Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Dié legendes’ van skole verdien ’n Bell’s

Veertien dae gelede het Ruan van der Merwe, ’n dinamiese oud-skolier van Grey in die 1980’s, ’n byeenkoms gereël vir ’n groepie skole-afrigters wat hy as “legendes” bestempel het. Teenwoordig was Richard Visagie (Paarl Boys High), Dries van der Wall (Grey Kollege, Bloemfontein), Jacques Hanekom (Paul Roos Gimnasium), Christoff Lötter (Paarl Gimnasium) en die uwe op uitnodiging.

Vir die geleentheid kon Van der Merwe nie ’n beter plek as die Rugbymuseum in Nooitgedacht Village, Stellenbosch, gekies het nie. Dis ongetwyfeld een van die omvangrykste versamelings van rugby-memorabilia in private besit ter wêreld. Omring met meer as ’n eeu se tradisie, het ’n mens eintlik klein gevoel.

Die groepie gesoute afrigters het my aan ’n staaltjie oor ’n eertydse hoof van Westminster in Engeland, dr. Richard Busby, laat dink.

Toe die Engelse koning Charles II by geleentheid Westminster besoek, het Busby die koning om verskoning gevra dat hy nie sy hoed afhaal nie. “U sien, ek kan dit nie doen nie want in die oë van my seuns is daar nie ’n groter persoon as hul skoolhoof nie!” het Busby verduidelik.

By Nooitgedacht was daar verskeie dr. Busby’s.

Vir talle afrigters het die klem verskuif van die kind na die “ek”.

Hoe anders beskryf jy manne soos Visagie en Van der Wall wat onderskeidelik 41 en 35 jaar by hul onderskeie skole betrokke was? Selfs Hanekom het oor die afgelope 32 jaar hegte bande op afrigtingsgebied met Paul Roos. Lötter was weliswaar nie so lank by Gimnasium nie, maar sy tyd daar word gekenmerk deur kreatiwiteit en inisiatief.

In die snel veranderende wêreld van vandag sal so iets moeilik herhaal word. In die beroepsera het skolerugby vir die meeste afrigters bloot ’n tydelike afspringplek na provinsiale spanne geword. Vir talle afrigters het die klem verskuif van die kind na die “ek”.

Elkeen van hierdie legendes het kortliks iets oor sy loopbaan vertel. Die ooreenkomste was opvallend. Elkeen moes eers sy plek in die skool-hiërargie verdien, soos waar om in die personeelkamer te sit! Elkeen is deur een van die senior manne ingeroep en van raad voorsien. Hierdie “menere” het wel die kennis gehad, maar aan die einde van die pad gekom wat geesdrif of liggaamskragte betref.

Van der Merwe se verering van hierdie onderwysers is prysenswaardig. Dis manne wat in ’n tradisieryke omgewing ingestap het en oor dekades hul deel bygedra het om dit verder uit te bou. En dis nodig.

dok pool
Dok Pool

Dit mag hiperkrities klink, maar in my kontak met deesdae se jong spelers lyk dit asof hulle weinig erg het aan tradisie. Dit wat hulle ervaar, kom hulle toe, dis hulle reg, skyn hul houding te wees.

Die woord “tradisie” is deesdae omstrede. Tog is elke afrigter betrokke by tradisie, of hy dit wil weet of nie. Of hy dit nou ook uitbou of afbreek, neutraal kan hy nie staan nie. Dit bly egter steeds sy taak om die speler en tradisie bymekaar te bring.

Om jou tradisie te vergeet, is om jou verlede, jou geskiedenis, te vergeet soos wat gebeur by diegene wat aan geheueverlies ly. Dis mense wat nie weet wie hulle is en waarvandaan hulle kom nie.

Dis algemeen bekend dat hierdie “groot” skole oor die land heen talentvolle leerlinge en spelers werf. Dit gebeur gewoonlik by rugbytoernooie, deur agente of selfs ambisieuse ouers wat die skool kontak.

In hierdie opsig kan die “groot” skole gerus ’n blad uit Grey Kollege se verlede neem.

Toe Grey in 1955 sy eeufees gevier het, het die span ’n toer na die destydse Suidwes-Afrika onderneem en onder meer op Otjiwarongo teen ons hoërskool gespeel. In hul span was latere bekendes soos die Junior Springbok-agsteman Henry Meyer, die provinsiale vleuel Ernst du Plessis en die internasionale skeidsregter Steve Strydom.

Die feit dat ons skool slegs 200 leerlinge – seuns en meisies – van st. 6 tot matriek gehad het, het nie saak gemaak nie. Ook nie die feit dat ons met 34-9 verloor het nie. Wat wel saak gemaak het, was die voorreg om teen ’n span te speel wat met sy spoed reg aan rugby laat geskied het. Daar is nog lank ná die tyd oor die wedstryd gepraat en elkeen wat gespeel het.

Die inspuiting wat Grey se besoek destyds aan Suidwes se skolerugby gegee het, kan kwalik oorskat word. Ons rugby-horison is verbreed en in die nabetragting het ons as individue besef dat ons, rou soos ons was, met die nodige toewyding en passie vir niemand hoef terug te staan nie.

Vandag woeker hierdie “groot” skole met die room van die plattelanders se talent.

Hopelik is daar in hul jaarprogramme nog plek vir sulke “Suidwes-besoeke” soos die van Grey in 1955.

Meer oor:  Skole-Afrigters  |  Meningstuk  |  Legendes  |  Dok Pool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.