Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
All Black-stryd sal nie dié vraag beantwoord

Die ewige stryery tussen rugbyspelers of vyftienman- of ligaspelers die beste is, sal nié beantwoord word wanneer die All Blacks ’n wedstryd teen ’n ligaspan speel nie, sê Ian Foster, afrigter van die Nieu-Seelanders.

Kieran Read (voor) en sy spanmaats van die All Blacks doen die haka voor die aanvang van ’n toets. Foto: Getty Images

Dit kom nadat die Nieu-Seelandse Rugbyunie die afgelope week aangekondig het dat hy die moontlikheid ondersoek dat die land se nasionale span teen die Kangaroos, Australië se nasionale rugbyligaspan, te staan kom.

Weens die gevolge van die Covid-19-pandemie is dit ’n opsie wat oorweeg word om beheerliggame se geldkoffers aan te vul en ook broodnodige wedstrydoefening aan spelers te bied.

Die twee kodes word natuurlik volgens verskillende reëls gespeel, soos byvoorbeeld dat spanne in rugbyliga slegs uit 14 spelers bestaan.

Sou die All Blacks en die Kangaroos mekaar wel pak, sal uitsluitsel verkry moet word oor die reëls wat toegepas gaan word en sal daar wel mense wees wat gaan meen dat die een kode bo die ander bevoordeel word.

Daarom, sê Foster, sal daar dan steeds nie uitsluitsel wees oor wie die beste is nie.

Ian Foster, afrigter van die All Blacks. Foto: Gallo Images

“Dit is een van daardie debatte wat ’n lang tyd in kroeë in Nieu-Seeland en Australië kan aangaan. Maar die werklikheid is, selfs al speel ons, sal ons nooit weet wie die beste is nie, omdat ’n debat oor die reëls sal woed en wie bevoordeel woed.”

Tog is Foster, wat in Desember as opvolger vir Steve Hansen aangewys is, ten gunste van so ’n wedstryd wat straks in Desember beslis sal word.

Sy eerste verantwoordelikheid is om te verseker dat sy span soveel as moontlik wedstryde vanjaar speel.

“Ons skryf niks af nie. Ons eerste prioriteit is dat die All Blacks toetse speel, so ons wag om te kyk wat in Australië, Suid-Afrika en Argentinië (die ander lande wat deel van die Rugbykampioenskap is) gebeur.

“Ek het ’n paar gesprekke met Mal Meninga (afrigter van die Kangaroos) gehad oor hoe so ’n wedstryd daar sal uitsien. So daar is baie werk wat in hierdie verband gedoen moet word. Dit (so ’n wedstryd) is ’n voorstel wat tans op die tafel is,” sê Foster.

Die Rugbykampioenskap is veronderstel om op 8 Augustus te begin, maar omdat spanne in byvoorbeeld Suid-Afrika nog nie na die oefenveld toe teruggekeer het nie, lyk dit of die reeks straks op ’n latere tydstip beslis sal word. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Koronavirus  |  All Blacks  |  Rugbyliga  |  Covid-19  |  Ian Foster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.