Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Willie du Plessis na Toulon, en Tier word ’n Cheetah
Willie du Plessis gaan vir ’n paar maande klubrugby in Frankryk speel. Foto: Conrad Bornman

BLOEMFONTEIN. – Die moontlike wedstryd-tyd wat Willie du Plessis in Frankryk kan kry, sal hom baat en help om oor ’n paar maande iets nuut vir die Cheetahs te bied.

Só het Franco Smith, die Vrystaat-Cheetahs se afrigter, gesê.

Die 25-jarige Du Plessis sal hom tydens die Curriebeker-reeks as mediese plaasvervanger by Toulon aansluit.

Lees ook: Die Springbokke​ gaan meer skop

Die losskakel, wat ’n Vrystaat-kontrak tot einde 2016 het, moet help om die Franse klubreus se Wêreldbeker-kopsere op te los. Toulon moet die volgende paar maande sonder ’n magdom sterre klaarkom wat Wêreldbeker-rugby speel.

Volgens Rory Duncan, die Cheetahs se direkteur van rugby, sal Du Plessis hom vir bietjie meer as drie maande daar aansluit. Hy is sedert vandeesweek vrygestel en keer weer op 15 November terug.

Bernard Laporte, Toulon se afrigter, het onlangs gekla oor die feit dat hy gedurende die Wêreldbeker-toernooi sonder tot 17 sterre moet klaarkom.

Op losskakel sal dit waarskynlik spelers soos Matt Giteau (Australië) en Frédéric Michalak (Frankryk) insluit, terwyl Nicolás Sánchez (Argentinië) slegs tydelik by Toulon was.

Toulon se ander losskakel-opsies is Anthony Belleau, met James O’Connor wat glo ook weer vir hom kan speel.

Du Plessis is een van vyf losskakels in die Vrystaat se Curriebeker-groep. Die ander is Fred Zeilinga, Pieter-Steyn de Wet, Niel Marais en Sias Ebersohn.

“Dit is ’n groot geleentheid om by Toulon te speel en Willie gaan met baie ervaring en as ’n beter speler terugkom.

“Waarom sal ons hom nie daardie geleentheid gun nie,” het Smith gesê.

“Die Curriebeker en Super-rugby gaan dalk volgende jaar saamloop en dan sal ons weer al vyf ons losskakels gebruik.”

Lees ook:

Trevor Nyakane o​ntken Cosatu se bewerings

Div: ‘Daar is steeds ​baie rassisme in rugby’

MNS het my soveel g​egee, sê Joost

 Intussen het die Vrystaat die dienste van die flank van die OP-Kings Paul (Tier) Schoeman en die Brive-stut Johan Coetzee vir 2016 bekom.

Volgens Duncan het die 22-jarige Schoeman ’n kontrak van twee jaar onderteken.

Die harde losvoorspeler is Saterdag in Durban teen die Haaie op die Kings se bank.

Coetzee, wat albei kante van die skrum kan sak, is tot einde 2016 deur die Vrystaters as ’n vaskop gekontrakteer.

Hy behoort saam met die Vrystaat-haker Torsten van Jaarsveld in die Wêreldbeker vir Namibië te speel. Coetzee sluit hom ná die skouspel hier aan en kan dalk selfs dan al Curriebeker-rugby speel. Die 27-jarige stut het voorheen ook die Luiperds en Racing Metro in Frankryk verteenwoordig.

“Jy speel nie in Frankryk in die voorry as jy nie kan skrum nie,” het Smith oor Coetzee gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.