Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
All Blacks verniel Poemas in wraakstryd

Jy kan nie sommer die All Blacks geheel en al afskryf nie. Argentinië het dié les Saterdag op die harde manier geleer toe die Nieu-Seelanders hom met 38-0 die loef afgesteek het.

Richie Mo’unga op die aanval in Saterdag se Drienasies-stryd tussen die All Blacks en Argentinië. Foto: Getty Images

Waar die Poemas twee weke gelede in hul geskiedkundige oorwinning die Kiwi’s van meet af aan geboelie het, was dit dié slag Ian Foster se span wat die septer geswaai het.

Trouens, die tien veranderinge wat Mario Ledesma aan sy wenresep gemaak het, het enige momentum uit die begeesterde groep gehaal.

Vir die Argentyne was dit ’n emosionele week ná die afsterwe van die sokkerlegende Diego Maradona, wat Woensdag aan ’n hartaanval dood is.

Die All Blacks het hul medelye gewys deur ’n getekende trui met die nommer 10 en die sokkerster se van agterop aan die Poemas te oorhandig voordat die Nieu-Seelanders vir die haka aangetree het.

Toe die fluitjie egter vir die afskop blaas, was daar min simpatie.

Die Nieu-Seelanders was soos ’n sneeustorting wat deurlopend op die Poemas neergedaal het, ’n swart muur van verwoesting wat elke aspek van die spel oorheers het.

Die Argentyne se skrum het lanklaas só in trurat geboer, met die All Blacks se agttal wat die Poemas die moonwalk laat dans het en die Suid-Amerikaners wat gevolglik aan die verkeerde kant van Nic Berry se fluitjie was.

Die Kiwi-stut Nepo Laulala verdien hier ’n klop op die skouer.

Ongelukkig vir die wraaksoekers is hulle verskeie kere deur die uitklophou gepootjie met verbroude kanse wat steeds ’n kwelpunt was en die telling wat selfs nóg groter kon wees.

Die Crusaders se opwindende heelagter, Will Jordan, het wel sake hier reggestel toe hy laat in die wedstryd opgekom het om sy tweede proesel toetsrugby te kry en daarmee saam twee langafstand-drieë ingeryg het, terwyl Patrick Tuipulotu die laaste sout in die Poemas se wonde gevryf het toe hy afgerond het.

Die Argentyne het die absolute minimum in besit (25%) geniet en van gebiedsvoordeel (16%) was daar nog minder.

Die Kiwi’s het duidelik die onophoudelike kritiek wat hulle die afgelope twee weke moes verduur ter harte geneem en was doelgerig om die Poemas nie net te troef nie, maar dit goed te doen.

* Puntemakers:

Nieu-Seeland 38 (10): Drieë: Dane Coles, Ardie Savea, Will Jordan (2), Patrick Tuipulotu. Doelskoppe: Richie Mo’unga (5). Strafdoel: Mo’unga.

Argentinië 0.

Meer oor:  Richie Mo'unga  |  Mario Ledesma  |  Will Jordan  |  Ian Foster  |  Argentinië  |  Drienasies  |  Poemas  |  All Blacks  |  Nieu-Seeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.