al ’n verlore stryd gevoer ten opsigte van Coetzee.

Daar kan vandag ook aankondigings wees oor die toekoms van die WP se senior hulpafrigters, Matt Proudfoot en Robbie Fleck.

Proudfoot is uit Japan en Argentinië die hof gemaak, maar sal na verwagting in die WP bly.

Dieselde geld Fleck, wat ’n kandidaat sal wees om Dobson as die o.21-span se breier op te volg.

Die WPRU sal straks sy net wyd span om Coetzee se opvolger te vind. Gerugte dat daar reeds met die voormalige Wallaby-afrigter Eddie Jones vergader is, is egter onwaar.

 Die Stormers se slotkrisis kan Coetzee noop om Jean Kleyn en Michael Rhodes as slotpaar te kies vir die eerste ligawedstryd teen die Bulle op 14 Februarie.

Om vir Rhodes na slot te skuif kan egter ongemaklik wees, want daar is twyfel oor of die losvoorspelers Siya Kolisi en Nizaam Carr vir die wedstryd teen die Bulle oorweeg sal word.

Nie een van dié twee sal in Saterdag se vriendskaplike wedstryd teen die Boland-Kavaliers in die Kaapstad-stadion speel nie. Dit sal beteken dat hulle geen voorseisoense wedstrydoefening gekry het nie.

 Die nuus oor die vleuel Kobus van Wyk was egter bemoedigend. Dit sal hom net 10 dae neem om van sy bobeenbesering te herstel, wat beteken dat hy fiks sal wees vir die Bulle-stryd.

EW Viljoen, wat ’n hou teen die kop gekry het teen die Cheetahs, sal ook nie teen die Boland uitdraf nie.

Matt Turner, ’n voormalige Ikey wat Engeland op sewesvlak verteenwoordig het, kan vanweë die tekort aan buiteagterspelers straks teen die Kavaliers speelkans kry.

Die Springbok-senter Damian de Allende is wel op koers om voor die wedstryd teen die Bulle van sy besering te herstel, maar sal nie teen die Boland speel nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.