Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Albert het groot skoene om vol te staan

Die oud-Springbok slot Albert van den Berg weet goed watter uitdaging op hom wag as nuwe hulpafrigter van Griekwas.

Albert van den Berg tydens ’n Springbok-oefensessie in 2007 in Frankryk. Foto: Getty Images

Die Griekwaland-Wes Rugbyunie het Vrydag aangekondig dat Van den Berg (45) aangestel is as die Poubloues se voorspelerafrigter en ook verantwoordelik gaan wees vir die verdediging.

“Ek gaan Brent (Janse van Rensburg, wat Griekwas se hoofafrigter in 2019 was) se skoene moet vol staan. Daar is egter goeie strukture in plek – so ek gaan daarop kan voortbou,” sê Van den Berg.

Janse van Rensburg het in sy termyn die voorspelers afgerig, met Scott Mathie as sy regterhand. Mathie is onlangs as die hoofafrigter aangestel.

Met Griekwas wat die afgelope seisoen die SuperSport-uitdaagreeks gewen en die halfeindronde van die Curriebeker-reeks gehaal het, sal daar hoë verwagtinge van die nuwe afrigtingspan gekoester word.

Die grootste uitdaging is dat ons nie die begroting van die ander unies het nie.
Albert van den Berg

“Die grootste uitdaging is dat ons nie die begroting van die ander unies het nie. Maar ons kan meeding en ook spelers ontwikkel vir die ander unies,” sê Van den Berg.

Hy meld op 1 November in Kimberley aan en het ’n kontrak van twee jaar onderteken. Hy het die Bokke in 51 toetse en twee WB-toernooie in sy speeldae verteenwoordig en was deel van die span wat die Wêreldbeker-toernooi in 2007 in Frankryk gewen het.

Van den Berg is natuurlik geen onbekende in Kimberley nie. Hy het immers die Poubloues in 55 wedstryde verteenwoordig. Hy was ’n lid van die voormalige Bok- en Griekwas-afrigter André Markgraaff se Poublouspan wat in 1998 die Vodacombeker-reeks en die halfeindronde van die Curriebeker-reeks gehaal het.

Maar dit was destyds in Vanderbijlpark by die destydse Vaaldriehoekse Rugbyunie waar sy talente as speler die eerste keer raakgesien is deur die oud-Springbok Gerrie Sonnekus, wat dié span toe afgerig het.

Die voormalige Springbok Gerrie Sonnekus. Foto: Gallo Images

“Hy het my destyds ’n geleentheid gegee en ek het my senior buiging as 19-jarige gemaak. Sy woorde aan my was: ‘Ek gaan jou by die diepkant ingooi.’ Ek het hom geantwoord: ‘Ek gaan probeer, oom’,” sê Van den Berg.

Duidelik kon hy swem, want kort daarna het Markgraaff hom Diamantstad toe gelok en hy het later tussen 2000 en 2009 meer as 150 wedstryde vir die Haaie gespeel.

Nadat Van den Berg se speeldae tot ’n einde gekom het, het hy by die Haaie se akademie ingeval en later ook by die Canon Eagles in Japan afgerig.

By die Haaie het hy Sias Koen, vuurvreter-flank van Griekwas, wat toe ’n junior was, afgerig.

Behalwe vir Markgraaff en Sonnekus, het hy onder bekende afrigters soos Jake White en Nick Mallett gespeel en sê hy het by almal iets van afrigting geleer.

“By elke afrigter onder wie ek gespeel het, het ek geleer. Ook wat om nie te doen nie – mense sê altyd net van wat ’n mens geleer het om te doen. Maar ’n mens leer ook wat om nie te doen nie,” sê Van den Berg.

Meer oor:  Kimberley  |  Sias Koen  |  Griekwas  |  Albert Van Den Berg  |  Scott Mathie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.