Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Afrig maak Warren se las effe ligter

Sy dae as speler is dalk nog nie getel nie, maar vir eers gaan Warren Whiteley hom op afrigting toespits.

Die voormalige Bok-kaptein en agtsteman van die Leeus, se loopbaan as speler is steeds die ene onsekerheid, want sy beseerde knie is nog nie reg nie. Dié knie pla Whiteley steeds en of dit in so ’n mate sal herstel dat hy eendag weer sal kan speel, is nie duidelik nie.

Maar Whiteley is baie rustig oor alles.

Whiteley die afgelope week by The White House, ’n konferensiegerief wat aan die Leeus-voorsitter Altmann Allers behoort. Foto: Gallo

Whiteley weet ten minste hy is uit vanjaar se Superrugby-reeks as speler.

Hy gaan hom daarom op sy “afrigterspos” by die Leeus toespits.

“Ek sukkel nog,” lag Whiteley. “Ek het maar besluit om vir eers op die afrigting te konsentreer en as afrigter te ontwikkel en soveel moontlik te leer.

“Rugby is ’n passie vir my en ek wil in die toekoms afrig.

“My plan was nog altyd om ná my speeldae af te rig. Ek het die Curriebeker geniet as ’n afrigter en ek gaan nou die geleentheid (om met afrigting te help) met albei hande aangryp.

“Dit gee my meer tyd om te kyk wat met my as speler gaan gebeur. Ek sal ’n MRI-skandering in ’n maand of so op my knie laat doen en dan sien hoe die beenkneusing van die knie vorder.

“Daar is nog pyn en ek kan steeds nie draf nie.

“Die spesialis is ook nie in staat om nou vir my te kan sê of ek oor ’n jaar of twee jaar weer sal kan speel nie.

“Ek gaan alles in die afrigting sit, en die tyd goed benut. Die hersteltyd is en kan baie frustrerend wees. Maar ek kan darem sê: Vanjaar konsentreer ek op afrigting en dit gee die been kans om te herstel. As dit ná ’n jaar nie reg is nie, sal ek ten minste weet ek het alles in my vermoë gedoen om dit reg te kry.

Lynstane is soos ’n skaakspel.

“Dit gee my ook ’n bietjie van ’n vinnige wegtrek na die volgende fase van my loopbaan.”

Frustrasie is ’n woord wat hom laat lag. Hy ken dit goed.

Die besering het hom van ’n Wêreldbeker-droom beroof, maar al sluk hy swaar daaraan, gaan dit hom nie onderkry nie.

“Dit is nie maklik nie, dit is ’n uitdaging. Maar in die laaste twee maande is dit al effe beter – om betrokke by die afrigting te wees en om te sien hoe die spelers ontwikkel, gee my baie vreugde. Ek is mal daaroor om ’n mentor te wees, om advies te gee en by ander te leer. Dit het my baie gehelp in die moeilike tyd.

“Ek gaan nie lieg nie. Sekere dae is beter as ander. Ek kan nie sê daar is nie dae dat ek met alle geweld weer wil speel nie. Dis maar in my om te wil speel. Maar die afrigting maak my dan weer rustiger. Ek geniet dit.”

Terwyl hy vir nou as ’n lynstaan-spesialis by die Leeus gebruik word, is dit nie afgebaken as ’n werksgebied nie. Dit gaan hand aan hand met aanval en verdediging.

“Lynstane is soos ’n skaakspel. Almal kyk anders daarna, maar wat belangrik is, is om dit eenvoudig te hou en om te fokus op jou prosesse en dit goed te doen.

“Ons hou daarvan om ’n vinnige aanvalspatroon te speel en ek sal my deel daarmee doen. Dit is ook lekker om met die aanvalsafrigter, Neil (de Bruin) te werk, asook Sean (Erasmus) wat die verdediging behartig. Ek leer baie by hulle op sowel aanval en verdediging.

“Lynstane is steeds my vernaamste taak, maar ek geniet die ander aspekte ook. Dis lekker om betrokke te wees.”

Oor die Leeus se Super-vooruitsigte is hy versigtig. “Ons moet op elke week fokus. Die naweek teen die Bulle sal ons weet hoe ver ons gevorder het.”

Meer oor:  Superrugby  |  Warren Whiteley  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.