Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Afrika se Spele-droom hou hom op speelveld

Die Blitsbok-strydros Cecil Afrika is nog nie gereed om sy sewesstewels op te hang en hom in ’n afrigtersrol te begewe nie.

Cecil Afrika druk vir die Blitsbokke by die 2016-Spele. Foto: Getty

Sy begeerte om daardie Olimpiese goue medalje met die Springbok-sewesspan te wen, brand nog te hoog om sy loopbaan as speler te eindig.

Daarom gaan die 32-jarige Afrika oor die volgende paar maande alles insit om sy roemryke sewes­loopbaan op ’n hoogtepunt te probeer afsluit.

Terwyl daar sterk meegeding word onder die spelers om deel van die Suid-Afrikaanse sewesspan te wees wat volgende jaar in Tokio gaan deelneem, is Afrika oorgehaal om te wys dat hy nog oor daardie vermoë beskik wat hom een van wêreldrugby se mees gevreesde sewesspelers maak.

“Die onsekerheid maak dinge ’n bietjie moeilik, maar ek het doelwitte gestel om vanjaar die wêreldreeks te wen en dan daardie goue medalje by die Olimpiese Spele,” het Afrika die afgelope week aan Rapport gesê.

“Ek sal egter aan die einde van die jaar moet gaan dink: Wil ek nog ’n jaar speel of wil ek nie? Tans is dit nog te vroeg om daardie besluit te neem. Ons sal moet kyk wanneer die seisoen klaar is en dinge dan evalueer.”

Volgens Afrika was sy grootste doelwit vanjaar om so lank as moontlik, en so veel as moontlik, op die rugbyveld te wees.

Dít nadat hy die laaste paar seisoene op sleuteltye onder beserings deurgeloop het.

My hoofdoel is die Spele en om daardie goue medalje te wen.
Cecil Afrika

Hy het net onlangs van ’n dyspierbesering herstel en weer terug op die speelveld gekom voordat die koronavirus die sewesreeks tot stilstand laat kom het.

Toernooie is uitgestel tot September en Oktober weens die wêreldwye pandemie en Afrika en sy spanmaats sal tot dan moet wag om weer hul visier op die wêreldtitel in te stel.

Terwyl hy nog moet besin oor sy toekoms, het hy die versekering gegee dat sy Olimpiese droom steeds hoog brand.

Die Spele sal eers volgende jaar beslis word.

“My hoofdoel is die Spele en om daardie goue medalje te wen. Dit brand vir seker nog altyd. Dit dryf my. Ek wil graag een van die eerste rugbyspelers in Suid-Afrika wees wat ’n Olimpiese goue medalje wen.

“Dit (die virus) krap die planne bietjie deurmekaar. Maar ek sal aanhou hard werk en veg om my die beste kans te gee om Spele toe te gaan. Ek werk nou vir dit.”

Die tyd by die huis gee Afrika nie net die kans om ’n bietjie te rus en tyd met sy familie deur te bring nie, maar ook om te besin oor wat hy ná rugby wil doen.

Sy kop staan afrigting toe, maar met die doel om mikro-vaardighede aan spelers oor te dra. Dis immers iets waarvoor Afrika bekend geword het op die sewesverhoog.

Meer oor:  Cecil Afrika  |  Japan  |  Olimpiese Spele  |  Tokio Spele  |  Sewes  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.