Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
All Blacks wurg Bokke in doodsnikke

Praat van ’n nederlaag uit die kake van ’n oorwinning gryp.

Aaron Smith, skrumskakel van die All Blacks, soek deurkomkans. Foto: Getty Images

Dit is hoe hul nederlaag van 32-30 Saterdag vir die Springbokke moes gevoel het in die Rugbykampioenskap-kragmeting teen die All Blacks op Loftus Versfeld in Pretoria.

Met skaars tien minute se speeltyd oor, was die Bokke nog heel gerieflik voor met 30-18, maar die All Blacks het sterk teruggekom en gewys hoekom hulle die voorste span ter wêreld is.

Hulle het drie drieë in die laaste klompie minute gedruk om die 50 000 toeskouers wat nog kort tevore hard gejuig het, stil te speel.

Die Bokke se plaasvervangerbank het nie juis ’n invloed gehad nie en die Bokke se momentum is gebreek toe van die kernspelers vervang is.

In die openingshelfte het die Springbokke die meeste van die rugby gespeel, maar moes tevrede wees om die louere op die telbord te deel.

Die All Blacks kon in die eerste 20 minute skaars hand op die bal lê, met keerwerk wat hul voorland was. Die tuisspan het besit en gebiedsvoordeel oorheers en een aanval ná die ander van stapel gestuur.

Tog het die span in swart die druk soos ’n spons geabsorbeer en met die uitsondering van twee Handré Pollard-strafdoele, kon die Springbokke niks wys vir hul oorheersing nie.

In die laaste 20 minute van die eerste helfte het die All Blacks ’n bietjie meer momentum begin kry en het Beauden Barrett met twee strafdoele van sy eie teruggeslaan om sake gelyk te laat trek.

Albei spanne was by geleentheid baie naby daaraan om te druk, met die Bokke se agttal feitlik oor die doellyn, maar hulle kon nie die bal gedruk kry nie.

Goeie aanvalsgeleenthede vir die All Blacks was – soos leë sitplekke op die paviljoene – baie skaars. Tog was hulle wel ’n slag onder die Bokke se pale, maar die tuisspan se hegte verdediging het verhoed dat die Kiwi’s kon deurkom.

Net voor rustyd was die Bokke weer sterk op die aanval, maar die All Blacks kon oorleef.

Net ná rustyd het die onvermydelike egter gebeur, met Willie le Roux wat sterk gebreek het voordat die bal wyd gespeel is en in die hande van die senter Jesse Kriel op die kwartlyn beland het. Hy het nog heelwat werk gehad om af te rond, maar dit uitstekend gedoen met ’n binnebreek wat Loftus aan die gons gehad het.

Die krake in die All Black-damwal het al hoe groter geword en dit was nie lank daarna nie of Damian de Allende het afgerond onder die pale, nadat die kaptein, Siya Kolisi, met krag deurgebreek het en die senter ’n oop pad doellyn toe gegee het.

Binne net 12 minute ná rustyd het die telling verander na 23-6.

Binne net 12 minute ná rustyd het die telling verander na 23-6.

Die All Blacks kon darem net daarna self die doellyn oorsteek met Aaron Smith wat gedruk het, maar dit kon nie die Springbokke se momentum stuit nie.

Die televisie-skeidsregter, Graham Hughes van Engeland, het beslis die buksie-vleuel, Cheslin Kolbe, het wel die bal op die lyn geplaas vir die Bokke se derde drie en op 30-13 was die bult terug in die wedstryd oënskynlik te steil vir die All Blacks.

Moet egter nie glo nie, want hulle het bly veg en ’n merkwaardige sege behaal met die plaasvervanger-losvoorspeler Ardie Savea wat die wendrie in die laaste minuut gedruk het en die plaasvervanger-agterspeler Richie Mo’unga wat die wendoelskop oorgesit het.

Punte:

Springbokke 30 (6): Drieë: Jesse Kriel, Damien de Allende, Cheslin Kolbe. Doelskoppe: Handré Pollard (3). Strafdoele: Pollard (3).

All Blacks 32 (6): Drieë: Aaron Smith, Rieko Ioane, Scott Barrett, Ardie Savea. Doelskoppe: Richie Mo’unga (3). Strafdoele: Beauden Barrett (2).

Meer oor:  Loftus Versfeld  |  Pretoria  |  Rugby  |  Springbokke  |  Blacks  |  All
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.