Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat het geword van ...
Rekordbreker, maar dra Bok-trui net 2 keer
Chris Badenhorst strek oor die doellyn vir een van sy twee drieë teen Argentinië in 1994 op Ellispark.

Curriebeker-drieë by die dosyne. 65 daarvan. En dan is daar ook nog sy rekord van 136 drieë in 221 wedstryde vir die Vrystaat.

Les bes, ’n Suid-Afrikaanse eersterangse rekord van 173 drieë in die 13 jaar van senior rugby tussen 1986 en 1999.

Chris Badenhorst kan met reg bestempel word as ’n driedrukmasjien en ’n ware strydros.

En tog het hy die Springboktrui ’n skamele twee keer oor die kop getrek.

Suid-Afrika se isolasie in sport was ’n vername faktor.

Gedurende die blits van ’n buks se eerste ses seisoene (1986-’91) was Suid-Afrika alle amptelike toetsrugby ontsê, met die Springbokke wat in dié tydperk slegs teen die rebelle-Kavalierspan van Nieu-Seeland (1986) en ’n Wêreldvyftiental (1989) kon kragte meet.

Maar daar was ook uiters strawwe mededinging onder die land se topvleuels toe die Bokke weer begin toetsrugby speel het.

James Small, Pieter Hendriks, Chester Williams en Jacques Olivier was die spoedvrate wat Badenhorst uit die Bok-span gehou het.

Tog koester die 55-jarige boorling van Namibië geen verwyte nie. “Ek het darem ’n kans gekry, en ek is dankbaar daarvoor. Ek is tevrede,” sê Badenhorst.

“Daardie tyd was ’n mens maar altyd hoopvol elke slag wanneer ’n Springbok-span aangekondig moes word.

“Dit was normaalweg tydens die rugbyonthaal op ’n Saterdagaand, en dan het ek gewoonlik uitgegaan en in die kar gaan sit en luister na die bekendmaking van die span op die radio.

“Dit is altyd teleurstellend om nie die span te haal nie, maar ek is vir ewig dankbaar dat ek wel die geleentheid gehad het om vir Suid-Afrika te kon speel.”

Badenhorst is voorts ook dankbaar vir die platform wat Vrystaat-rugby hom gebied het om hom nie alleen te kon vestig as ’n Suid-Afrikaanse rugbylegende nie, maar om ook ’n suksesvolle loopbaan weg van rugby te kon uitkerf.

“In 1997, terwyl ek nog rugby gespeel het, het ek en André Venter (Springbok-flank van 1996 tot 2001) ’n kopieer-onderneming in Bloemfontein op die been gebring,” vertel hy.

’n Kwarteeu later gaan Itec Vrystaat nog van krag tot krag, en spesialiseer die onderneming in kantoortoerusting en harde- en sagteware vir rekenaars.

Chris en Michele Badenhorst saam met hul kinders, Dian en Anke. Foto: Verskaf

Chris en Michele Badenhorst het mekaar as tieners in Windhoek ontmoet, en hy verkondig trots dat hy reeds 30 jaar getroud is met sy “skoolkys”, en ’n kroos van twee het.

Dian (24) is ’n bekwame skrumskakel in eie reg, wat ook vir die Cheetahs uitgedraf het en tans by die Pumas betrokke is.

Anke (21) is ’n finalejaar-fisioterapie-student aan die Universiteit van die Vrystaat, en het Suid-Afrika se o.21’s verlede jaar op die hokkieveld verteenwoordig.

Hoewel hy ná 35 jaar ’n Vrystater in murg en been is, het Badenhorst nie sy Namibiese wortels heeltemal uitgetrek nie.

Hy is steeds saam met sy ouers by ’n veeboerdery by Dordabis betrokke, ’n landelike nedersetting in die Khomas-streek, sowat halfpad tussen Windhoek en Gobabis.

“Ons boer hoofsaaklik met bees en skaap,” vertel hy, “en het ook ’n lekker jagbedryf aan die gang, wat ongelukkig effens tot stilstand gekom het weens Covid-19.”

As ’n jong kannetjie in Suidwes het Badenhorst reeds Vrystaat-helde gehad.

“Ek het briewe geskryf vir ouens soos Martiens le Roux, Gysie Pienaar en De Wet Ras om hulle te vra om vir my hul handtekeninge per pos te stuur,” onthou hy, “en ek het tot vandag toe nog die albums met daardie handtekeninge in.

“Een van my onnies in Windhoek, wat op Kovsies gestudeer het, het vir oom Tat Botha (’n groot gees in Kovsie- en Vrystaatse rugby) gebel en gereël dat ek ná skool Bloemfontein toe kon koers kies. Ek het nooit weer teruggekyk nie.”

Badenhorst was ’n trotse inwoner van die beroemde en soms berugte Reitz-kamerwonings.

“Wat ’n wonderlike tyd.

“Sulke eenheid en samehorigheid kry ’n mens op min plekke, en ek koester die onvergeetlike dae wat ek in Reitz gehad het. Dit was voorwaar ’n karaktervolle koshuis met hope tradisie.

Die uitdrukking is al holrug gery, maar elke wedstryd vir Vrystaat was spesiaal.

“In ’n stadium het Reitz blykbaar meer Springbokke opgelewer as wat ander koshuise provinsiale verteenwoordigers gehad het.”

Badenhorst se kamermaat was juis die legendariese Bok-heelagter André Joubert. “Wat ’n smart ou,” merk Badenhorst op. “Juba was van die veld af ook ’n Rolls Royce, as mens. Hy was ’n genuine, likeable vriend.

“Ek en Juba het saam ons Vrystaat-debuut teen Vaaldriehoek op Sasolburg gemaak.

“Wat ’n oomblik vir ons, as youngsters, om uiteindelik saam met helde soos Gysie en De Wet, asook Vleis Visagie, Japie Wessels, Eben Jansen en Casper Wessels, te kon uitdraf.

“Ouens soos Martiens le Roux en later Helgard Müller het vir my Vrystaat-rugby versinne-beeld. Hulle was absolute karakters, en passievol oor Vrystaat, wat die gees aan die gang gehou het.

“En as daar moeilikheid was, kon ’n mens maar met sekerheid geweet het dat Martiens en Helgard betrokke was.”

Ná 13 jaar en oor die 200 wedstryde in die beroemde wit trui van die Vrystaat, moet ’n paar hoogtepunte sekerlik vir Badenhorst uitstaan?

“Die uitdrukking is al holrug gery, maar elke wedstryd vir Vrystaat was spesiaal,” sê hy.

“As ek ’n seisoen moet uitsonder, was die klas van 1997 waarskynlik een van die beste spanne met wie ek te doen gehad het.

“Ons het in die Curriebeker-reeks vir die Blou Bulle houe gegee (57-27), vir die Haaie in die halfeindstryd in Durban pak gegee (40-22) en naelskraap die eindstryd teen die WP verloor (12-14).”

Vrystaat het in 1994 ook die Curriebeker-eindstryd gehaal, waarin hulle met 33-56 teen Transvaal die knie moes buig.

Badenhorst het daardie jaar ’n besonder indrukwekkende seisoen beleef. Hy het 11 drieë in 12 wedstryde aangeteken, en dit het twee weke ná die eindstryd gelei tot sy insluiting in die Springbokspan teen Argentinië.

Om die kroon te span, het Badenhorst sy Bok-debuut met ’n skitterende tweekuns gevier.

“Dit was ongelooflik. Ek was bevoorreg om in ’n uitstekende span te kon speel, en alles het eenvoudig reg verloop.

“My pa en ’n vriend van hom het van Namibië vir die geleentheid deurgery, en die vriend het so opgewonde geraak toe ek ’n drie druk dat hy byna van die paviljoen geval het!”

Meer oor:  Vrystaat  |  Springbok  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.