Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
All Blacks bring Wallabies terug aarde toe
Aaron Smith steek tong uit net voordat hy die All Blacks se tweede drie druk. Foto: Getty Images

Die Wallabies het Saterdag in Auckland terug aarde toe gekom en weer besef dat dit anders is om teen 15 All Blacks te speel as teen 14.

Die All Blacks het die Wallabies met 36-0 op Eden Park getrap om die Bledisloe-beker te behou.

Verlede week was die Australiërs in Perth met 47-27 teen die Nieu-Seelanders baas in ’n toets in die Rugby-Kampioenskapsreeks. Toe was die All Blacks vir meer as een helfte minus die slot Scott Barrett, wat weens ’n gevaarlike skouerloop met ’n rooikaart afgestuur is.

Reg van die afskop op Eden Park was dit duidelik dat die All Blacks wraak soek. Hulle het met mening ingeklim en met die aggressiewe losvoorspeler Ardie Savea aan die voorpunt die Wallabies teruggedwing.

Die kragmeting is in nat toestande gespeel, maar dit het die tuisspan nie gekeer om vyf drieë te druk nie.

Die Wallabies moes vir die grootste gedeelte van die wedstryd verdedig. Hier is dit die All Black-flank Ardie Savea wat hulle laat skarrel het. Foto: Getty Images

Die twee drieë wat die wenspan kort ná mekaar laat in die eerste helfte gedruk het, het waarskynlik die besoekers geknak.

Eers het die losskakel, Richie Mo’unga, in die 29ste minuut gaan druk nadat hy ’n bal wat die Australiese vleuel Reece Hodge laat val het, opgepik het en deurgenael het.

Drie minute later het die Wallabies se heelagter, Kurtley Beale, ’n swak skop geloods wat deur sy eweknie van die All Blacks, Beauden Barrett, in die hande gekry is.

Barrett het aan die hardloop gegaan en die vleuel George Bridge het die beweging voortgesit en die skrumskakel, Aaron Smith, deurgestuur vir ’n drie.

Nog ’n drie vroeg in die tweede helfte deur Sonny Bill Williams en nog ’n suksesvolle doelskop deur Mo’unga en die telling was 24-0.

Laat in die wedstryd het die All Blacks nog twee keer gaan druk om die Wallabies se neuse behoorlik in die gras te vryf.

Die Wallabies kon nie eens punte kry toe die All Blacks in ’n stadium vir 10 minute sonder die haker, Dane Coles, was nie. Coles is deur die skeidsregter, Jaco Peyper, gestuur om te gaan afkoel nadat hy twee keer binne twee minute soos ’n heethoofdige snuiter Australiese spelers rondgesmyt het.

* Puntemakers:

All Blacks 36 (17): Drieë: Richie Mo’unga, Aaron Smith, Sonny Bill Williams, Reece Hodge, George Bridge. Doelskoppe: Mo’unga (3), Beauden Barrett (1). Strafdoele: Mo’unga (1).

Wallabies 0 (0).

Meer oor:  Toetsrugby  |  Wallabies  |  All Blacks  |  Bledisloebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.