Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie drie hulpbreiers kwyt

Robert du Preez, afrigter van die Haaie, gaan binnekort sonder drie van sy adjudante die span se leisels hou.

Twee van sy hulpafrigters, Braam van Straaten en Ricardo Loubscher, het die afgelope week bedank – na bewering weens verskille oor Du Preez se werkwyse.

’n Derde een, Alan Zondagh, het verkies om sy vennootskap met die Haaie se hoofafrigter op te skort en eerder ’n pos oorsee te aanvaar.

Die Haaie se hoofafrigter, Robert du Preez.

Rapport verneem die water in die Haaikuil is boonop verlede week vertroebel deur ’n speleropstand en ongelukkigheid oor ’n vlug terug Durban toe.

Van Straaten, wat die Haaie se verdedigingsafrigter is, gaan hom by die Southern Kings aansluit, terwyl Loubscher ’n pos by Heyneke Meyer se Franse klubspan, Stade Français, aanvaar het. Loubscher was onder Meyer ook ’n hulpafrigter by die Springbokke.

Van Straaten en Loubscher het glo verskeie kere met Du Preez gebots. Van Straaten het glo as gevolg van sy meningsverskille met Du Preez nie saam met die Haaie na Singapoer gereis vir hul wedstryd daar nie en hy was ook nie saam met die span toe hulle in Buenos Aires die Jaguares aangevat het nie.

Loubscher was op sy beurt nie saam met die Haaie-span op hul oorsese toer na Australië en Nieu- Seeland nie. Hy was in die tyd dat die Haaie in Australië en Nieu-Seeland gespeel het op besoek aan klubs in Frankryk. Volgens ingeligtes was hy soos Van Straaten ook nie saam met die span Buenos Aires toe nie.

Zondagh, die Haaie se vaardigheidsafrigter, het ’n kontrak met die Franse klub Toulouse gesluit om hul vaardigheidsafrigter te word.

In Durbanse rugbykringe word gesê dat nog bedankings in die afrigterskorps kan volg.

Onder die spelers is daar ook onrustigheid.

Groot ongelukkigheid heers oor sy spankeuses, bewerings dat hy sy seuns bevoordeel en die wyse hoe hy Curwin Bosch en Aphelele Fassi bestuur.

Dit het verlede week glo tot ’n speleropstand gelei.

Dié ongelukkigheid is die afgelope week verder op die spits gedryf nadat die span se vlug uit Suid-Amerika op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg geland het en die spelers en bestuur etlike ure op die lughawe moes deurbring omdat hul aansluitingsvlug na Durban vertraag was.

Volgens twee spanlede het Du Preez, sy seun Dan en ’n paar ander spelers ’n vroeër vlug Durban toe gehaal, terwyl ’n groep ander spelers op die lughawe moes agterbly.

Die omstredenheid oor spankeuses en bewerings dat Du Preez sy seun Robert jnr. voorkeurbehandeling gee, is die afgelope week deur die Haaie verwerp, maar volgens Rapport se inligting is dit wel ’n twispunt in die span.

Du Preez is genader om kommentaar, waarop ’n Haaie-woordvoerder geantwoord het. In antwoord op Rapport se vrae ontken die woordvoerder dat daar ooit ’n speleropstand was.

“Die hoofafrigter praat op ’n weeklikse grondslag met sy senior spelers. Voor die wedstryd teen die Hurricanes het die afrigter vir die senior spelers gevra om hul mening te gee oor moontlike veranderings aan die span.

“Ná daardie gesprek het Du Preez besluit om eerder kontinuïteit te behou (deur Bosch bo Robert jnr. te behou). Daar is ’n massiewe verskil tussen ’n gesprek en ’n speleropstand. Die bewering van ’n opstand kan nie gestaaf word nie.”

Die woordvoerder het verder gesê dit is natuurlik om in spanverband verskille oor keuses te hê.

“Spankeuses sal altyd tot ’n debat lei en kritiek kom natuurlik daarmee saam. Ons afrigter is bewus hiervan.

“Ons het ’n groep talentvolle spelers in ons stelsel, met goeie diepte in die meeste posisies. Ongelukkig kan net 23 spelers per wedstryd gekies word. Moeilike besluite moet geneem word deur afrigters wat die wedstrydplan en kombinasies vir elke wedstryd betref.

“Afrigting is oor die algemeen ’n komplekse werk, en as jy byvoeg dat drie van jou seuns in dieselfde span is, dan vererger dit die kompleksiteit en bestuur daarvan.”

Die Haaie sê verder daar is geen ongeskrewe reël dat die afrigter saam met die span moet reis nie. Hulle sê ook dit is niks ongewoons dat sekere spelers besluit om self hul vlugte aan te pas nie.

Die Haaie sê daar is ook geen planne om Du Preez te vervang nie en dat hy ’n kontrak tot einde 2020 het.

Meer oor:  Haaie  |  Ricardo Loubscher  |  Robert Du Preez  |  Braam Van Straaten  |  Alan Zondagh  |  Bedank  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.