Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Am vrees nie têkkel, maar wil met álles blink

Is die Springbok-kamp nie bang vir wat met Lukhanyo Am teen Manu Tuilagi op buitesenter kan gebeur nie?

“Nee glad nie,” was Jacques Nienaber se woorde in ’n informele gesprek die Donderdagmiddag voor verlede jaar se Wêreldbekereindstryd teen Engeland in Jokohama, by die span se hotel in Tokio-baai.

“Lukhanyo het nie ’n bang haar op sy kop nie,” het Nienaber, toe nog die Bokke se hulpafrigter, oor sy vertroue in sy buitesenter gesê.

In daardie stadium het dit na ’n dapper stelling deur Nienaber geklink omdat Tuilagi in die Wêreldbekerhalfeindstryd teen die All Blacks verwoestend was.

Teenoor Tuilagi was Am se spel in die aanloop tot die eindstryd bestendig, maar niks aardskuddend nie.

Lukhanyo Am
Lukhanyo Am seil in die WB-eindstryd in onder die Engelsman Elliot Daly. Foto: Getty Images

Min het’n mens toe geweet dat dit in die eindstryd Am sou wees wat die tonge laat klap – en dat min mense agterna ’n woord oor Tuilagi sou rep.

Boonop is die Bokke se versekeringspolis vir Am, Jesse Kriel, in die Suid-Afrikaners se eerste Wêreldbeker-groepwedstryd teen die All Blacks beseer. Am het egter op skouspelagtige wyse die ongelowige Thomasse verkeerd bewys deur sy beste vertoning nog in die Boktrui teen Engeland in die eindstryd te lewer. Hy was so invloedryk dat min ondersteuners agterna ’n woord oor Tuilagi gerep het.

Dit was immers Am wat daardie nonchalante aangee gegooi het wat tot Makazole Mapimpi se drie gelei het. Voor dit het hy boonop ’n seker drie gekeer toe hy laat in die eerste helfte – terwyl Engeland 25 fases besit opgestapel het – vir Elliot Daly geduik het dat hy hik.

Die onselfsugtigheid waarmee Am sy mede-Haai Mapimpi in die 66ste minuut van die eindstryd gevoer het, is ’n belangrike rede waarom sy spanmaats in Durban hom vanjaar as die Haaie se kaptein gekies het.

Hy gedy in dié rol en het sedert daardie roemryke oorwinning in Jokohama nog nie ’n afdag op die rugbyveld gehad nie.

En tog bly die senter se voete stewig op die aarde geplant. Die kapteinskap van die Haaie, sê hy, is nie iets waarvoor hy onmiddellik ja gesê het of toegelaat het om na sy kop toe te gaan nie.

“Ek het ernstig oor die kapteinskap besin. Ek het besef ek is nou een van die seniors in die groep,” het Am die afgelope week aan Rapport gesê.

“Ek is nou al lank in die stelsel en het gevoel ek kry ’n kans wat ek moet aangryp, ’n geleentheid om deur voorbeeld te lei.

“Ek probeer van kleins af my volle potensiaal verwesenlik. Dít dryf my in die lewe. Ek voel altyd ek kan verbeter. Ek voel geseënd oor waar ek myself tans bevind.”

Die bykomende verantwoordelikheid van die kapteinskap het Am se spel glad nie nadelig beïnvloed nie.

“Dis nog vroeg in die seisoen en baie kan nog gebeur,” maan hy. “Maar ek hou steeds voor en tydens wedstryde by dieselfde prosesse as voorheen. Ek klou steeds streng aan die basiese aspekte van die spel vas.

“Dis eers sodra ek selfvertroue geput het uit die regte uitvoering van die basiese dinge dat ek die flashy dinge probeer doen,” verduidelik hy.

Am en sy spanmaats het die wêreld in hul eerste sewe wedstryde van vanjaar se Superreeks aan die brand gespeel, en speel sowel aanskoulike as wenrugby.

“Dit help baie dat hierdie Haai-groep wíl speel,” verduidelik Am. “Vir my is dit ook ’n groot hulp dat die ander seniors in die Haaie-span nie al die druk op my as die kaptein plaas nie.

“Ons het die voorseisoen almal saam gesit en besluit ons wil op ’n skoon bladsy begin, omdat daar soveel nuwe gesigte in ons midde is.

“Ons wil ons eie geskiedenis skryf.

“Almal het ingekoop. Nou is daar energie in die span en almal werk vir dieselfde doelwit.”

Am se benadering tot die kapteinskap is om met voorbeeld te lei, maar dit beteken nie hy sit met ’n mond vol tande in spanvergaderings nie.

Lukhanyo Am
Am verlede jaar saam met Jacques Nienaber. Foto: Gallo Images

“Jy moet goed kommunikeer met jou spanmaats en jou afrigter, en altyd kalm bly en luister,” sê Am. “Jy moet iemand wees met wie die ander maklik kan praat en ’n goeie verhouding met hulle hê.”

Am-hulle bou vanjaar ’n groot deel van hul Superrugby-sukses om die Bokke se verdedigingstelsel. Soos ook die geval tydens die Bokke se Wêreldbekerveldtog was, is Am die Haaie se minister van verdediging.

Uiteraard wil hulle die bal rondgooi en aanvallende rugby speel, soos hulle gereeld vanjaar gewys het wanneer die kans hom voordoen.

Maar beter duikwerk bied die Haaie vanselfsprekend groter bestendigheid wat hul uitslae betref.

Tot voordat die koronavirus Superrugby onderbreek het, het die Haaie op die verdediging ’n suksessyfer van 85% gehandhaaf. Net drie spanne was akkurater: die Brumbies met 87,1%, die Crusaders met 86,6% en die Blues met 86,1%.

“Ons (die Haaie) het (die Bokke se verdedigingstelsel) nog nie vervolmaak nie, maar ons werk daaraan,” sê Am. “Ons is beslis op die regte pad. Dit het baie gehelp om met Jacques by die Bokke te werk.”

Al begin Am die seisoen soos ’n Jean de Villiers van ouds die oog met sy onderskepdrieë vang, is hy bewus daarvan dat verdediging een van sy sterkpunte as ’n buitesenter is.

Dié oudleerling van die Hoërskool De Vos Malan wil egter nie net as ’n verdediger beskou word nie. Hy verkies eerder om as veelsydige senter bestempel te word.

“Wanneer ek op die veld draf, stap vrees gelukkig by die agterdeur uit. Ek geniet verdediging baie. Ek besef hoe belangrik dit in wedstryde is as jy teenstanders wil omdop.”

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Lukhanyo Am  |  Rugby  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.