Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Albert Heenop gesels met Mike Lawless

Dis te betwyfel of enige Springbok-rugbyspeler ooit meer vooroordeel, of kritiek, tydens sy loopbaan moes verduur as Mike Lawless.

Mike Lawless was ’n WP-staatmaker in die 1960’s. Foto’s: Argief

Toe Lawless 57 jaar gelede, as ’n jong, nuwe Springbok by die Pam Brink-stadion in Springs van die spanbus afgeklim het vir sy toetsdebuut teen Frankryk, het ’n ontstoke ondersteuner hom luidkeels toegesnou: “Is jy Lawless, Wyness (met verwysing na Wang Wyness, wat daardie dag nie eens in die span was nie) of net dônners hopeless!”

Soos die noodlot dit wou hê, het Suid-Afrika ’n vernederende loesing by die Hane gekry, en te oordeel aan die snydende kritiek waaronder Lawless en kie moes deurloop, was sy toetsloopbaan aan skerwe voordat dit aan die gang kon kom.

Hierdie blondekop-boorling van die Kaap het egter oor meer durf en deursettingsvermoë beskik as wat sy kritici sou toegee.

“Kritiek was eenvoudig iets waaraan ek gewoond moes raak, waarmee ek moes saamleef,” sê Lawless (78).

“Dit was moeilik, en dit kraak ’n mens af. Op die een of ander manier het ek dit te bowe gekom.”

Soveel so dat hy vyf jaar later homself teruggespeel het in die Springbok-toerspan wat aan die einde van 1969 Brittanje toe gereis het en onder moeilike omstandighede hom puik van sy taak gekwyt het.

Die lewe ná rugby het sy eie uitdagings gebied, en Lawless se moed verder op die proef gestel.

Sy wederhelfte van die afgelope 54 jaar, Athelie, is vier jaar gelede met eierstokkanker gediag­noseer.

“Dit was taai tye. Boonop het sy twee jaar gelede ’n beroerte gehad wat haar linkerkant erg verswak het, so ek is deesdae ’n voltydse versorger.

“Om die waarheid te sê, my oudste seun, Grant, wat hier in Johannesburg woon, betaal my om na my vrou om te sien,” skerts hy.

Lawless-hulle het ongeveer agt jaar gelede teruggetrek Midrand toe om nader aan die kinders en kleinkinders te wees, nadat hulle in die middel 90’s, ná 30 jaar op die Rand, groener weivelde gesoek het op Pennington aan KwaZulu-Natal se Suidkus, en Witrivier in die hartjie van die Laeveld.

Mike Lawless en sy vrou, Athelie.

Eersdaags verhuis hulle terug Kaap toe, om op Hermanus te gaan uitspan.

Benewens Grant, wat Suid-Afrika in raakrugby verteenwoordig het, het Lawless twee ander seuns. Die jongste, Greg, is die afgelope vyf jaar in Denver, Colorado, terwyl die middelste, Gavin, reeds die laaste 21 jaar in Australië woon.

Gavin Lawless het in die jare 90 natuurlik self roem op die rugbyveld verwerf, eers vir Transvaal, vir wie hy in 1996 die toppuntemaker was, en toe vir die Natalse Haaie, vir wie hy in 1997 ’n Super 12-rekord van 50 punte teen die Otago Highlanders aangeteken het, wat vier drieë ingesluit het.

“Ek en Athelie het spesiaal van Johannesburg gereis om die wedstryd by te woon en was stomgeslaan met Gavin se ongelooflike vertoning,” vertel Lawless.

“Hy het van jongs af baie tyd aan sy skopwerk pale toe bestee.

“Ek het hom menige middag ná skool vergesel na ’n nabygeleë rugbyveld in Bryanston om sy skoppe te oefen.

“Ek self was nooit ’n wafferse stelskopper nie, en het maar net die balle vir hom teruggeskop.”

Lawless sr. was nietemin op sy dag ’n uiters balvaardige speler. Hy was, ná slegs ’n enkele wedstryd vir WP in 1962, op 19-jarige ouderdom gekies om vir die Ju­nior Springbokke teen die Britse & Ierse Leeus te speel.

“Dit was ook ongelooflik. Ek weet nie wat die keurders in my gesien het nie. Dit was eintlik belaglik, aangesien ek hoegenaamd geen ervaring op daai vlak gehad het nie.”

Lawless tydens die toets teen Ierland in Dublin in 1969. Links agter is Fergus Slattery en regs Mike Gibson.

Teen 1964 was Lawless reeds ’n integrale skakel in die WP-span wat daardie jaar nie net die Curriebeker gewen het nie, maar ook met Michel Crauste se besoekende Franse toerspan op Nuweland afgereken het.

“Ek sal dit nooit vergeet nie, aangesien ek ’n aandeel in altwee ons drieë gehad het.

“Eers het ek ’n skop van die Hane se losskakel, Pierre Albaladejo, afgestorm vir Dave Stewart om die bal toe te val vir ’n drie. Daarna het ek deur ’n gaping gebreek en uitgegee vir Dave, wat vir Jannie Engelbrecht weggestuur het vir ons tweede drie.”

Die nasionale keurders het kennis geneem, en Lawless was teen alle verwagtinge in as losskakel ingespan vir die Springbokke se rampspoedige toets teen Frankryk op Pam Brink.

Op die vraag wat hy van sy Springbok-vuurdoop onthou, antwoord Lawless: “Die kritiek – voor en ná die toets . . . Persoonlik dink ek nie dat ek té power gevaar het nie, maar daar was reeds hope kritiek oor my insluiting in die Bok-span, selfs lank voordat ons op die veld uitgedraf het.

“Buitendien het ek en Nelie Smith (skrumskakel) nooit voorheen saamgespeel nie, en om as ’n skakelpaar by mekaar aanklank te vind, gebeur nie oornag nie.

“Op papier was daardie nogal ’n indrukwekkende Bok-span, met groot name soos Engelbrecht, John Gainsford, Doug Hopwood en Frik du Preez in ons geledere, maar as ’n eenheid wou dinge eenvoudig nie vlot nie.”

Kritiek was eenvoudig iets waaraan ek gewoond moes raak, waarmee ek moes saamleef.

Lawless het hom nie laat onderkry deur sy teleurstellende toetsbuiging of die gevolglike storm wat om sy en van die ander Bokke se koppe losgebars het nie.

Hy het voortgegaan om, op sowel losskakel as senter, staatmakerspel vir WP te lewer oor die volgende vyf seisoene. Hoewel Frik du Preez se “drop, place en score” die Kapenaars se doppie geklink het in die Curriebeker-eindstryd van 1969, was Lawless se naam een van die 30 wat daardie aand uitgelees is om saam met die Springbokke na Brittanje te toer.

“Ek was verstom. Veral omdat ek ten koste van Jannie Barnard, wat in 1969 vir WP losskakel gespeel het, gekies is.

“My insluiting was, soos gewoonlik, ’n verrassing en het heelwat kritiek uitgelok.”

Lawless was wel nie Suid-Afrika se eerstekeuse-losskakel nie, met Piet Visagie wat met die nr. 10-trui toevertrou is vir die eerste toets teen Skotland.

Die gevolglike nederlaag teen die Skotte, sowel as Lawless se puik vertoning in die toerwedstryd teen Cardiff, het egter daartoe gelei dat hy vir die laaste twee toetse, teen Ierland en Wallis, wat altwee gelykop geëindig het, bó Visagie gekies is.

Wallace Reyburn het in sy boek There was Also Some Rugby: The Sixth Springboks in Britain só oor Lawless geskryf: “Die eenvoudige rede waarom die Springbok-agterlyn soos ’n goed geoliede masjien, in hoogste rat, teen Cardiff gefunksioneer het, was die skakeling van Mike Lawless. Hy het toeskouers daardie wonderlike gevoel gegee dat konstruktiewe spel sou volg elke slag wanneer sy skrumskakel ’n goeie bal na hom toe uitgeskiet het.”

Lawless self is van mening dat hy bloot beter aangepas het by die moeilike speeltoestande.

“Dit was deurentyd nat, en dis waarskynlik hoekom Piet nie so goed gevaar het in Brittanje nie. Hy was nie gemaklik op die sagte, modderige velde nie, en namate dit sy spesifieke speelstyl beïnvloed het, het dit sy selfvertroue ook ’n knou toegedien.

“Ek was maar net gelukkig. Hoe lui die gesegde: Die een se dood is die ander se brood,” sê Lawless.

Meer oor:  Loopbaan  |  Kritiek  |  Wp  |  Springbok  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.