Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
All Blacks soek nie weer hou op kennebak

Met die Wallabies wat met die rug teen die muur in die stryd om die Bledisloebeker is, verwag die All Blacks niks minder as ’n verwoede fisieke aanslag wanneer dié twee spanne Saterdag met mekaar in Sydney gaan slaags raak nie.

Dane Coles verwag Saterdag ’n fisieke aanslag van die Wallabies. Foto: Getty Images

Die Australiërs sal desperaat wees vir ’n sege om sodoende hul hoop lewend te hou om die eerste keer sedert 2002 weer hul hande op die Bledisloebeker te kry. Maar nadat die eerste van vier wedstryde gelykop geëindig het, het Nieu-Seeland die tweede oortuigend gewen – wat beteken dat as die Wallabies die naweek verloor, is dit neusie verby.

“Die intensiteit sal waarskynlik hoër wees as op Eden Park (waar die Nieu-Seelanders gewen het), omdat daar so baie op die spel is,” sê Dane Coles, haker van die All Blacks.

“Ons het in die eerste wedstryd ’n effense hou op die kennebak gevat en hulle was met hul fisieke spel in beheer van die wedstryd. Ons het daarna geweet dat ons sal moet verbeter en met die regte ingesteldheid moet opdaag.

“Ons het dit by tye (in die tweede toets) gedoen, maar daar is steeds baie aspekte van ons spel wat ons kan verbeter.”

Coles het dit egter duidelik gestel dat die fisieke aanslag waarmee hulle op die veld draf, op die regte manier gekanaliseer moet word.

“Dit gaan nie daaroor om uit te gaan en ’n idioot te wees nie. Dit is dinge soos om seker te maak jy voer jou duikslae uit en maak skoon (by losskrums).”

Die verwagting is dat die All Blacks versterk gaan word met die terugkeer van die strydros-slot Sam Whitelock, wat die tweede toets weens simptome van harsingskudding misgeloop het.

Intussen is die Wallabies vol vertroue dat slegs ’n paar klein verstellings genoeg sal wees om hulle Saterdag in die wenkampie te kry.

Die naweek se wedstryd is ook die eerste van die Rugbykampioenskap.

“Ons weet wat die vereiste standaarde is en ons het dit nie in die tweede toets gehandhaaf nie,” sê die losskakel James O’Connor.

“Ons weet waartoe ons in staat is. In die algeheel moet net ’n paar dinge verstel word om meer effektief te wees.”

Die Wallabies het omtrent 40 duikslae in Auckland verbrou, terwyl hul taktiese skopwerk ook nie akkuraat was nie. Daarby het die Aussies ook nie druk op die All Blacks geplaas wanneer hulle teenaanvalle geloods het nie. Die Nieu-Seelanders het op Eden Park in die bestek van 15 minute drie keer gaan druk – tog glo Nic White, skrumskakel van die Wallabies, dat dit die enigste verskil tussen die twee spanne was.

“In die loop tot die tweede toets het ons in drie van die kwarte onsself goed van ons taak gekwyt. Ja, in die vierde kwart het ons duikslae verbrou, wat hulle toegelaat het om ’n paar drieë te druk,” sê White.

“Jou selfvertroue gaan ’n knou kry, maar dit was nie so ’n groot slag nie. Ons weet ons kan dit regstel. Is ons goed genoeg? Ja, ons is. Ons is 100% oortuig daarvan dat ons dit kan doen.” – Reuters

Meer oor:  Wallabies  |  Dane Coles  |  All Blacks  |  Bledisloebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.