Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Affies is Blou Bulle se sewes-konings

Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) se o.17 sewesrugbyspan is die afgelope naweek as die Blou Bulle se kampioen gekroon by die Hoërskool Montana se sewestoernooi.

Jacques Marais van die Afrikaanse Hoër Seunskool hou die verdedigers van die Hoërskool Overkruin besig by die Blou Bulle se sewestoernooi. Foto: Frans Lombard

Affies se blitse het in die beker-eindstryd met die verdedigende kampioen, die Hoërskool Garsfontein, met 24-12 klaargespeel en nie hul gelyke by die toernooi gehad nie.

Die oorwinning teen die BlitzBere sou ekstra soet wees nadat hulle die bordjies verhang het ná hulle in 2018 teen die Garsies in die halfeindstryd vasgeval het.

Affies se manne het ’n merkwaardige totaal van 252 punte by die toernooi aangeteken in hulle ses wedstryde, terwyl hulle net 36 afgestaan het.

Al 36 punte wat hulle afgestaan het was eers in die uitkloprondes met die Affies wat nie ’n enkele punt in die groepfase afgestaan het nie.

Keanu Peters van Affies op die aanval tydens die Blou Bulle se sewestoernooi by die Hoërskool Montana. Foto: Frans Lombard

Hulle het die toernooi afgeskop deur die Hoër Tegniese Skool John Vorster met 49-0 ’n drag slae te gee, waarna hulle die Hoërskool Overkruin met 50-0 afgestof het.

Die Hoërskool Pretoria-Noord se sewesspan kon geen antwoord bied vir Affies se aanvallers nie en is met 63-0 kafgedraf in die 14 minute se speeltyd.

Affies het in die kwarteindronde ’n sterk aanslag van Hoërskool Montana afgeweer om eindelik die pyp te rook met 19-12, waarna hul aartsvyande, Hoërskool Waterkloof, in die halfeindronde gewag het.

Hier het die manne van net oorkant Loftus Versfeld weer na ’n hoër rat oorgeskakel en die Klofies met 42-17 geslag om hul plek in die eindronde te bespreek.

In die eindstryd het Jacques Marais en Christiaan du Toit albei hul name onder die puntemakers vir Affies gekry, terwyl Kyle Liebenberg die wind uit die Garsies se seile geneem het met sy twee drieë. Liebenberg het ook ’n doelskop deur die pale gejaag en is boonop as die Speler van die Toernooi aangewys.

Die Garsies, wat verlede naweek koning gekraai het by die Sutherland High School se sewestoernooi, was self weer indrukwekkend.

Hulle het vir Eldoraigne met 28-14 ore aangesit, waarna hulle ook vir Oos-Moot die knie laat buig het met 31-7. Die Midstream College het ook nie genoeg skietgoed gehad nie en is met 50-0 gebêre.

In die kwarteindstryd het hulle die Hoërskool Menlopark met 43-12 geklop, voordat hulle in die halfeindstryd vir Pretoria Boys’ High met 24-12 afgestof het.

Affies en Garsfontein sal nou albei komende naweek Pretoria se aanslag lei by die Marius Schoeman-sewestoernooi by Paarl Gimnasium.

In die o.15-afdeling is die Hoërskool Menlopark as die kampioen gekroon.

Meer oor:  Sewesrugby  |  Skolerugby  |  Skolesport  |  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.