Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Albert Heenop gesels met Corrie Pypers

Met 89 wedstryde in die Rooibont-trui agter sy naam, waarvan 36 boonop as kaptein, is Corrie Pypers een van Ellispark se werklik goue seuns.

Dis egter die ramkat-flank se drie in 1976 voor 75 000 fanatiese ondersteuners teen die All Blacks op Ellispark wat hom “koerant-roem” besorg het.

Pypers het om die steelkant van ’n lynstaan, skuins binne Nieu-Seeland se halfgebied, gebreek en met ’n verstommende vaartversnelling en brute krag ’n halfdosyn All Blacks-verdedigers, insluitende die legendariese Bryan Williams, geklop om in die hoekie oor te duik.

“Wat publisiteit betref, was dit waarskynlik die hoogtepunt van my loopbaan,” sê hy.

“Dit loop selfs vandag nog op sosiale media.”

Corrie Pypers
Corrie Pypers op een van sy kenmerkende stormlopies vir Transvaal in ’n wedstryd teen die Vrystaat. Foto: Argief

Pypers (66) sal egter al die glorie van sy rugbyloopbaan verruil as dit sy dogter destyds kon red.

“Vir seker,” sê hy, voordat hy vir etlike sekondes stilbly.

“Dit is baie moeilik. Dis nie maklik nie, my maat . . .”

Die Pypers-egpaar se oudste dogter, Lizaan Potgieter, is in Oktober 2013 skielik op 33-jarige ouderdom dood nadat drie bloedklonte deur haar long is.

“Lizaan se twee dogtertjies, Lianke en Relinke, was maar onderskeidelik drie jaar en ’n jaar oud toe sy dood is.

“Hulle het die eerste paar jaar ná haar dood by ons gebly. Rita het na hulle omgesien.

“Glo my, tyd is die enigste ding wat dit effens beter maak, niks anders nie. Die pyn word mettertyd ligter, maar elke dan en wan is dit maar weer erg . . .”

Corrie en Rita is reeds 43 jaar getroud en het nog twee kinders, Corné (38) en Nadia (36).

Pypers is in Krugersdorp gebore en het skoolgegaan aan die Laerskool Dr Havenga en die Hoërskool Roodepoort, van waar hy het Transvaal Skole twee jaar agtereenvolgens verteenwoordig het.

“Ek onderwys gestudeer aan die Goudstadse Onderwyskollege,” onthou hy, “maar die manne by Alberton Rugbyklub het my afgeraai om ’n onnie te word.

“‘Onnies maak nie geld nie,’ het hulle gesê, en my ’n jop aangebied.”

In 1974 reeds, toe net 20 jaar oud, het hy sy buiging vir Transvaal teen WP gemaak.

“Tydens die spanpraatjie het ek agter die ‘ou’ manne gesit en na hulle geluister,” vertel Corrie.

“Daar was ysters soos Anton Oberholzer, Klippies Kritzinger, Kevin de Klerk, ‘Pottie’ Strauss en Sakkie Sauermann, en hulle het beplan om in die eerste skrum die wit waks uit WP te slaan. Ek het so in die stilligheid gedink: ‘Ja, ja, ja . . .’

“Daai eerste skrum het egter skaars opgebreek, toe sien jy net hare en tande waai!

“Ek het maar weggedrentel en agter Gerald Bosch op losskakel stelling ingeneem . . .

Corrie en Rita in vrolike luim op Nadia en Emile (skoonseun) se troudag in 2017.

“Pa Pelser was een van die eerste afrigters wat met die nonsens begin het om wedstryde op film vas te lê, en daai Maandag het hy my behoorlik uitgehaal: ‘Jou manne is besig om oorlog te maak, en daar staan jy agter Bosch en wegkruip!’”

Kort daarna het Corrie vir Transvaal uitgedraf teen die magtige Britse Leeus van Willie John McBride, en is hy ook gekies vir die Kwagga-Barbarians teen die Leeus.

“Die Kwaggas-game moes ons nooit verloor het nie . . .

“Dit was die dag toe ’n toeskouer vir die skeidsregter, Ian Gourlay, gepiets het ná die eindfluitjie. Ek was toevallig reg agter Gourlay toe die ou hom bykom.”

In 1976 het Pypers die unieke onderskeiding behaal deur in drie wedstryde teen die All Blacks te speel – vir die Gaselle (SA o.23), Transvaal en die Kwaggas – en in elkeen van daardie kragmetings ’n drie te druk.

En, tóg, is hy nooit vir sy uithalerspel beloon met ’n toets vir Suid-Afrika nie.

“Selfs nou, op my oudag, verstaan ek dit nie,” erken hy.

“Ek was ’n paar keer Springbok-reserwe, maar het nooit my baadjie ontvang nie. Weet nie of dit politieke invloede was, of dit ’n Broederbond-ding was nie.

“Dit het my nogal gepla, maar nie vandag meer nie. Ek het ’n ongelooflike lekker loopbaan gehad.”

Karakters was daar baie, soos die losskakel Lee Barnard, wat ook vir Transvaal krieket gespeel het, en die Springbok-slot Moaner van Heerden.

“Lee was ’n moeilikheidmaker van formaat,” sê Corrie.

“En, dan was daar Moaner.

“Hy was rof en grof, maar tog ’n gentleman; altyd gereed met ’n grappie, en altyd dieselfde.”

Ná die 1980-seisoen, met sy honderdtal vir Transvaal slegs 11 wedstryde weg, het Corrie besluit om op te hou provinsiale rugby speel.

“My linkerknie se kraakbeen is in matriek reeds uitgehaal, en die knie het al hoe meer moeilikheid begin gee,” verduidelik hy.

“Boonop het ek en Ian Kirkpatrick (afrigter) koppe gestamp, en dus het ek besluit om nie aan te hou sukkel nie.”

Corrie het wel aanhou klubrugby speel, en was kaptein van Alberton toe die klub in 1982 as Trekliga-kampioen gekroon is.

“Diggers het vir jare die klubtoneel oorheers, met al hulle Springbokke,” onthou hy.

“Alberton het egter in die vroeë tagtigs ’n paar ongelooflike seisoene beleef, met voorspelers soos Daan Badenhorst en Pote Fourie aan die spits.

“Daai manne was aan die gang . . . ek moes senuweepille drink elke slag wanneer hulle opdraf!”

Daai manne was aan die gang . . . ek moes senuweepille drink elke slag wanneer hulle opdraf!

’n Paar jaar nadat hy in 1985 sy stewels finaal opgehang het, het Pypers hom in die politiek begewe – aanvanklik as raadslid vir die eertydse Konserwatiewe Party en later vir die Vryheidsfront in die Midvaal- munisipale verkiesing.

“Ons het groot gevegte gehad oor die gebrek aan diensverskaffing en ongerymdhede, wat in die howe gedraai het, en ek het van ’n klompie burgemeesters ontslae geraak,” vertel hy.

Corrie het só ’n positiewe invloed op plaaslike politieke vlak gehad dat ’n straat in Meyerton na hom genoem is.

Hy was ook vir 35 jaar betrokke by die Meyerton-gholfklub, eers as kaptein en uiteindelik as voorsitter. Hy’t selfs ’n gholfbaan in Alexanderbaai ontwerp en gebou.

Hoewel hy nog altyd in konstruksie betrokke was, beskou Peypers dit meer as ’n tydverdryf.

Hy boer die afgelope 20 jaar reeds heeltyds met varke, beeste en turksvye by Chrissiefontein.

Meer oor:  Albert Heenop  |  Wat Het Geword Van  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.