Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Alle SA spanne moet Bok-bloudruk volg’

Die briljantheid van Suid-Afrika se wedstrydplan by die Wêreldbeker-toernooi lê in sy eenvoud. En dít, sê Robbie Fleck, kan al die Suid-Afrikaanse spanne in aanstaande jaar se Superrugby-reeks gerus nastreef.

Engeland se agttal deins terug onder die aanslag van die Springbokke se skrumwerk in Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd in Jokohama. Foto: Getty Images

“Daar was geen geheim omtrent die wedstrydplan nie en dít was die indrukwekkende aspek daaromtrent. Dit het helderheid en selfvertroue aan die spelers gegee. Die boodskap aan die wêreld was: ‘Dis hoe ons speel. Probeer ons keer’,” sê Fleck, voormalige afrigter van die Stormers se Superrugby-span.

“Dis baie soortgelyk aan die bloudruk wat Rassie (Erasmus, die Springbok-afrigter) destyds by die Westelike Provinsie en Stormers gevestig het. Dit berus op sterk vaste fasette en verdediging is ’n sleutel-komponent daarvan. Die spelers verdedig met groot dissipline en beskerm hul doellyn met oorgawe.

“Die Bok-kamp was ook nie skaam om oor hul skopwerk te praat nie en het vir Faf (de Klerk), Handré (Pollard) en Willie (le Roux) teen kritiek beskerm.”

Fleck hoop Suid-Afrika se streekspanne omarm dié plan.

“Dit pas Suid-Afrikaanse spelers en gee vir hulle selfvertroue. Ons moet bou op die fondasie van ons groot spelers en die X-faktor wat ons agterlangs het.”

Volgens Fleck is Erasmus se uitdaging om nou te sorg dat Superrugby-spanne ook sy plan toepas.

Robbie Fleck (regs) en die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, toe hulle destyds saam by die Stormers afgerig het. Foto: Gallo Images

“Dit sal net sin maak as hulle dit doen. As almal weer hul eie koers inslaan, kan ons verwag dat die uitslae nie goed gaan wees nie. As ons egter die Nieu-Seelandse model volg van samehorigheid in hoe daar afgerig en gespeel word, sal Suid-Afrikaanse rugby sterker raak,” sê hy.

Fleck meen dis nie per toeval nie dat Suid-Afrika konserwatiewe rugby gespeel het in al drie WB-toernooie wat die Bokke gewen het – in 1995, 2007 en nou 2019.

“Dalk is dit hoe Suid-Afrika moet speel – om op te hou om ander lande na te aap en ons eie vaardighede te omhels,” sê hy

Fleck beklemtoon dat spanne nie op presies dieselfde wyse hoef te speel nie.

“Jy kan steeds voorsiening maak vir daardie bietjie DNS wat aan spanne hul identiteit gee. As ons egter almal op kern-aspekte ooreenkom, kan ál die spanne daarby baat vind,” sê hy.

Fleck voeg by dit was “nog altyd die uitdaging” om eenvormigheid te skep. Suid-Afrika se spanne slaan as ’n reël hul eie koers in.

“Die welslae wat die Bokke behaal het, gee vir Rassie ’n platform om al die afrigters saam te kry en daaroor te praat. As Jacques Nienaber (die Bokke se verdedigingsafrigter) byvoorbeeld almal kan kry om op dieselfde wyse te verdedig, kan dit ons sekerlik net tot voordeel strek,” sê hy.

“Elke span moet ’n bietjie individualiteit hê, maar as ons as ’n rugbynasie wil groei, moet ons kernbeginsels vestig.”

Meer oor:  Robbie Fleck  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Superrugby  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.