Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Allister se brief verhaas sy vertrek
Allister Coetzee is nie meer die Springbokke se breier nie, het Saru aangekondig. Foto: Gallo Images

Allister Coetzee se vurige brief aan lede van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se uitvoerende komitee verlede week het sy vertrek as Springbok-afrigter help bespoedig.

Saru het Vrydagoggend aangekondig dat sy en Coetzee se paaie in die “belang van Springbok-rugby” gaan skei.

Volgens betroubare bronne het Coetzee nie ’n wafferse skeidingspakket gekry nadat hy aanvanklik reg gestaan het vir ’n moontlike regstryd teen Saru nie.

Rassie Erasmus

In sy brief, wat verlede week uitgelek het, het hy onder meer die aantyging gemaak dat daar ’n sameswering was om hom te laat misluk, wat dan die weg sou baan vir Rassie Erasmus om sy pos oor te neem.

Erasmus het aan die einde van verlede jaar as Saru se direkteur van rugby begin werk en staan aan die spits van nasionale spanne. Hy sal na verwagting nou die hoofafrigter van die Bokke wees. Die nuwe Bok-bestuurspan sal volgens Saru later vandeesmaand aangekondig word.

Coetzee het in sy brief selfs so ver gegaan as om te sê dat Saru hom slegs aangestel het om omstredenheid oor ras vry te spring. Die plan was, volgens hom, daarna om hom van die nodige hulpbronne te ontsê om sy werk na wense te kan doen.

In sy brief het Coetzee ook na die Anglo Boere-oorlog en etlike kere na apartheid verwys.

Die brief het glo daartoe aanleiding gegee dat Coetzee se aanvanklike verteenwoordiger in sy onderhandelinge met Saru, Piet Heymans van Sport Employees Unite, sy dienste opgeskort het. Heymans wou nie by navraag kommentaar lewer nie.

Coetzee se brief het gevolg op ’n vergadering op 18 Januarie met Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, waarin Heymans ook teenwoordig was. Die vergadering was glo “van die rekord af” gehou om die weg te baan vir ’n vreedsame skikkingsooreenkoms. Roux het dit glo ook daar duidelik gestel dat hy nie met ’n mandaat van Saru se uitvoerende komitee met Coetzee ontmoet nie.

Terwyl die brief aanvanklik ’n verleentheid vir Roux was, het die steun wat Coetzee nog op die uitvoerende komitee gehad het in die proses heeltemal gekwyn.

In Coetzee se brief voer hy egter aan dat Roux met ’n mandaat met hom vergader het om hom in te lig dat daar besluit is om sy dienste te beëindig.

Terwyl die brief aanvanklik ’n verleentheid vir Roux was, het die steun wat Coetzee nog op die uitvoerende komitee gehad het in die proses heeltemal gekwyn. ’n Totale vertrouensbreuk het ontstaan en Coetzee se dienste is ná onderhandelinge tussen sy regspan en Saru beëindig.

Coetzee het, toe hy Vrydag om kommentaar genader is, gesê dat daar volstaan sal word met Saru se nuusverklaring. Daarin sê hy slegs dat Bok-rugby hom “na aan die hart lê” en dis daarom tyd vir hom en die span om in “nuwe rigtings te beweeg”.

Daar is ook sprake daarvan dat die uurglas besig was om leeg te loop vir Coetzee om ’n pos in Japan te aanvaar. Hy is vroeër met die pos van hoofafrigter van die Canon Eagles verbind.

Met die onsekerheid oor Coetzee se pos uit die weg geruim, verskuif die aandag aanstaande week na sy hulpafrigters, Matt Proudfoot en Franco Smith.

Pieter de Villiers, skrumafrigter.

Proudfoot, wat die voorspelers afgerig het, is glo nie van plan om sy pos te ontruim nie. Die voormalige Franse stut Pieter de Villiers is egter Erasmus se keuse om die Bokke by die skrums af te rig.

Smith, wat die Bokke se agterlyn afgerig het, is die Vrystaat-rugbyunie se direkteur van rugby en sal moet besluit waar sy prioriteite lê omdat hy in Erasmus se struktuur heeltyds vir Saru sal moet werk. Indien hy nie aanbly nie, kan Erasmus dalk oorweeg om vir Mzwandile Stick as agterlynafrigter aan te stel. Stick was in 2016 die Bok-agterlynafrigter, waarna hy verlede jaar na die Junior Springbokke herontplooi is.

Brendan Venter, wat Coetzee verlede jaar as verdedigingskonsultant bygestaan het, het slegs op ’n ad hoc-grondslag gehelp. Jacques Nienaber sal vorentoe die verdedigingsafrigter wees.

Venter het Vrydag op Twitter gesê dat dit ’n goeie ding is dat Saru en Coetzee ’n ooreenkoms kon bereik waarmee “albei partye” tevrede is.

Venter het bygevoeg dat, ondanks persepsies, die Bokke verlede jaar baie vordering getoon het.

As nuwe afrigters met dié groep volhard, kan hulle ’n span word wat die wêreld aanvat.
Brendan Venter

“Dié jong Bok-span is net by twee geleenthede uitoorlê. Met ’n bietjie geluk kon hulle 11 van hul 13 toetse gewen het. As nuwe afrigters met dié groep volhard, kan hulle ’n span word wat die wêreld aanvat.”

Coetzee se wenrekord oor twee seisoene was egter te beskeie vir rugbybase om daardie optimisme te deel. Onder hom het die Bokke oor twee seisoene slegs 11 uit 25 toetse gewen – vier uit 12 in 2016 en sewe uit 13 verlede jaar.

Etlike ongewenste rekords is in die proses opgestel en dit was ná die nederlaag van 22-24 teen Wallis in die Bokke se laaste toets verlede jaar net ’n kwessie van tyd voordat Coetzee en Saru se paaie sou skei.

Meer oor:  Jurie Roux  |  Rassie Erasmus  |  Allister Coetzee  |  Johannesburg  |  Breier  |  Springbokke  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.