Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
All Black-‘toere’ na Suid-Afrika op hande

Omvangryke veranderings word glo van so vroeg as volgende jaar af vir die Rugbykampioenskap beplan, maar dié kompetisie se beheerliggaam het dit Dinsdag as “blote bespiegeling” afgemaak.

Die New Zealand Herald het berig dat die kompetisie vanjaar vir oulaas die formaat sal volg wat gebruik word sedert Argentinië in 2012 by die aanvanklike Drienasies-reeks gevoeg is (met die uitsondering van Wêreldbeker-jare).

Die Springbokke het verlede seisoen die Rugbykampioenskap gewen nadat die span in 1998, 2004 en 2009 die Drienasies-louere verower het. Foto: Getty Images

Luidens die berig sal die All Blacks en die Wallabies van volgende jaar af op ’n tweejaarlikse grondslag in Suid-Afrika en Argentinië in aksie wees.

Daar sal dan twee toetse agtereenvolgens gespeel word en die hoop is dat dit ’n gevoel sal skep van die eertydse rugbytoere.

Dit is selfs glo ’n oorweging dat daar met vergrote groepe getoer word om, soos in die ou dae, weekdagwedstryde te speel.

Die Springbokke sal steeds elke seisoen ’n toets tuis en weg teen die Poemas speel en so ook Nieu-Seeland en Australië teen mekaar, met die bykomende stryd om die Bledisloe-beker wat behou word.

Suid-Afrika sal dus jaarliks om die beurt in Nieu-Seeland en Australië toer en omgekeerd.

As ’n voorbeeld: Gestel die Springbokke gaan toer in 2021 in Nieu-Seeland, sal Suid-Afrika dan in twee tuistoetse teen die Wallabies speel en ook tuis en weg teen die Poemas in aksie wees.

Nieu-Seeland sal benewens sy tuis- en wegwedstryde teen Australië in Argentinië gaan toer en twee toetse speel.

Australië sal in só ’n scenario twee tuistoetse teen die Poemas speel.

Rugbybase glo dit sal die toetse groter betekenis gee met byvoorbeeld die All Blacks wat net elke tweede jaar in Suid-Afrika sal besoek aflê.

Greg Thomas, Sanzaar se woordvoerder, het by navraag gesê hulle gaan nie nou kommentaar lewer oor moontlike veranderinge aan die kompetisie nie.

“Dit is in die stadium blote bespiegeling. As daar wel veranderinge is, sal Sanzaar dit aankondig.

“Dit sal egter nie in die afsienbare toekoms wees nie.”

The Sydney Morning Herald het verlede jaar onthul dat daar ook verstellings aan die Superreeks oorweeg word.

Afgesien van die Sunwolves wat nie meer in 2021 in die kompetisie sal meeding nie, kan die eindstryd in die toekoms op ’n “neutrale veld” beslis word.

Soos wat met die Europese Kampioeneliga (sokker) en Amerikaanse NFL die geval is, kan die regte om die Superrugby-eindstryd aan te bied, met ’n bodproses bepaal word.

Dié voorstel was vervat in ’n voorlegging wat die uitsaaiers in die Suidelike Halfrond, Fox Sports (Australië), SuperSport (Suid-Afrika), Sky Sport (Nieu-Seeland) en die Britse uitsaaier, Sky Sports, in Maart 2019 in Londen aan Sanzaar gemaak het.

Die rugbybase in die Suidelike Halfrond is in ’n desperate stryd om die Rugbykampioenskap só aan te bied dat dit sy verlore aansien kan herwin.

Glo een van die ander redes waarom daar op die nuwe formaat van die Rugbykampioenskap besluit is, is dat spanne nie meer so baie sal reis nie.

Die heen en weer vlieg tussen die vier lande is ’n swaar las op die spelers, veral ook gegewe dat hulle enkele weke nadat die kampioenskap afgehandel is na Europa vlieg vir die spanne se jaareindtoere.

Meer oor:  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Saru  |  Sanzaar  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.