Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Afrikaanse Xhosa voer Ixias aan

Wanneer Luvuyo Ndevu, wat die Ixias vanjaar in die Varsitybeker-rugbyreeks gaan aanvoer, gevra word wat sy huistaal is, antwoord hy elke keer sonder aarseling “Afrikaans”.

Luvuyo Ndevu, kaptein van die Ixias, en sy spanmaats het groot ambisies vir die 2021-seisoen. Foto: Marnus Kok

Ndevu (23), ’n oudleerling van die Hoërskool Outeniqua in George in die Wes-Kaap, verwys na homself as ’n Xhosa.

“My vriende op skool het Afrikaans gepraat. Maar ek kan steeds Xhosa verstaan. My Ma-hulle praat met my Xhosa, maar ek sal in Afrikaans reageer,” sê hy.

“Hulle praat en verstaan ook Afrikaans, maar hulle is meer Xhosa. As ek op ’n vorm moet invul wat my huistaal is, dan sal ek altyd Afrikaans invul, want ek praat dit by die huis.”

Die rugbypad van Ndevu, ’n steelkantflank, het al ’n paar draaie geloop sedert hy in 2014 en 2015 die Suidwestelike Distrikte in die o.18-Cravenweek-toernooi verteenwoordig het.

Cohen Jasper in aksie vir die Ixias teen die Maties in ’n Varsitybeker-wedstryd in 2020 in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Ná matriek is hy na die Bulle, waarna hy ’n draai by die Stellenbosch Sportakademie gemaak en ook vir SWD se o.20-span uitgedraf het.

In 2019 het hy inligtingstegnologie aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in Bloemfontein begin studeer.

Het Ndevu nie soms gewens dat sy rugbypad effens minder vol kronkels was nie?

“Ek het vir myself gesê dat almal se paaie nie dieselfde is nie, vir ander neem dinge dalk langer.

“Vir my was dit belangrik om vorentoe te kyk, en toe ek die geleentheid kry om te studeer, het ek dit aangegryp.”

Ndevu voer ’n Ixias-span aan wat die laaste paar jaar stelselmatig van die onderpunt van die punteleer tot ’n span met groot ambisies gevorder het.

Voordat Covid-19 die 2020-seisoen gestuit het, het die Bloemfonteiners net-net teen Tuks verloor nadat hulle teen rustyd voor was, en teen nog ’n voormalige kampioen, die Ikeys, gelykop gespeel het.

Heino Bezuidenhout in aksie vir die Blitsbokke in die Hongkong-sewestoernooi in 2018. Foto: Getty Images

Boonop het die Ixias in 2019 én 2020 met hul meer geroemde Bloemfonteinse buurman, die Shimlas, wat die Varsitybeker in 2015 gewen het, afgereken.

“Ons mikpunt is om die eindstryd te haal. Ek dink met die span wat ons het, is dit binne ons bereik. Ek en al my spanmaats glo dat ons oor die potensiaal beskik om dit te doen,” het hy gesê.

“Maar ons vat dit wedstryd vir wedstryd en leer soos wat ons aangaan en bou daarop voort.”

Die Ixias het inderdaad ’n gedugte span, met uitblinkers soos die vlugvoetige heelagter Cohen Jasper, die oud-Blitsbok Heino Bezuidenhout (senter), Xavier Swartbooi (skrumskakel) en Jacques Ackerman (losvoorspeler), wat almal weer beskikbaar is.

Die Varsitybeker-reeks word vanjaar in ’n bioborrel in Pretoria beslis, met die Bloemfonteiners wie se eerste wedstryd op 4 April teen die Universiteit van Johannesburg is.

Meer oor:  Ixias  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.