Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Allister kies sy Bok-span nou beter

Allister Coetzee het ná ’n rampspoedige 2016-seisoen ’n veel duideliker prentjie waarheen hy vanjaar op pad is.

Allister Coetzee erken verlede jaar was ’n moeilike een as Springbok-afrigter. Foto: Gallo Images

Met die halfpadmerk van die Springbokke se 2017-seisoen in sig, vaar hy beter met sy kiesproses as verlede jaar toe hy rondgeval het.

Coetzee het in 2016 in die soektog na sy eerstekeuse-spelers ’n allemintige 36 in 12 toetse in sy beginspanne kans gegee.

Sover vanjaar het hy in vyf toetse nog net 22 spelers in sy beginspanne gekies. Dit wil sê hy het verlede jaar ’n bykomende 21 spelers in sy beginspanne gekies en vanjaar nog net sewe ekstra.

Die Bok-afrigter self het die week die belang met die bestendigheid van spankeuses benadruk.

“Dit gee die spelers selfvertroue,” het Coetzee gesê.

“Die detail is die belangrikste op dié vlak. Jy moet hulle kans bied om as ’n span te groei. Dit maak dit beslis makliker.

“Wen help uiteraard vir die selfvertroue en vir die kombinasies. Dis belangrik dat dieselfde span kans kry om te groei.

“Hulle moet uit taai tye leer en groei, eerder as om voortdurend aan die span te verander. Dán gaan jy nêrens heen nie.”

Ter verdediging van Coetzee moes hy verlede jaar ’n span herbou nadat spelers soos Fourie du Preez, Jean de Villiers en Victor Matfield ná 2015 se Wêreldbeker-toernooi uitgetree het. Verskeie ander spelers het ook oorsee gaan speel.

Op toetsvlak draai alles om uitslae. Verlede jaar was nie vir my ’n leerkurwe nie, maar ’n moeilike tyd.

Daar is verskeie redes vir Coetzee se groter bestendigheid met spankeuses vanjaar.

Een daarvan is die lesse wat die Bok-afrigter verlede jaar oor die voor- en nadele van die kies van oorsese spelers geleer het. Geen twyfel bestaan dat Franco Smith en Brendan Venter ook nou ’n positiewe bydrae met spankeuses maak nie.

Ná 12 toetse einde verlede jaar het ’n mens byvoorbeeld geen idee gehad wie die eerstekeuse-agterlyn was nie. Nou weet almal Ross Cronjé, Elton Jantjies, Courtnall Skosan, Jan Serfontein, Jesse Kriel, Raymond Rhule en Andries Coetzee sal begin tensy hulle hulself uit die span speel.

Die Bok-afrigter se seisoen sal egter nie aan sy spankeuses gemeet word nie, maar uitslae is al wat sal tel.

Die Bokke het nog agt toetse oor in 2017, waarvan Saterdag se Rugbykampioenskaptoets in Perth teen Australië as die belangrikste een van die seisoen beskou word. Die Bokke sal ná die naweek se toets presies weet hoeveel vordering hulle gemaak het.

Beserings kan bogenoemde prentjie nog uiteraard verander, ofskoon daar sover ’n duidelike neiging van groter bestendigheid met sy keuses vir die beginspan is.

“Verlede jaar was baie taai vir my,” het Coetzee gesê.

“Op toetsvlak draai alles om uitslae. Verlede jaar was nie vir my ’n leerkurwe nie, maar ’n moeilike tyd. Dis nou verblydend dat ek ’n groep het wat bereid is om hard vir mekaar te werk. ’n Mens kan dít nie afrig nie.”

* Só vergelyk Coetzee se kiesproses sover in 2017 met 2016 s’n:

2017:

Beginspan (22): Andries Coetzee, Raymond Rhule, Jesse Kriel, Lionel Mapoe, Jan Serfontein, Courtnall Skosan, Elton Jantjies, Francois Hougaard, Ross Cronjé, Jean-Luc du Preez, Uzair Cassiem, Warren Whiteley, Jaco Kriel, Oupa Mohoje, Siya Kolisi, Franco Mostert, Eben Etzebeth, Coenie Oosthuizen, Frans Malherbe, Ruan Dreyer, Malcolm Marx, Tendai Mtawarira.

Impakbank (10): Dillyn Leyds, Damian de Allende, Frans Steyn, Curwin Bosch, Rudy Paige, Pieter-Steph du Toit, Lood de Jager, Trevor Nyakane, Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi.

2016:

Beginspan (36): Johan Goosen, Willie le Roux, Ruan Combrinck, Francois Venter, Jesse Kriel, Lionel Mapoe, Damian de Allende, Juan de Jongh, Rohan Janse van Rensburg, Bryan Habana, Francois Hougaard, Jamba Ulengo, JP Pietersen, Lwazi Mvovo, Elton Jantjies, Morné Steyn, Pat Lambie, Faf de Klerk, Rudy Paige, Duane Vermeulen, Oupa Mohoje, Siya Kolisi, Uzair Cassiem, Warren Whiteley, Willem Alberts, Francois Louw, Nizaam Carr, Lood de Jager, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Julian Redelinghuys, Lourens Adriaanse, Adriaan Strauss, Vincent Koch, Tendai Mtawarira.

Impakbank (8): Piet van Zyl, Jaco Kriel, Jean-Luc du Preez, Franco Mostert, Trevor Nyakane, Bongi Mbonambi, Malcolm Marx, Steven Kitshoff.

Meer oor:  Bokke  |  Allister Coetzee  |  Rugbykampioenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.