Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ons gesels met Tjokkie van der Merwe
Tjokkie van der Merwe
Tjokkie van der Merwe druk ’n drie in 1980 teen die Britse en Ierse Leeus op Loftus. Foto: Argiewe

Dinamiet kom in klein pakkies.

Dié ou rugbygeloof pas Tjokkie van der Merwe soos ’n handskoen.

Vergeleke met hedendaagse makro-senters het Van der Merwe in sy speeldae vir die Tukkies en die Blou Bulle maar ’n “skraal” 74 kg geweeg en was met ’n lengte van 1,65 m ook maar ’n buks.

“Selfs Buurman van Zyl het geglo dat ’n ‘goeie groot speler’ beter is as ’n ‘goeie klein speler’,” sê Van der Merwe uit Gillitts in KwaZulu-Natal, waar hy ’n onderneming bedryf met die naam Old School Apparel, wat spesialiseer in replika-rugbytruie.

“Ek het met die Bulle gesels oor die moontlikheid om replika-weergawes van die ou Noord-Transvaal-trui te vervaardig, en van daar het dit uitgebrei na tradisionele rugbyskole.

“Ouens is mal daaroor om dié truie te dra of in kroeë te hang.”

Van der Merwe (67) en sy wederhelfte van 43 jaar, Jeanne, ’n bourekenaar, is terug in KwaZulu-Natal, om nader aan hul twee seuns te wees.

“Burger (40) is ’n biokinetikus en lei die mediese span by die Maritzburg United-sokkerklub. Stefan (36) het ook biokinetika gestudeer, en hy en sy vrou, Jenna, het twee Pilates-ateljees in Durban.”

Van der Merwe is op 26 September 1953, tydens ’n naweekkuier aan sy oupa se plaas naby Soekmekaar gebore.

“My doopnaam was Gerhardus, maar my ma het my ‘Tjokker’ genoem, om vanselfsprekende redes.”

Van der Merwe se pa, wat in die bankwese was, is toe van Pietersburg af verplaas na Bethlehem, toe Pretoria en uiteindelik Bloemfontein.

“Ons het nefies gehad wat op Grey Kollege was, en het sat geraak vir dié ouens wat so windgat was,” onthou hy.

“Toe ons egter self in Bloem land, was Grey die naaste skool.

“Ek was in Steve Strydom se st. 5-klas toe die rugbyseisoen reeds aan die gang was en net voor die Vrystaatse laerskool-proewe. Stefan Klopper moes onttrek en Steve het my in sy plek proewe toe gestuur.

“Ek het die Vrystaatspan op senter gehaal – deur die spreekwoordelike agterdeur – dit, nog voordat ek vir Grey gespeel het.

“Op hoërskool het ek egter nooit A-span gespeel nie, weer aangesien ek so klein was. Dit was tot st. 9, toe Stoney Steenkamp my uit die Cherries opgetrek het eerste span toe as skrumskakel, omdat Tokkie Klopper te groot geraak het en flank toe moes skuif.

“Ek het in matriek ook Vrystaat-skole as skrummie gehaal, maar intussen het Stoney my losskakel toe geskuif.”

Tjokkie van der Merwe
Agter van links is Burger, Tjokkie, Jeanne en Stefan. Voor is Kerry, Hayden, Joshua en Jenna. Foto: Verskaf
Tjokkie en sy kleinkinders.

Twee van sy broers, Johan en André, het ook vir Grey se eerstes uitgedraf en Vrystaat-skole gehaal, terwyl ouboet Willem aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd gematrikuleer het, en Verre Noord later verteenwoordig het.

Ná skool het Van der Merwe ’n draai in die vloot gemaak op Saldanhabaai.

“Dit was my eerste blootstelling aan klubrugby, aangesien ons teen Moorreesburg, Paternoster en Vredenburg – ’n regte klomp tawwe ouens – moes speel.”

Van der Merwe se klein postuur het aanvanklik weer teen hom getel toe hy in 1973 B.Com aan Tuks begin studeer het.

“In my tweede jaar het ek vir die Fezelas gespeel, toe ek uiteindelik weens beserings opgetrek is na die eerste span.

“My debuut was teen Gevangenis, en ná ons eerste drie het Wynand Claassen (kaptein) die bal vir my gegooi – die doelskop was mos die losskakel se joppie.

“Ek het egter nog nooit voorheen pale toe geskop nie, maar kon darem ’n paar oorsit.

“Ek was bevoorreg om vir Tuks te kon speel, want dit het my uiteindelik onder die aandag van die Noord-Transvaal-keurders gebring.”

Van der Merwe se vuurdoop in die ligblou trui was teen Wes-Transvaal.

Tjokkie van der Merwe
Van der Merwe het in sy speeldae vir die Tukkies en die Blou Bulle maar 74 kg geweeg en was met ’n lengte van 1,65 m ook maar ’n buks.

“Ek het LM Rossouw, wat beseer was, vervang,” onthou hy. “Ek het oukei gespeel, maar LM het herstel en teruggekeer vir die tweede wedstryd, teen Suidoos-Transvaal, net om weer ’n besering op te doen. Dus was ek weer ingesluit vir ’n groot kragmeting met Transvaal.

“Dit was ook Naas Botha, toe maar skaars 19, se tweede wedstryd, en ek onthou hoe die laaitie vooraf in die kleedkamer eenkant gesit het; hy het nie ’n sweempie senuwees getoon nie, opgedraf en doodluiters gespeel asof dit sy 100ste wedstryd was.

“Almal het besef hier’s iets spesiaals.”

Botha het in die Curriebeker-eindstryd van 1977, teen Vrystaat, met drie doelskoppe, twee strafdoele en ’n skepdoel geslaag in die ligbloues se oorwinning van 27-12, maar Van der Merwe was weer uit die span gelaat – oor sy gebrek aan grootte.

“Ek was nie eens op die bank nie . . .

“In 1978 het ek gewonder wie hulle gaan kies, maar ek het toe die span vir die finaal, weer teen Vrystaat, gemaak.”

Vrystaat is met 13-9 geklop, en Van der Merwe het homself gevestig as Christo Wagenaar se gereelde sentermaat. Die kranige buksie sou in die daaropvolgende twee eindstryde uitsonderlike spel lewer.

“In 1979 het ons met 15-15 gelykop gespeel teen WP, maar in 1980 vir hulle ’n groot pak slae (39-9) gegee.”

Van der Merwe het ook gesorg vir ’n paar omstrede, maar onvergeetlike oomblikke in die aanloop tot daardie eindstryd.

“In ’n deurslaggewende kragmeting met Vrystaat in 1979 het Noord-Transvaal ’n losbal deurgeskop oor die doellyn. Ek en Barry Wolmarans was in ’n tweestryd gewikkel om die bal eerste te bereik en het gelyktydig daarop geduik.

“Die drie is toegeken, maar volgens Vrystaat het Barry eerste hand bygekry.

“ ’n Jaar later het ons weer teen Vrystaat gespeel in ’n moet-wen-wedstryd.

“In ’n losskrum het my kop onder stewels beland en daar was oral bloed.

Ek het met ’n rol verbande om my kop aanhou speel en uiteindelik die wendrie gedruk.

“Buurman het egter daarop aangedring dat ek aanhou speel, en nadat ek ’n paar steke gekry het, het ek met ’n rol verbande om my kop aanhou speel en uiteindelik die wendrie gedruk.”

In 1980 het Van der Merwe ook Noord-Transvaal se enigste drie gedruk in hul nederlaag van 9-16 teen die Britse & Ierse Leeus, wat mense se siening versterk het dat hy eintlik in die Bokspan moet gewees het.

“Die drie teen die Leeus was ’n hoogtepunt, hoewel Ray Gravell vroeër in die wedstryd bo-oor my gehardloop het – soveel so dat ek selfs my kontaklens in die proses verloor het. Dit sou weer die kritici wat gereken het dat ek te klein was, se koppe betekenisvol laat knik het.”

In 1982 het Van der Merwe Durban toe verhuis waar hy nege keer vir Natal uitgedraf het.

“Wynand het my oortuig om die skuif te maak,” vertel hy.

“Hoewel ek jare lange vriende, soos Jock Seeliger en Tommy du Plessis, in Pretoria agtergelaat het, het ek hope nuwe pelle gemaak, en spesifiek by Durban Collegians.

“Dis hoekom ek ook gemaklik daarmee is om nou terug te wees; die Collegians- ou garde, soos Tim Cocks, Stan Holmes en BJ van Zyl, kom gereeld nog bymekaar.”

Van der Merwe sou waarskynlik meermale vir Natal gespeel het, was dit nie vir ’n rits beserings wat sy loopbaan gekortwiek het nie. Hy het selfs die bynaam “First-Half van der Merwe” gekry, aangesien hy selde langer as halftyd kon speel.

“Die lyf het maar begin oppak,” lag hy. “My laaste wedstryd was teen OP in 1983. Ek het Tino Kankowski probeer duik, maar in die proses my knie gedraai en die ligament en kraakbeen was daarmee heen.”

Meer oor:  Blou Bulle  |  Tuks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.