Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Als begin by wen, sê Marco Masotti
Kingspark in Durban is Marco Masotti se nuwe heiligdom. Foto: Gallo

Wen op die veld en jy wen groot af van die veld af.

Dit is die ingesteldheid waarmee Marco Masotti, die Amerikaanse “super-prokureur”, sy belegging in die Haaie benader.

“Ek hou van wen,” sê Masotti die afgelope week vanuit sy kantoor, hoog bokant die stadsgedruis van Manhattan, New York.

Hy het met Rapport gesels oor MVM Holdings, die konsortium waar hy aan die stuur staan, se beherende belang van 51% in die maatskappy The Sharks.

Sy spesialiteit is om geld te genereer, en ons praat van miljarde dollars, vir fondsbestuurders om in maatskappye te belê.

Masotti het groot drome vir wat die Haaie van die veld af kan vermag. Hy besef egter dat dit alles voortvloei uit wat óp die veld gebeur.

“Suid-Afrikaanse rugbyfranchises het hulp nodig, en ’n goeie vriend van my, ’n onafhanklike raadslid van die WP Rugbyunie, het my genader oor ’n moontlike belegging,” vertel Masotti.

Hoewel Masotti nie name noem nie, is dit algemeen bekend dat dié raadslid die gesiene sakeman André van der Veen is.

“Die onderhandelinge met WP het skipbreuk gely, maar terwyl ek in Suid-Afrika was, het ek ook met die Haaie vergader – wat ek nie in daardie stadium besef het ’n moontlike geleentheid sou wees nie.

“Ek was vanuit die staanspoor beïndruk met hul visie, wat ek deel, en hul bekwame bestuur, asook die feit dat hulle die Oos-Kaapse rugbytalent ontgin en ontwikkel. Die Haaie kan ’n permanente tuiste bied vir die ongelooflike rugbytalent uit daardie streek.

Marco Masotti

“Die Haaie het skielik heelwat aantrekliker gelyk in terme van ’n belegging; hulle beskik oor ’n uitstekende handelsmerk, ’n belowende jong span en voorste plaaslike sakelui wat betrokke is.

“Alles het eenvoudig in plek geval en sin gemaak.”

Oor sy visie vir die Haaie draai Masotti, in tipies Italiaanse styl, geen doekies om nie. “Die eerste prioriteit is om te wen. Dit is geweldig belangrik in die sportbedryf. Die Haaie kan heelwat waarde tot rugby in Suid-Afrika toevoeg; dit kan dien as ’n platform vir besigheid, mentorskap en gemeenskapsontwikkeling.

“Maar dit het alles te doen met wen – op en van die veld af.

“Ons wil hê dat iedereen in Durban met trots hul bors kan uitstoot.

“Die visie is om die handelsmerk verder met behulp van die Roc Nation-vermaaklikheidsmaatskappy (gestig deur die Amerikaanse kletsrymer Jay-Z) uit te brei, asook deur te deel in die ervaring van ander sportkodes, veral dié in die VSA, en dit dan toe te pas op die Haaie.

“Die handelsmerk moet wêreldwyd uitgebrei word.

“Ons het die groei van rugby in Japan waargeneem. Daar is nog moontlikhede in Europa en geweldige geleenthede in Amerika.

“Daar is na raming 2 500 rugbyklubs in die VSA met ’n ondersteunersbasis van sowat 33 miljoen, en dit is die soort ondersteuners wat geld het om te bestee.

“Covid-19 het sport gedwing om aan te pas en dit bied ’n gulde geleentheid om oor die Haaie se rol in rugby te herbesin.”

Masotti voorsien selfs ’n langtermyn- strategiese skakeling tussen die Haaie en Saracens – ’n idee wat hy reeds in diepte met sy goeie vriend Francois Pienaar bespreek het.

Covid-19 het sport gedwing om aan te pas en dit bied ’n gulde geleentheid om oor die Haaie se rol in rugby te herbesin.

“ ’n Mens moet eenvoudig buite die boks dink wanneer spelers se loopbane ter sprake kom,” sê Masotti.

“Met salarisperke en wisselkoerskwessies raak dit jaarliks ’n groter uitdaging om spelers in Suid-Afrika te hou, en een oplossing kan wees om ’n vennootskap, gegrond op gelykheid, met ’n Engelse Premier-klub te fasiliteer.

“Spelers se loopbane moet oordeelkundig beplan word, met oorsese blootstelling as deel van die pakket, maar altyd met die doel dat hulle deel van die Haai-familie bly.”

Nog ’n deurslaggewende faktor in die ooreenkoms tussen MVM Holdings en die Haaie is die feit dat Masotti self reeds van jongs af ’n “lid” van die Haai-familie is.

“Ek is in Durban gebore en het aan die buitewyke van Amanzimtoti grootgeword,” vertel hy.

“Daar het ek smiddae ná skool koers gekies rivier toe om saam met vriende vis te vang, sportsoorte te speel en allerlei avonture mee te maak.

“Toe ek nege jaar oud was, het my pa, Venio Masotti, wat verlede jaar oorlede is, my saamgeneem na die toets tussen die Springbokke en All Blacks op Kingspark in 1976. Die Bokke het gewen en Morné du Plessis was die kaptein.

“In 2007 het ek my seun, Alexander, toe ook nege, gevat om sy eerste toets by te woon – die WB-eindstryd tussen Suid-Afrika en Engeland in Parys.

“Op pad na die Stade de France in Saint-Denis het Alexander gekla dat hy dors is, en toe ons te midde van al die gewoel ’n kruidenierswinkel binnestap, wie sou ons daar raakloop? Morné du Plessis en sy seun!

“Daar en dan het ek geweet dat die Bokke weer sou wen . . .”

Masotti het sy hoërskoolloopbaan nie aan een van die gesogte private skole soos Kearsney, Hilton of Michaelhouse voltooi nie, maar aan Amanzimtoti High.

“Wat ’n wonderlike skool; ek sal vir ewig dankbaar wees vir die opvoeding wat ek daar ontvang het en die lewenslange vriendskappe wat gesmee is.”

’n Mens moet eenvoudig buite die boks dink wanneer spelers se loopbane ter sprake kom.

Masotti se obsessie met wen, kom ironies genoeg van die swaarkry wat hy, soos so baie ander rugbyondersteuners, moes verduur gedurende Natal se jare in die B-afdeling van die Curriebeker-reeks.

“Die euforie toe die Piesangboere uiteindelik, in 1990, daarin kon slaag om die Curriebeker in te palm danksy Tony Watson se onvergeetlike drie in die eindstryd, het al die lyding van die tagtigerjare egter die moeite werd gemaak.

“Wanneer ek dink aan die Haaie, het die veggees, die parmantigheid van iemand soos die kaptein in 1990, Craig Jamieson, die karakter van Natalrugby vergestalt.

“Hy was een van my helde.”

Van helde gepraat, Nelson Mandela is ’n absolute ikoon in Masotti se oë.

“As ’n regstudent was ’n mens deurentyd besig om grondwetlike raaisels in jou kop te probeer uitpluis,” onthou Masotti.

“My politieke bewustheid het dus vinnig gevestig geraak en in die vroeë negentigerjare was ek die president van die SA-Amerikaanse Organisasie in die VSA.

“Nadat Mandela vrygelaat is, het hy Amerika by ’n paar geleenthede besoek en het ek die voorreg gehad om hom te kon ontmoet.

“Uiteraard het almal hierdie enorme respek vir hom gekoester, maar hy het nietemin die kuns verstaan om ’n mens in sy geselskap op jou gemak te laat voel.

“Tog het ek hierdie amperse drang ervaar om hom aan te raak, nét om te voel of hy regtig bestaan.”

Meer oor:  Marco Masotti  |  Rugby  |  Haaie  |  Mvm Holdings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.