Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Alberts in kwarantyn, speel nie

Die Leeus se rugbyspan moes een van hul Springbokke, Willem Alberts, noodgedwonge aan die span onttrek wat Saterdagaand in Kaapstad teen die Stormers in die Superrugby Unlocked-reeks speel nadat hy in nabye kontak was met ’n persoon wat positief getoets is vir Covid-19.

Willem Alberts was bly om verlede naweek weer sy ou tuisveld in Durban te kon besoek. Hy sal egter die volgende tien dae in kwarantyn deurbring. Foto: Gallo Images

Die 36-jarige Alberts, ’n veteraan van 43 toetse vir die Springbokke, is intussen in kwarantyn geplaas.

Alberts sou slot vir die Leeus gespeel het teen die Stormers.

Die persoon met wie Alberts in kontak was (die Leeus wou nie die onthul wie dit is nie), het Donderdag simptome van die koronavirus begin toon. Dié persoon het toe vir ’n toets gegaan en die aand verneem dat hy/sy Covid-19 onder lede het.

Alberts is derhalwe aan die Leeus se span onttrek en moet die volgende tien dae in kwarantyn deurbring.

Die Leeus se spandokter, Rob Collins, het aan Netwerk24 gesê dat Alberts teen Vrydagoggend nog geen simptome van die koronavirus getoon het nie.

Hy sê ook die Leeus het aan al die vereiste Covid-19-protokolle voldoen.

Ruben Schoeman sal Willem Alberts se plek in die Leeus se beginspan vir die kragmeting met die Stormers neem.Foto: Gallo Images

Vir die Leeus sal sy afwesigheid ’n groot terugslag wees, aangesien daar juis na sy fisiekheid en ervaring gekyk is om die span meer stukrag voorlangs te gee teen die omgesukkelde agttal van die Stormers, skryf Christo Buchner.

Sy plek word nou geneem deur Ruben Schoeman, wat nie in die oorspronklike groep vir die besoek aan Nuweland was nie. Die groep van tien plaasvervangers, waaruit agt gekies sal word, bly onveranderd.

Alberts het hom vroeg in die jaar by die Leeus aangesluit nadat hy etlike jare in Frankryk gespeel het. Hy het juis vandeesweek in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê hoe lekker dit vir hom is om weer terug te wees in die omgewing waar alles vir hom begin het.

Hy was op skool by die Hoërskool Monument in Krugersdorp en het sy rugbyspore by die Leeus begin trap voordat hy later ’n Haai geword het.

“Verlede week was ook ’n spesiale gevoel om weer op Kingspark te kon speel, waar ek soveel van my tyd by die Haaie deurgebring het. Dit het nostalgie by my laat opvlam,” erken hy.

“Ek was in 2016 laas daar, maar al die goeie ou herinneringe het teruggevloei toe ek nou weer daar gekom het. Dit was as ’n Leeu darem ook nie té intimiderend om daar te gespeel het deurdat daar nie die hordes Haaie-ondersteuners was wat die lewe vir die besoekers so moeilik maak nie,” vertel hy.

Om nou as slot ingespan te word, terwyl hy meeste van sy rugbyloopbaan as losvoorspeler diens gedoen het, is nie vir hom ’n probleem nie, sê Alberts.

“Ek speel net waar die afrigter ook al voel ek nodig is,” sê hy.

Meer oor:  Koronavirus  |  Willem Alberts  |  Leeus  |  Superrugby Un­Locked  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.