Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rapport gesels met Dugald Macdonald

Dit verg moed om ’n boek te skryf oor die enigste rugbytoets waarin jy ooit gespeel het as daardie wedstryd ’n ramp vir die Springbokke was.

Dugald Macdonald
Die Bokke stap rustyd met hangskouers van die veld: Van links is Gerrie Germishuys (gedeeltelik sigbaar), Macdonald, Gerald Bosch, Dave Frederickson, Kevin de Klerk, Hannes Marais (kaptein) en Niek Bezuidenhout. Foto: Wessel Oosthuizen/Ja-Nee

Die voormalige agtsteman Dugald Macdonald skrik egter nie vir ’n uitdaging nie, al het die Bokke die rampspoedige tweede toets teen die Britse Leeus in 1974 met ’n rekordtelling van 9-28 verloor.

In die boek wat die afgelope week verskyn het, Ja-nee: The Story Beyond the Game, gebruik die belese Macdonald dié spesifieke toets, tesame met transkripsies van Gerhard Viviers en Kim Shippey se radiokommentaar oor die kragmeting, om die destydse realiteit van sowel rugby as die lewe in die Republiek in die kollig te plaas.

Die saadjie vir die boek is geplant toe Macdonald in ’n tweedehandsboekwinkel in Kalkbaaiop ’n ou uitgawe van Huisgenoot, wat ’n gedenkbylae van die 1974-reeks teen die Leeus bevat het, afgekom het.

“Die storie het van daar organies ontwikkel en begin met Viviers se openingsopmerking voor die toets,” vertel Macdonald.

Spiekeries het gesê: Hier vanmiddag, voor ’n skare van 65 000 mense, moet die Springbokke ’n keerpunt bring. As hulle vanmiddag hier verloor, dink ek, is dit die einde van hierdie reeks, indien nie die einde van Springbok-rugby nie. Dit is die belangrikste toets in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby.”

“Wel, daardie toets was inderdaad ’n totale ramp,” sê Macdonald.

“Dit was ’n halfdosyn van ons, myself ingesluit, se debuuttoets, terwyl nog vier spelers slegs een toets agter hul naam gehad het. Dit het beteken dat tien van die 15 spelers hopeloos onervare was en die druk, soos ek dit onthou, was haas onhoudbaar.

“Nou, meer as 45 jaar later, het ek hierdie boek as ondersoek geloods, ’n ondersoek na één wedstryd.

“Ek probeer allerlei vrae wat daaruit ontstaan het beantwoord, soos hoekom Viviers daardie toets bestempel het as die belangrikste in die geskiedenis.

“Wat het die keurders aangevang? Wat het met ons as ’n Bokspan gebeur?

“Dan, natuurlik, die ongemaklikste vraag van almal: Wat het met my gebeur? Ná ’n leeftyd van droom om eendag die gesogte Groen-en-goud oor my kop te trek . . .

Dugald Macdonald met sy terugskouende boek.

“Voorts stel die boek ook ondersoek in na die sosiopolitieke uitwerking wat daardie Leeu-toer, midde-in die apartheidsera, gehad het. Basies probeer ek, 45 jaar later, sin maak van ’n klomp dinge.

“Dit was ’n pynlike proses om ’n klomp onsmaaklikhede uit die verlede op te diep. Ek het nietemin ook genot daaruit geput om te skryf oor die bewondering wat ek as kind gehad het vir die Bok-embleem, vir die trui.”

Hoewel hy op 20 Januarie 1950 in Mariannhill, Pinetown in KwaZulu-Natal, gebore is, is Macdonald ’n Kapenaar. Dit was ook waar sy Springbok-droom in die laat vyftigs gestalte gekry het.

“Ek besit ook ’n plaas in die Koue Bokkeveld, en is die enigste boer in die omgewing wat nie Afrikaanssprekend is nie,” sê hy.

“Ek is egter nie ’n boer in die ware sin van die woord nie, en is bloot mede-eienaar van ’n appelplaas by Agter-Witzenburg.”

Macdonald is al bykans 40 jaar getroud met Marguerite, en hulle het twee seuns, Dugald jr. en Alexander, wat al twee in Brittanje woon en vir Oxford uitgedraf het.

Dit was vanuit die Universiteit van Kaapstad dat Macdonald van 1972 tot 1975 vir Westelike Provinsie uitgedraf het.

“Ek maak heelwat melding van Nuweland in die boek en dit was veel meer as ’n betonkonstruksie. Vir ons, wat basies daar op die skoolbanke grootgeword het, was dit ’n plek met ’n hartklop.

“Dit was altyd opwindend om Nuweland toe te gaan, die streeptrui aan te trek en op die veld te draf.”

In 1975, ná die teleurstelling van 1974, het die reisgogga vir Macdonald gebyt en het hy sy tasse gepak en koers gekies terug Italië toe, waar hy vroeër twee seisoene in Parma deurgebring het.

“Italië het ’n reuse-impak op my lewe gehad,” vertel Macdonald, wat vlot Italiaans praat.

“Dit was uiteindelik danksy fantastiese vriendskapsbande wat ek in Parma opgebou het dat ek ongeveer 40 jaar lank die Suid-Afrikaanse agent was vir Simonazzi, wat volledige produksielyne vervaardig vir brouerye en koeldrankfabrieke.”

Dugald Macdonald
Die Leeus se agtsteman, Mervyn Davies, raap die bal weg by Macdonald. Foto: Argief

Daarna het Macdonald die Oxford Blues vir twee agtereenvolgende seisoene verteenwoordig, saam met sy broer, Donald Macdonald, wat in sewe toetse (1977-78) vir Skotland gespeel het.

Nadat hy ook die Blues aangevoer het, het Dugald gedurende die laat sewentigs in Toulouse, Frankryk, geëindig, waar hy die klub se lostrio voltooi het saam met twee van die grootste legendes in Franse rugby, Jean-Pierre Rives en Jean-Claude Skrela.

“Rives was die toonbeeld van wat elke Fransman wou wees: aantreklik, intelligent en met ’n horde mooi meisies agter hom aan,” onthou Macdonald.

“Dit het natuurlik ook ’n nadeel gehad omdat elke opponent Rives se kop inmekaar wou skop. Daardie was die era toe rugby in Frankryk uiters gewelddadig was.”

Nadat sy rugbydae iets van die verlede was, het Macdonald – wat nou 71 is, maar steeds gereeld branderplank ry – ander aktiwiteite uitgesoek om sy avontuurlus te stil.

Soos toe hy en ’n makker in 2001 ’n volle 5 000 km oor die Atlantiese Oseaan geroei het. Of toe hy vier jaar later ’n tog na die magnetiese noordpool aangepak het.

“Ek is egter nie ’n professionele avonturier nie, bloot ’n avontuurlustige amateur,” sê hy.

“Tydens ’n Ikeys-toer na Rhodesië in 1970 het ek ’n boek gelees van Tom McClean, wat die eerste mens was om alleen oor die Atlantiese Oseaan te roei.

“My goeie vriend Dave Mitchell en ek het laat een aand, nadat ons meer as die normale kwota bier ingehad het, ’n dronkmansbelofte afgelê om eendag saam oor die Atlantiese Oseaan te roei.

“Ons het dit Plan-X gedoop, maar niemand daarvan vertel nie.

“Jare het verloop en Dave het uiteindelik na Australië geëmigreer. Hy sou my van tyd tot tyd in die middel van die nag bel en vra: ‘Wat het geword van Plan-X?’

“Familie- en werksverpligtinge het egter die neiging om bepaalde drome te laat vervaag.

“Dit was totdat ek, meer as 30 jaar later, ’n artikel raakgelees het oor ’n Trans-Atlantiese roei-wedvaart, sonder bystand, van 5 000 km van Tenerife na Barbados.

“Ek het op die ingewing van die oomblik ingeskryf en ook vir Dave gebel: ‘Plan-X? Is jy gereed?’ ”

Die tog het twee jaar geneem om te beplan en 76 dae geduur.

“My blywende herinnering van daardie ervaring was om dae en nagte aaneen in die middel van nêrens te wees. Dieselfde geld die tog van 400 km tot by die magnetiese noordpool.

“Dit was selfs gevaarliker aangesien ’n mens in die Poolsirkel met temperature van -45 °C te doen kry.

“Al twee ekspedisies het die adrenalien weer laat vloei soos destyds in die kleedkamer . . .”

Meer oor:  Boek  |  Springbok  |  Toets  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.