Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Albert Heenop gesels met Johan de Bruyn

Die voormalige Springbok-slot Johan de Bruyn onthou die “skietstilstand” op die veld tussen die Bokke en die Leeus nog goed wat gegeld het elke keer as sy kunsoog uitgeval het.

“Die hardste wedstryd van my lewe.” Johan de Bruyn (links) en sy groot maat Kleintjie Grobler sit ’n losbal agterna in die klipharde stryd tussen die Vrystaat en die Britse en Ierse Leeus in 1974. Foto: Argief

Die “Kolossus” van Skotse rugby, Gordon Brown, het só aan The Daily Telegraph vertel nadat dit tydens ’n vuisgeveg in die derde toets in 1974 gebeur het:

“Daar was ons, al 30 spelers, asook die skeidsregter, op ons hande en knieë besig om in die modder rond te ploeter op soek na daardie glasoog.

“Toe die oog uiteindelik opduik, het De Bruyn dit eenvoudig gegryp en teruggedruk in die gapende holte in sy gesig.

“Toe hy regop kom, kon ek nie glo waarna ek staar nie . . . Daar was ’n lang grashalm wat by sy oogbal uitgesteek het.”

De Bruyn self onthou dié voorval goed, vanaf sy beesplaas Palmietfontein, skuins buite Reivilo in Noordwes – waar hy 72 jaar gelede gebore is.

“Ja, ek en Brown het ’n bietjie geboks, maar toe die oog uitval, het almal vasgesteek om eers daarna te soek,” vertel hy.

“Ná ’n minuut of wat het Brown die oog opgetel en gevra: ‘Is it yours?’

“Uit pure verergdheid het ek hom ’n lelike ding toegesnou en die oog met gras en al teruggesit.

“Jare later, toe Brown met bloedkanker gediagnoseer is, het ek ’n mooi blok uit olienhout gemaak, die glasoog daarop gemonteer met die byskrif ‘From Johan to Gordon’ en dit vir hom in Skotland geneem om te help met die geldinsameling vir sy mediese onkoste.

“Dis die vriendskap van rugby.”

Ja, ek en Brown het ’n bietjie geboks, maar toe die oog uitval, het almal vasgesteek om eers daarna te soek.

Vier maande ná die woeste 1974-kragmeting met die Leeus, De Bruyn se enigste toetswedstryd, was daar ’n soortgelyke oogvoorval in die Springbokke se toerwedstryd teen Sentraal-Frankryk in Clermont-Ferrand.

“Daar het die oog ordentlik uitgeval en het ons ’n bietjie sports met die Franse gehad,” onthou De Bruyn.

“Hulle slot, Michel Palmié, wou my uit die pad hardloop met sy skouer, maar ek het ’n bietjie gestoei as kind en het hom met die voorarm bygekom. Dit het op ’n boksery uitgeloop en toe val die oog weer uit.

“Ek het daarna, in die hitte van die stryd, op hul skrumskakel, Richard Astre, afgestorm. Hy het my gesig net een kyk gegee en die hasepad gekies.

“Toe hy uiteindelik tussen die agterspelers tot stilstand kom, het Astre met ’n bleekgeskrikte gesig angstig na my oog beduie. Hy het nie besef dis ’n kunsoog wat uitgeval het nie.

“Daarmee het die bakleiery ook bedaar, maar ek sal nooit vergeet hoe Polla Fourie daar gestaan het met drie Franse wat uitgestrek gelê het rondom hom nie.”

De Bruyn het sy regte oog verloor as kind in gr. 2 op Reivilo toe ’n ander seun hom met ’n kweper gegooi het.

“Daai kwepers is so hard soos klip.

“Dit het my gepla – veral aan die begin. Ek het egter lank reeds vrede gemaak daarmee, en het hier op die plaas die oog permanent uitgehaal omdat daar te veel stof inkom.

“Mense moet my maar so aanvaar.”

Die plaas, wat deur sy oupagrootjie ná die Boereoorlog gekoop is en waarop De Bruyn deesdae met Simbras boer, grens aan die plaas waarop Piet Visagie grootgeword het.

“Piet is vyf jaar ouer as ek en was een van my helde.

De Bruyn en sy dogter Alet.

“My ma wou egter nie gehad het dat ek moes rugby speel nie, omdat mense seerkry.

“Maar nadat ek in ’n stadium, in st. 5, uit protes daaroor van die huis af weggeloop het, het my oupa vir haar gesê: ‘Jy moet hom los, laat hy speel.’ ”

De Bruyn is in st. 8 (gr. 10) na Wolmaransstad Hoër Tegniese Skool, waar sy rugbyspelery op dreef gekom het.

“Daar was oor die 700 seuns en die jaar toe ons die Administrateursbeker gewen het, was die gemiddelde gewig van ons pak voorspelers 216 pond (98 kg).

“Die twee eerstespan-slotte, wat al twee van Schweizer-Reneke gekom het, was onderskeidelik ses voet vier en ses voet drie lank.

“Ek het eers heelagter gespeel – ek was nogal redelik op die 100 treë – maar het mettertyd flank, agtsteman en slot begin speel.”

Ná skool het De Bruyn sy vakleerlingskap afgelê by die destydse Provinsiale Administrasie van die Vrystaat in Bloemfontein. Daar het hy eers vir Schoemanspark klubrugby gespeel, maar later by Polisie ingeval, waar hy Vrystaat o.21 en Vrystaat B gehaal het.

Hy het uiteindelik in 1970 sy buiging vir die Blikore gemaak – sy eerste van 40 wedstryde in die geliefde wit trui.

De Bruyn was in 1974 lid van die Vrystaatspan wat, ná ’n bloedige stryd teen die Britse en Ierse Leeus, naelskraap met 9-11 die knie moes buig.

Dit was die hardste wedstryd van my lewe.

“Ek het ’n rugbykamer hier op die plaas met ’n klomp foto’s op die mure, maar die foto van daardie wedstryd hang spesiaal eenkant,” sê hy.

“Dit was die hardste wedstryd van my lewe.

“Om Suid-Afrika vier weke later teen die Leeus te kon verteenwoordig, was uiteraard ’n hoogtepunt, maar vir my staan die Vrystaat-wedstryd uit omdat ons as ’n span mekaar baie beter geken en vir mekaar gespeel het.

“So het ek en Kleintjie Grobler byvoorbeeld ’n uiters goeie verstandhouding gehad en na mekaar omgesien op die veld.

“As hy gewaar het dat ’n ou my van die kant af met die knie wou loop, sou Kleintjie hom uitgehaal het, en ek sou dieselfde vir hom doen.

“Die ander persoon wat in my lewe uitgetroon het, was oom Nelie Smith.

“Hy was ’n ongelooflik dinamiese mens en myns insiens was daar niemand in die wêreld wat naby hom kon kom as afrigter nie.”

’n Paar jaar voor die Leeu-toer van 1974, het De Bruyn en sy destydse vrou ’n groot tragedie beleef toe hul seuntjie op 16 maande oorlede is aan gastro-enteritis.

Hy het ’n dogter, Alet (41), wat in Bloemfontein woon.

Wat sy eie gesondheid betref, gaan dit relatief goed met Johan de Bruyn – benewens ’n paar groot operasies drie jaar gelede.

“Ek spot altyd dat ek ’n dokter se droom is; waar ek ook al loop, is daar geld op pad vir hospitale!

“Die gesondheid is nie altyd soos ’n mens dit wil hê nie.

“Die rug en die knieë is nie meer so lekker nie, en rugby het seker daartoe bygedra.

“Maar dit wat ek kry is verniet, so ek kla nie.”

Meer oor:  Loopbaan  |  Slot  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.