Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Aerios-baas: ‘Ons het WP nie gesink’
Costas Constantinou, uitvoerende hoof van Aerios, bly ná meer as drie jaar steeds op die oorlogspad met die Westelike Provinsie oor die advertensie-inkomste wat hy kwyt is weens die likwidasie van die Kaapse unie se sakevleuel aan die einde van 2016. Foto: Jaco Marais

Dit is ’n wanopvatting dat die Westelike Provinsie se destydse ooreenkoms met Aerios vir advertensie-regte binne die Nuweland-stadion regstreeks verantwoordelik was vir die likwidasie van die Kaapse unie se sakevleuel.

Inteendeel, WP Rugby (Edms.) Bpk se inkomste het aanvanklik die hoogte ingeskiet, beweer Costas Constantinou, Aerios se uitvoerende hoof.

“Ek sal elke greintjie geloofwaardigheid wat ek het daarop plaas dat dit nie die geval was nie,” het Constantinou gesê toe hy gevra is of dit ’n geval was van Aerios wat besig was om die gans wat die goue eiers lê, dood te maak, deur sy hande op die WPRU se advertensie-inkomste te kry.

Constantinou het vroeër vandeesmaand bekend gemaak dat hy die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) saam met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) vir R183 miljoen dagvaar.

Saru word daarvan beskuldig dat hy destyds druk op die WPRU se sakevleuel, WP Rugby (Edms.) Bpk, geplaas het om ontslae te raak van ’n kontrak vir advertensie-regte wat met Aerios aangegaan is, wat terugdateer tot 2012. ’n Art.417-ondersoek oor die likwidasie is ook van stapel gestuur, maar sonder dat dít die gewenste uitwerking vir Aerios gehad het.

Constantinou het ná ’n “ondersoek van drie jaar” egter weer sy bokshandskoene aangetrek.

Hy sê hy kan bewyse lewer dat die WP Rugby (Edms.) Bpk ’n uitstekende transaksie met hom beklink het.

Die Westelike Provinsie was (jaarliks) besig om R2,1 miljoen vir advertensie-regte te kry. Ons het vir hulle R8,5 miljoen gewaarborg.
Costas Constantinou

“Die Westelike Provinsie was (jaarliks) besig om R2,1 miljoen vir advertensie-regte te kry. Ons het vir hulle R8,5 miljoen gewaarborg,” sê hy.

“Ons het geglo dat ons ’n sukses daarvan kan maak, want ons was reeds besig om by die Haaie waarde uit advertensies te skep. Ons het geweet waartoe ons in staat is en dat ons dit in ’n goeie bate kon omskep.”

In seisoene waar ’n toets op Nuweland gespeel sou word, sou Aerios R9,5 miljoen aan die WP betaal. Die ooreenkoms sou ook van krag gewees het indien die Westelike Provinsie die Kaapstad-stadion sy nuwe tuiste maak. Boonop sou die bedrag jaarliks toegeneem het om inflasie hok te slaan.

Die aanvanklike ooreenkoms was van Januarie 2012 tot Desember 2023. Volgens Constantinou is Aerios ook die eksklusiewe regte gegee om WiFi- en DAS-netwerke binne Nuweland te vestig en digitale inhoud te lewer. Daarmee saam sê hy is Aerios vir 20 jaar die eksklusiewe regte gegee om apps te ontwikkel waarop ondersteuners digitale inhoud sou kon kyk.

Constantinou sê Aerios het in die eerste twee jaar van die ooreenkoms vir advertensie-regte groot verliese gely.

Dis slegs toe ons beter tariewe by Saru begin kry en meer transaksies beklink het, dat die waarde skielik toegeneem het.
Costas Constantinou

“Dis slegs toe ons beter tariewe by Saru begin kry en meer transaksies beklink het, dat die waarde skielik toegeneem het,” sê hy.

Borge het volgens Constantinou navorsing gedoen en besef dat hulle deur advertensies binne die stadion eintlik besig was om winskopies te kry. Hulle wou daarom meer advertensies kry as deel van hul borgskappe.

“Dis waar dit moeilik geraak het vir die WP, want hy wou meer geld uit sy borgskappe maak. Volgens ons kontrak moes daardie regte deur ons met borge onderhandel word. Of hulle (die WP) moes terugkom na ons toe sodat ons daardie regte in die mark kon sit.”

Die Nuweland-rugbystadion.

Terwyl Aerios oor 20 jaar baie room sou skep, sê Constantinou daar moet in gedagte gehou word dat hy groot beleggings in die Nuweland-stadion gemaak het. Een daarvan was ’n WiFi-infrastruktuur van R15 miljoen.

Hy het ook 14 werknemers aangestel om digitale inhoud te lewer, wat ondersteuners kon kyk. Al 14 is hul werk kwyt as gevolg van die likwidasie.

Volgens hom is die besluit om WP Rugby (Edms.) Bpk te likwideer ’n paar maande gemaak nadat hy daardie infrastruktuur geskep het.

“Die WP het tot en met die punt van die likwidasie meer geld gemaak as al die ander stadions wat nie deur ons verteenwoordig is nie,” sê Constantinou.

“Wat mense nie besef nie, is dat ons die swart skaap gemaak is. Ons is misbruik vir die foute wat ander mense gemaak het.”

Meer oor:  Costas Constantinou  |  Kaapstad  |  Aerios  |  Wpru  |  Advertensie-Regte  |  Nuweland  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.