Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Albert Heenop gesels met Jackie Snyman

Die twyfelagtige eer as Suid-Afrika se top-puntemaker in die rampspoedige reeks teen die Britse en Ierse Leeus in 1974 is nie juis iets waarop Jackie Snyman hom roem nie.

Jackie Snyman vir die Vrystaat teen Transvaal in aksie. Foto: Argief

Hy het ses strafdoele aangeteken in die laaste twee toetse van daardie nagmerrie-nederlaag van 0-3 in die reeks van vier toetse vir ’n totaal van 18 punte, en het ook al Vrystaat se punte aangeteken in hul naelskraapse nederlaag van 9-11 teen die einste Leeus.

Die prestasies het ook nie Snyman, wat saam met kleinboet Dawie in die tweede toets teen die Britte gespeel het, se misnoeë oor sekere aspekte van daardie Leeu-toer versag nie.

“Die Leeus van 1974 was ’n merkwaardige span wat oor fenomenale talent beskik het,” sê hy.

“Hul wedstryd teen Vrystaat het vir my egter ’n ander kant van die muntstuk uitgelig.

“Daardie Leeus was geniepsig, en dit het by tye gegrens aan ontoelaatbare spel.”

Die losskakel Snyman het vroeg-vroeg met ’n strafdoel geslaag vir Vrystaat om met 3-0 voor te loop, toe daar kort voor rustyd ’n vyf-treë-skrum aan die Leeus toegeken was.

“Toe Mervyn Davies (agtsteman) agter opgetel en om die steelkant dryf, het hul flank Roger Uttley vir Harold Verster vasgehou en hom só verhoed om te kan verdedig. Ek (1,77 m, 77 kg) was dus die enigste verdediger en het nie ’n kat se kans gehad om Davies (1,93 m, 93 kg), met Gareth Edwards aan sy sy te keer nie.

“In die tweede helfte het Vrystaat die bal na Buddy Swartz op vleuel uitgekry. Buddy het oor ’n geweldige goeie aftrap beskik, en ek het geweet hy sou sy opponent aan die binnekant klop en my dan in ’n gaping kon plaas.

“Ian McGeechan, wat later die Leeus ook met welslae sou afrig, het my, sonder die bal, aan die trui beetgekry en teruggehou.

“Dis maar twee voorvalle wat bewys hoe die Leeus voorafbeplande obstruksie gepleeg het.

“En, dan was die geluk ook gereeld aan hul kant.

“Vrystaat se agtsteman, Kleintjie Grobler, het byvoorbeeld oorgedryf in die tweede helfte, maar die skeidsregter het beslis dat hy die bal kort gedruk het. Toe Kleintjie egter van die grond af opstaan, het die bal in die doelgebied gelê.

“Die mees skreiende voorbeeld van hoe gelukkig die Leeus by tye was, is toe die Springbok­vleuel Chris Pope in die vierde toets ’n losbal wat oor die doellyn gespat het, dooddruk. Toe hy besig was om op te staan, het Uttley egter daarop geduik en is die drie aan die Leeus toegeken.”

Jackie en Ida Snyman saam met hul kinders en kleinkinders. Links is Dawie en Minnane en regs George en Marilie. Voor is sy kleindogters Dayni en Hannah en in die middel sy kleinseun Markos.

Bogenoemde is insiggewende waarnemings oor die veelbesproke Leeu-toer van 1974, maar beslis nie dinge waaroor Snyman hom sit en verknies waar hy en Ida, met wie hy reeds 49 jaar getroud is, deesdae uitspan op Somerset-Wes nie.

“Ida is baie lief vir die Kaap en aangesien albei ons kinders in Stellenbosch woon, was die plan nog altyd om hier af te tree.”

Hul dogter, Marilie, is ’n verkoops- en bemarkingsbestuurder by die La Bri-wynlandgoed buite Franschhoek, terwyl Dawie natuurlik tans hulpafrigter van die Stormers is.

“Ons het ook drie kleinkinders wat my goed besig hou, en dis wonderlik.”

Hy is op 14 April 1948 in Johannesburg gebore, maar het saam met broers Jan en Dawie, asook kleinsus Marie-Louise, hul kleinkindjare deurgebring op Kroonstad, waar hul predikant-pa, Dawie, in die bediening gestaan het.

Balle is omtrent al wat betrokke was.

Uit die aard van die saak was daar baie balle betrokke in die pastoriekinders se lewe.

“Balle is omtrent al wat betrokke was,” lag Snyman.

Rugby was egter nie al sport wat die Snymans beoefen het nie. Ook atletiek, swem en tennis het – veral nadat hulle hul hoërskoolloopbane by Grey-kollege in Bloemfontein voortgesit het – heelwat tyd in beslag geneem.

Dawie Snyman, wat die Springbokke met onderskeiding in 10 toetse (1972-77) sou verteenwoordig, het Vrystaat-skole in tennis verteenwoordig en die halfeindstryd in die enkelspel van die SA Kampioenskappe gehaal.

Jackie het op sy beurt Vrystaat-kleure in atletiek verwerf.

Interessant genoeg was hy slegs die 11de Springbok-rugbyspeler van Grey, wat nou reeds 46 Bokke opgelewer het.

“Rugby het eers ’n groot fokus by Grey geword nadat ek, Dawie en Morné du Plessis daardeur is, en veral nadat top-afrigters soos Stoney Steenkamp en Lappies Labuschagne op die voorgrond getree het,” vertel hy.

“Daarna het legendariese spelers soos Jaco Reinach, Helgard en Pieter Müller, asook Ruben Kruger deurgekom.”

Ek het saam met Andy van der Watt en Gert Muller naellope geoefen, aangesien ons van mening was dat spoed belangrik was vir rugby.

Ná Grey is Snyman Maties toe om LO te studeer, en hoewel hy steeds aan atletiek deelgeneem het, en selfs WP-kleure verwerf het, het rugby allesoorheersend geraak.

“Ek het saam met Andy van der Watt en Gert Muller naellope geoefen, aangesien ons van mening was dat spoed belangrik was vir rugby.

“Dit was totdat Dok (Craven) in ’n stadium gesnou het: ‘Ek is nou gatvol vir die atlete wat eers in April by rugby opdaag!’ ”

Snyman het teruggekeer Bloemfontein toe om as LO-onderwyser by Grey te begin skoolhou, en dit was in dié tydperk (1972-74) dat hy 32 keer vir Vrystaat uitgedraf het.

In 1975, het hy ’n pos as rugby administrateur by Tuks aanvaar, en ook vier keer vir die Ligbloues uitgedraf voordat hy sy stewels opgehang het.

“Hoewel my posbeskrywing nie gekoppel was aan afrigting nie, het die destydse Tuks-afrigter dr. Ernst Dinkelmann, en later dr. John Williams, my van tyd tot tyd gevra om te help met die agterlyn,” vertel Snyman, wat in 1979 vir ’n paar maande ingestaan het as eerstespan-afrigter.

“Tuks het ’n uitstekende span gehad in daardie laat jare sewentig, met Wynand Claassen wat ’n sterk leier was.

“Ek het dit ook terdeë geniet om met talentvolle agterspelers soos Tjokkie van der Merwe, Christo Wagenaar, Pierre Edwards, Tommy du Plessis en die Seeligar-broers te werk. Naas Botha was aanvanklik nog o.20.”

Meer oor:  Vrystaat  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.