Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Alle oë op Leeus se Jordan Hendrikse

Toe die Leeus sewe weke gelede na Kaapstad opgeruk het vir hul laaste kragmeting van SA Rugby se voorbereidingsreeks, het hulle gemeen hulle het al die nodige wapens om moles in Kaapstad te maak.

In plaas daarvan is hulle uitmekaar geruk deur ’n groentjie-losskakel wat sy eerste kans op die groot verhoog met albei hande aangegryp het.

Alle oë sal Saterdag op die Leeus se nuwe losskakel, Jordan Hendrikse, wees. Foto: Gallo Images

Hierdie naweek, in die Johannesburgers se herontmoeting met die Stormers op Ellispark, is dit die tuisspan wat besluit het om ’n melkbaard as generaal in te span.

Die vraag is of hy die bordjies vir die Leeus kan verhang, en ewe veel pyn kan uitdeel as Abner van Reenen in Maart.

Alle oë sal Saterdagmiddag wees op Jordan Hendrikse (19), wanneer hy sy eerste geleentheid kry om saam met die groot honde van SA rugby uit te draf.

Die jongeling is die kleinboet van die Haaie se opwindende skrumskakel Jaden, en was tot dusver deeglik in sy skaduwee. Maar in Johannesburg word al vir maande lofliedere gesing oor die verskil wat sy groot skopskoen en aanvallende benadering in ’n wedstryd kan maak.

As jy op YouTube gaan rondkrap vir beeldmateriaal van die tiener, is die eerste video wat opkom van ’n wedstryd tussen sy alma mater, Glenwood, en Dr. EG Jansen.

Die video (en die wedstryd) eindig met Hendrikse wat van styf teenaan die linkerkant ’n doelskop oorsit wat ’n sege van een punt vir die Durbaniete verseker.

Die kalmte en akkuraatheid waarmee die destydse matriekseun dít gedoen het, is deugde wat te min van die Leeus-span gesien is in hul eerste twee wedstryde van die Reënboogbeker.

Watter impak sal Willem Alberts se terugkeer na aksie in die tweede helfte teen die Stormers hê? Foto: Gallo Images

Teen die Bulle is hulle gestraf omdat hulle hul fokus en doelgerigtheid in die laaste kwartier verloor het. En teen die Haaie het hulle tweede viool gespeel omdat hulle die intensiteit waarmee hulle van ’n groot vroeë agterstand herstel het, in die tweede helfte met swak hantering en verkeerde besluite verspeel het.

Natuurlik word nie van een speler verwag om die naweek ’n herhaling daarvan te verhoed nie – elke man op die veld moet dit help doen.

Maar vanuit die losskakel-posisie kan Hendrikse wel die psige van sy eie spanmaats én die Stormers maak of breek, soos Van Reenen sewe weke gelede.

Van Reenen draf natuurlik dié naweek op die veld met hope vraagtekens oor sy kop, ná hy ’n paar keer in die kragmeting met die Bulle lelik kleigetrap het.

Waar Hendrikse waarskynlik ’n eenvoudige uitdaging by sy afrigters gekry het (“wys ons net wat in jou steek”) is Van Reenen se uitdaging om eerder sewe weke terug se heldedade te onthou, as sewe dae terug se misoes.

Met dit gesê kan die twee jong losskakels natuurlik net werk met wat hulle van hul voorspelers kry.

In daardie opsig het die Stormers op papier altyd die oorhand, danksy hul yster-voorry van Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe. En tog kon dit hulle nog nie in die Reënboogbeker aan die wenkant kry nie.

Die Leeus sal Saterdag begin met drie uitstekende voorrymanne, in Carlu Sadie, Sti Sithole en Jaco Visagie, en volle vertroue hê dat hulle hul man teen die Bok-trio kan staan.

Die tergendste vrae voorlangs is egter rondom twee van Bok-rugby se taaiste dienaars ooit: die Stormers-flank Pieter-Steph du Toit en Leeus-slot Willem Alberts.

Du Toit kry hierdie naweek ’n ruskans, terwyl Alberts sy terugkeer ná ’n kuitbesering van die plaasvervangerbank sal maak.

Hoeveel sal Du Toit gemis word? En watter impak sal Alberts hê? In albei gevalle is dit ’n vraag wat ook ’n ander kan help antwoord: Wie sal dié wedstryd wen?

Die Leeus maak staat daarop dat Ellispark en die dun lug van die Hoëveld ’n bondgenoot vir hulle sal wees, maar die Stormers sal uitdraf met die wete dat hulle met ’n bietjie meer geluk al met twee Reënboogbeker-seges kon gespog het.

Leeus: EW Viljoen, Rabz Maxwane, Wandisile Simelane, Burger Odendaal (k), Courtnall Skosan, Jordan Hendrikse, André Warner, Francke Horn, Vincent Tshituka, MJ Pelser, Reinhard Nothnagel, Ruben Schoeman, Carlu Sadie, Jaco Visagie, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: PJ Botha, Ruan Dreyer, Asenathi Ntlabakanye, Willem Alberts, Emmanuel Tshituka, Morné van den Berg, Fred Zeilinga, Dan Kriel.

Stormers: Damian Willemse, Sergeal Petersen, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Edwill van der Merwe, Abner van Reenen, Herschel Jantjies, Evan Roos, Willie Engelbrecht, Marcel Theunissen, David Meihuizen, Ernst van Rhyn, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni, Ali Vermaak, Neethling Fouché, Ben-Jason Dixon, Johan du Toit, Juarno Augustus, Paul de Wet, Tim Swiel.

Skeidsregter: AJ Jacobs.

Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni en Morné Ferreira.

TV-skeidsregter: Stuart Berry.

TV: 13:30 op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN.

Meer oor:  Jordan Hendrikse  |  Stormers  |  Leeus  |  Reënboogbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.