Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Aftyd gaan Leeus nie ‘pootjie’ – Swys
Griekwas se Gideon van der Merwe duik teen die Haaie oor die doellyn. Foto: Gallo Images

Die teorie dat gebrekkige wedstrydfiksheid ’n span sal kniehalter, is met Argentinië se onlangse skoksege oor die All Blacks nekomgedraai, meen Swys de Bruin.

Hy is om kommentaar genader op die vooraand van die Goue Leeus en Griekwas se Curriebeker-kragmeting Saterdag in Kimberley. Weens Covid-19 en ’n loslootjie, was die Johannesburger drie weke gelede laas in aksie.

Swys de Bruin in 2000 toe hy Griekwas afgerig het. Foto: Gallo Images

Dit kan maklik vrese laat ontstaan of die Johannesburgers vir 80 minute mededingend kan wees, maar De Bruin, wat die Leeus en Poubloues in sy loopbaan afgerig het, sê aikôna.

“Ek dink Griekwas kan die Leeus ’n go gee. Maar ek sal baie verbaas wees indien die Leeus nie oortuigend wen nie. Hulle het nou baie tyd gehad om aandag aan hul kondisionering te gee, so hulle sal gereed wees.

“Ek dink nie dit is ’n geval dat die baie aftyd teen die Leeus gaan tel nie. Ons het nou met die Argentyne teen die All Blacks gesien dat dit nie regtig saak maak nie. Dit het ook daardie teorie verkeerd bewys,” sê De Bruin.

Voor daardie kragmeting, wat die Poemas vroeër vandeesmaand met 25-15 in Sydney gewen het, was hul laaste toetswedstryd in Oktober 2019. Niemand het die Argentyne ’n kans gegun om te wen nie.

Griekwas is vanjaar steeds segeloos, nadat hulle twee weke gelede byna daarin geslaag het om die Haaie in die Superrugby Unlocked-reeks te klop. Maar foute op kritieke tye en breinfloutes wat veroorsaak het dat die bal doelloos rondgeslinger word, het hulle verhoed om te wen.

“Griekwas het die wedstryd teen die Haaie in die sakkie gehad, hulle moes hom net toegeknoop het. Teen die Bulle in hul eerste wedstryd was hulle ook goed en teen die Cheetahs was hulle vir 60 minute lank goed,” sê De Bruin, wat die Poubloues tussen 1999 en 2003 afgerig het.

Swys de Bruin meen Jaco Kriel (foto) gaan ’n groot invloed op die wedstryd hê. Foto: Gallo Images

“Die wal kan wel in die laaste 20 minute breek. Dinge het baie verander van die tyd toe ek in Kimberley afgerig het. Daardie jare was dit ’n klipharde veld en ons het eintlik ons lippe afgelek vir besoekende spanne. Dan het ons boonop nog die toeskouers gehad wat agter ons gestaan het. Daardie dinge is nie meer daar nie.”

Die Leeus daag met ’n paar hardebaarde soos Jaco Kriel (flank), wat De Bruin glo “ ’n groot verskil gaan maak”, Willem Alberts (slot) en Ruan Dreyer (stut) in Kimberley op.

Slaag dié manne daarin om Griekwas se voorspelers te oorheers, kan agterspelers soos Wandisile Simelane (senter) en Stean Pienaar (vleuel) die tuisspan in trane hê. Pienaar sal juis goeie herinneringe aan die Diamanstad hê, waar hy verlede jaar in die einste Curriebeker-reeks die Poubloues deurmekaar gehardloop het – om dit mooi te stel.

Maar die tuisspan het self ’n paar spelers soos Adré Smith (slot) en die flanke, Stefan Willemse en Gideon van der Merwe, wat daarvan hou as dinge woes raak.

So, indien Griekwas besluit om nie terug te deins vir die meer bekende spelers uit die Goudstad nie, hul man in die vaste fasette kan staan, hul foute beperk en speel asof hul lewe daarvan afhang, kan hulle die Leeus klop. Nes die Argentyne met die “magtige” All Blacks gemaak het.

Griekwas: James Verity-Amm, Daniel Kasende, Berton Klaasen, Johnathan Francke, Eduan Keyter, Tinus de Beer, Zak Burger (k), Johan Momsen, Stefan Willemse, Gideon van der Merwe, Cameron Lindsay, Adré Smith, Ewald van der Westhuizen, HJ Luus, Mox Mxoli. PLAASVERVANGERS (uit): Monde Hadebe, Andrew Beerwinkel, John-Roy Jenkinson, Mzwanele Zito, Carl Els, Theo Maree, André Swarts, Enver Brandt, Bandisa Ndlovu, Ewan Coetzee, Masixole Banda.

Goue Leeus: EW Viljoen, Stean Pienaar, Wandisile Simelane, Burger Odendaal, Courtnall Skosan, Elton Jantjies (k), Morné van den Berg, Len Massyn, Vincent Tshituka, Jaco Kriel, Marvin Orie, Willem Alberts, Ruan Dreyer, Jaco Visagie, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Dylan Smith, Wiehahn Herbst, Reinhard Nothnagel, Roelof Smit, Ross Cronjé, Dan Kriel, Tiaan Swanepoel.

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen. Assistent-skeidsregters: Jaco Peyper en Griffin Colby. TV-skeidsregter: Aimee Barrett-Theron. TV: 16:30 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Leeus  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.