Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Al 3 Du Preez-broers deur Sale opgeraap

Die Du Preez-broers bly ’n pakket.

Jean-Luc en Dan het nou, soos Robert, kontrakte met Sale Sharks gesluit.

Robert en sy Durbanse spanmaat Akker van der Merwe se name is die week as aanwinste deur Sale Sharks onthul.

Rapport kan bevestig Jean-Luc en Dan sal saam met hulle ná 2019 se Superrugby-reeks na Manchester, tuiste van die Sale Sharks, vlieg.

Dan, Robert, en Jean-Luc du Preez.

Een van die redes waarom Jean-Luc en Dan se name nie aangekondig is nie, is omdat hulle eers volgende jaar vir Superrugby na Durban móét terugkeer.

Eers daarna sal hulle weer vir twee jaar, soos Robert en Van der Merwe, vir Sale Sharks beskikbaar wees.

Sale Sharks se skielike aankondiging oor Robert en Van der Merwe se werwing word beskou as ’n regstreekse reaksie op Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se bekendmaking dat hy van volgende jaar af regulasie 9 van Wêreldrugby streng gaan toepas wat die beskikbaarheid van spelers by oorsese spanne betref.

Saru het verlede Saterdag ’n skrywe aan al die Engelse, Franse en Japanse klubs gerig waarin hy dít duidelik gestel het. Saru het ook te kenne gegee dat hy spelers wat nie vir die Springbokke beskikbaar is nie, gaan dwing om hul internasionale uittrede aan te kondig.

Ingeligtes meen Sale Sharks het die aankondiging van Robert en Van der Merwe verhaas sodat hulle kan sê hulle het hulle geteken voordat Saru die regulasie 9-brief geskryf het.

Sale Sharks kan later aankondig dat hy ook Steven Kitshoff vasgemaak het. Kitshoff het tans nog ’n gesamentlike Bok-kontrak wat die aankondiging van sy skuif onder meer vertraag.

Dit is nog onseker hoe toetsverpligtinge bogenoemde spelers se kontrakte by Sale Sharks sal beïnvloed.

Van der Merwe is byvoorbeeld nog stewig saam met Schalk Brits en Bismarck du Plessis in die prentjie om as die derdekeuse-haker in die Bokke se Wêreldbekergroep ingesluit te word.

Kitshoff is reeds die land eerstekeuse-loskopstut, terwyl Jean-Luc se kanse nie afgeskryf kan word om as een van die Bokke se losvoorspelers na Japan te reis nie.

Robert is as losskakel agter Elton Jantjies en Handré Pollard op die Bok-ranglys.

Dis egter duidelik dat Sale Sharks se Steve Diamond vinnig by Johan Ackermann van Gloucester geleer het dat die klub daarby baat vind om SA spelers te werf, omdat hulle vir die tydperk van die Sesnasies-toetse almal beskikbaar bly.

Worcester Warriors volg ook die strategie om vanweë dié spesifieke rede Suid-Afrikaanse spelers te teiken, omdat dit die klub se kanse versterk om te bly presteer.

Meer oor:  Sale Sharks  |  Dan Du Preez  |  Robert Du Preez  |  Jean-Luc Du Preez  |  Broers  |  Kontrakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.