Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Albert Heenop gesels met Don Walton
Don Walton
Van voor na agter: Mof Myburgh, Don Walton, Gawie Carelse, Frik du Preez en Piet Greyling maak reg vir ’n lynstaan teen die 1969-Wallabies. Foto: Wessel Oosthuizen, Gallo Images

Vir ’n haker is selfs die druk van ’n drie ondergeskik aan die groot lekkerkry om ’n vaskop in die skrum op jou teenstander se skrum-ingooi te wen.

Dis waarvoor hakers lewe en waaroor hulle agterna op die rugbypaartie koer – nes David Kramer oor Blokkies Joubert se “haak daai bôl” sing.

Don Walton het in die Springboktrui in ’n toets teen Frankryk in 1964 ’n ongehoorde tien vaskoppe gewen!

Dit was die dag toe Walton in sy debuuttoets vir die Bokke sy Franse eweknie, Yves Menthillier, ’n das aangesit het in die kuns van hakerspel.

“Ja, ek het weliswaar 10 vasskoppe gehaak, maar ons het steeds die toets verloor (6-8),” merk Walton droogweg op oor sy prestasie van destyds.

Die Natalse haker van die Bokke kon egter veel meer doen as om vaskoppe by sy teenstanders te gaps. Hy was boonop vlugvoetig.

Dit was egter Walton se vermoë om vaskoppe blitsig te haak, wat hom op die radar van die Bok-keurders geplaas het.

In ’n Curriebeker-wedstryd vir Natal teen Wes-Transvaal in 1968 het Walton nie minder nie as 16 vaskoppe gehaak.

Sy rugbyloopbaan is ongelukkig op die Boktoer van 1969 op 30-jarige ouderdom kortgeknip, nadat hy ’n ingeduikte fraktuur van sy voorkop opgedoen het in die wedstryd teen Coventry.

Walton, wat op 5 April sy 82ste verjaarsdag sal vier, woon al die afgelope 15 jaar in ’n aftreeoord op die vreedsame kusdorpie Onrusrivier, naby Hermanus.

Hy het KwaZulu-Natal bykans 30 jaar gelede, ná ’n leeftyd in die mat- en eiendomsbedryf, verruil vir die Kaap, waar hy aanvanklik in Vishoek gebly het.

“Ek is sielsgelukkig in die Kaap, maar bly steeds ’n vurige ondersteuner van die Haaie,” erken Walton, wat van 1961 tot 1969 Natal 73 keer as haker verteenwoordig het.

Hy het tot onlangs nog gereeld rolbal en gholf gespeel, maar die ouderdom laat dit nie meer toe nie.

Don en Ann Walton.

Walton is in 1961 met Gillian getroud, maar sy is in 2012 oorlede. Walton het vyf jaar gelede weer getrou, met Ann, en hy het drie kinders en vier kleinkinders.

“Brent besit sy eie matonderneming in Stellenbosch, Garth is ’n makelaar vir Momentum in Hillcrest, KwaZulu-Natal, en Angie is ’n versorger van bejaardes in Kaapstad.”

Ondanks sy dekade lange verbintenis met die Kaap, is Donald Cameron Walton ’n gebore en getoë Nataller.

“As ’n jong knaap het ek en my broer feitlik elke oggend saam met ons pa gaan visvang op Umhlanga Rocks, en nooit met leë hande huis toe gegaan nie,” onthou hy.

“Ek was sowat 11 jaar oud toe ek die eerste keer begin rugby speel het by Northlands Primary School in Durban-Noord. Daarna is ek na Glenwood High School, waar my rugbyspelery waarlik posgevat het.”

Dié skool, wat aanvanklik as die Technical High School Durban bekend gestaan het, het sewe Springbokke opgelewer oor die afgelope 100 jaar (Wally Clarkson was die eerste in 1921), maar Walton was die skool se eerste Bok sedert die naamsverandering in Glenwood in 1934.

Interessant genoeg het ons elkeen R5 gekry ná ’n toets. Dit was darem genoeg om ’n paar biere te kon koop!

Sy toetsdebuut was teen Frank­ryk op die ou Pam Brink-stadion in Springs, op 25 Julie 1964 – ’n toets wat die Bokke 6-8 verloor het. Hy het nietemin sy plek in die span behou vir die volgende toets, teen Ierland op Lansdowne Road, Dublin, in 1965, en sou uiteindelik die Groen-en-goud agt keer in toetse oor die kop trek.

“Interessant genoeg het ons elkeen R5 gekry ná ’n toets. Dit was darem genoeg om ’n paar biere te kon koop!”

Hoewel Walton meen dat elke wedstryd vir Suid-Afrika ’n hoogtepunt was, was die uitstaande oomblik van sy toetsloopbaan ongetwyfeld die Bokke se dramatiese oorwinning van 19-16 oor die All Blacks op Lancaster Park, Christchurch in 1965.

Die vermaarde Kiwi-skrywer Terry McLean het Walton, wat vir die voormalige Bok-kaptein Abie Malan op die 1965-toer gelig het as toetshaker, bestempel as “een van die mees effektiewe hakers om Nieu-Seeland te besoek in 20 jaar”.

Hakers het eers teen 1969 die bal by lynstane begin ingooi – dit was aanvanklik die vleuels se taak – maar Walton was telkens verstom oor hoe hoog Frik du Preez kon spring.

“Frik was maar 1,88 m lank (die huidige Bok-losskakel Han­dré Pollard is langer op 1,89 m), maar hy het oor fenomenale veerkrag beskik en kon telkens slotte heelwat langer as hy uitoorlê in die lynstane,” sê Walton.

Hy het ook goeie herinneringe aan sy dae as speler by Glenwood Old Boys.

Glenwood het die gesogte Moorbeker drie jaar agtereenvolgens ingepalm (1967-’69), en ook die Murray-uitdaagtrofee voor die magtige Durban Collegians weggeraap in 1964, en weer van 1967 tot 1970. “Collegians was ons aartsvyande en kragmetings tussen dié twee klubs was altyd titanies,” onthou Walton.

“Frans de Beer was ons afrigter by Glenwood en het, benewens die legendariese Izak van Heerden by Natal, die grootste invloed op my loopbaan gehad. Ek en Frans het later jare ook boesemvriende geraak.”

Walton was ook later saam met Natal-legendes soos Rob Savage, Rod Gould en Keith Parkinson ’n Natalse keurder.

Meer oor:  Haker  |  Springbok  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.