Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
All Blacks kort g'n motivering voor Bok-toets
Die All Black-breier, Steve Hansen. Foto: Getty Images

Die All Blacks se rugbybreier, Steve Hansen, hoef nie solank te begin dink aan ’n motiveringspraatjie vir sy span voor Saterdag se toets teen die Springbokke in Wellington nie.

Ondanks die Kiwi’s se onoortuigende sege van 20-16 oor die Argentynse Poemas die naweek sal daar nie ’n gebrek aan veggees wees as die wêreldkampioen se aartsvyand die naweek oorkant hom stelling inneem nie.

Die Bokke sal natuurlik dié toets teiken om ’n vroeë waarskuwing te rig dat hulle in die Wêreldbekertoernooi later vanjaar in Japan ernstig opgeneem moet word.

’n Oorwinning sal ook ’n sielkundige slag vir die Suid-Afrikaners slaan, aangesien die twee spanne mekaar op 21 September in die eerste groepwedstryd van die sport se groot skouspel in Jokohama gaan takel.

Wat as motivering vir die All Blacks in aanstaande Saterdag se kragmeting gaan dien, is egter nie Hansen se woorde nie, maar die gebeure wat hom verlede jaar in Wellington afgespeel het.

In daardie Rugbykampioenskapstoets het die Bokke die tuisspan in die Westpak-stadion met 36-34 geskok.

In daardie Rugbykampioenskapstoets het die Bokke die tuisspan in die Westpak-stadion met 36-34 geskok.

Dit was die Kiwi’s se eerste loesing teen die Bokke sedert 2009. ’n Bitter pil dus. Een wat Saterdag tot elke prys nie weer gesluk wil word nie.

Ná die halfgebakte poging teen die Poemas was Hansen vinnig om een en almal daaraan te herinner dat hy agt fikse Crusaders vir dié toets by die huis gelos het. Hulle rus voor Saterdag se grote.

“As jy kyk na die ervaring van daai ouens is dit goed hier by ’n 400 toetse wat hulle al saam gespeel het. Ons het dit geweet en ons het hulle om goeie rede by die huis gelos,” het Hansen Sondag gesê.

Die uitgeslape Nieu-Seelander verwys hier na hardebaarde soos die All Black-kaptein, Kieran Read, Sam Whitelock, Owen Franks, Joe Moody en Codie Taylor. Hulle sal waarskynlik almal vir die haka teen die Bokke aantree.

Die All Black-losskakel Beauden Barrett in aksie in Saterdag se toets teen die Argentynse Poemas in Buenos Aires. Foto: Getty Images

Jack Goodhue sal straks op senter begin en Richie Mo’unga sal op die plaasvervangersbank sit en wag om Beauden Barrett op losskakel te vervang.

As die instaan-kaptein, Sam Cane, en plaasvervanger-haker, Liam Coltman, nie Saterdag in die doodsnikke omkeerbesit vir die Kiwi’s in Buenos Aires gewen het nie, sou die Argentyne waarskynlik oor die doellyn gedryf het om hul eerste sege nog oor All Blacks te behaal.

Maar hulle het en die span was duidelik verlig toe die eindfluitjie kort hierna geblaas is.

“Wie nie waag nie, wen nie. Ons het vroeër in die week hieroor gepraat,” het Hansen die toets opgesom.

“Ons het groot waagstukke met ’n paar jong ouens op die veld en ’n nuwe kaptein geneem. Sam (Cane) weet nou hoe dit voel om onder druk te speel en hoe groot die verantwoordelikheid is om in sulke omstandighede besluite te neem.”

Die breier het gesê om vier groentjies in te span, ongetoetste kombinasies op die proef te stel en dit boonop met sukses in ’n wegwedstryd voor ’n partydige skare te doen, is ’n bietjie soos om die lotery te wen.

Sy Springbok-eweknie, Rassie Erasmus, het dieselfde roete gevolg en sy beste spelers reeds die naweek Nieu-Seeland toe gestuur eerder as om hulle teen die Wallabies op Ellispark los te laat.

Ons het by tye erg verroes gelyk, maar daar was goeie tekens ook.
Steve Hansen

As Hansen voel die wraak vir verlede jaar se loesing in Wellington is nie genoeg motivering vir sy beste span nie, kan hy maklik die vertoning teen die Poemas as ammunisie gebruik.

Maar uit die span wat Saterdag geswoeg het vir die sege, sal waarskynlik net Bodie Retallick en Cane voorlangs en Aaron Smith en Barrett agterlangs teen die Springbokke gesig wys.

“Ons het by tye erg verroes gelyk, maar daar was goeie tekens ook,” het die Kiwi met verwysing na die toets gesê.

“Wat my die meeste getref het, was hoe koelkop die jong outjies in die doodsnikke van die toets gebly het. Geen paniekerigheid nie. Dit voorspel baie goeie dinge vir die toekoms.”

– Sportredaksie; stuff.nz

Rugbykampioenskap: Puntelys

Meer oor:  Steve Hansen  |  Wellington  |  Nieu-Seeland  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.