Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Al 6 franchises sal groot rugby speel in 2018’

Al ses Suid-Afrika se rugbyfranchises sal aanstaande jaar in groot internasionale reekse meeding.

Dis nou as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se onderhandelinge met twee kompetisies se beheerrade in die buiteland volgens plan verloop, sê Saru se president, Mark Alexander.

Mark Alexander, Saru se president. Foto: Gallo Images

“Twee spanne gaan die trekpas uit die Superrugby-reeks kry, maar dié twee spanne sal dan by ’n ander groot internasionale kompetisie inval,” sê Alexander.

“Ons is opgewonde oor die moontlikheid om by ander kompetisies betrokke te raak. Ons onderhandel tans vir deelname aan twee internasionale reekse,” sê hy.

Volgens hom is Saru in “gevorderde samesprekings” met reekse in twee streke en dié beheerliggaam se doelwit is om die twee spanne wat gaan uitval volgende jaar reeds by ander reekse te betrek.

“Die hele plan is om te verseker die twee spanne neem van 2018 af reeds aan ander kompetisies deel. Ons wil hulle nie tot die wildernis verdoem nie. So, as alles goed gaan, sal al die spanne aan internasionale reekse deelneem.”

Die Pro12-reeks in Europa, waarin spanne van Ierland, Wallis, Skotland en Italië speel, is al genoem as een van die kompetisies waarin ’n Suid-Afrikaanse span moontlik gehuisves kan word. 

Hoewel Saru nog nie aangekondig het wie die twee spanne is wat hul Super-status van aanstaande jaar af kwyt gaan wees nie, dui alles daarop dat dit die Southern Kings en Cheetahs sal wees.

Die Kings se huidige spelpeil maak dit egter moeilik om hulle uit die reeks te skop, veral nadat hulle die naweek met die Haaie afgereken het.

“Hulle is ’n belangrike span vir ons en dis ’n streek met ’n groot hoeveelheid rugbyspelers. Ongelukkig het dié streek deur moeilike tye gegaan, maar ons sal steeds ’n franchise daar hê, veral omdat dit die bakermat van swart rugby is,” sê Alexander.

Die hele plan is om te verseker die twee spanne neem van 2018 af reeds aan ander kompetisies deel.
Mark Alexander

Daar is onlangs bespiegel dat Sanzaar, Superrugby se beheerliggaam, se plan om die deelnemende spanne in dié reeks te verminder, gekelder kan word.

Die Western Force en Melbourne Rebels het dié beheerliggaam reeds met regsaksie gedreig. Daar is ook bespiegel dat die Cheetahs vir Saru hof toe kan sleep.

“Ons het nie ’n dagvaarding van die Cheetahs ontvang nie. Ek weet ook dat Sanzaar regsadvies oor die aangeleentheid ontvang het. Ek weet nie hoe enige dagvaarding suksesvol gaan wees nie. Ek glo nie dit sal die planne verhinder nie. Die plan is dat daar volgende jaar slegs vier Suid-Afrikaanse spanne in die Superrugby-reeks gaan wees.”

Dit is ook onwaarskynlik dat twee spanne sal saamsmelt.

“In die verlede was daar spanne wat saamgesmelt het. Dit het nooit gewerk nie. Dit het nie vir die Cats (die vaandel waaronder die Cheetahs en Leeus gesamentlik deelgeneem het) gewerk nie. Hulle het vrot vertoon. Dit is ’n opsie, maar dit is nie ’n opsie wat ons tans ondersoek nie,” sê Alexander. 

Meer oor:  Mark Alexander  |  Superrugby  |  Saru  |  Sanzaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.