Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
OP gaan sy spelers nie ’n sent betaal
Robbie Kempson

Die Oostelike Provinsie Kings sal as ’n “amateurspan’’ aan vanjaar se Curriebeker-reeks deelneem met geeneen van sy spelers wat vergoeding sal ontvang nie.

Daar is vroeër vandeesweek aan Rapport bevestig dat die platsak Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) sy spelers in die hersiende Curriebeker-reeks nie ’n wedstryd-salaris kan betaal nie.

Die Kings begin die reeks Vrydag teen die SWD-Arende in die Baai en sal met ’n bloedjong span die wedstryd aanpak.

Die OPRU is onder voorlopige likwidasie geplaas en moet teen 10 Mei agterstallige salarisse aan voormalige spelers betaal om te keer dat die unie gelikwideer word.

Robbie Kempson, wat die Kings in die Curriebeker-reeks gaan slyp, het aan Rapport gesê senior spelers is nie vir die Curriebekerreeks gekontrakteer nie en hy is genoop om spelers te gebruik wat in die OP-akademie is en wat akademies nie vir die Varsitybeker-reeks gekwalifiseer het nie.

“Die kern van die groep sal uit dié spelers bestaan. Dit is spelers wat wil speel. Hulle het nie hierheen gekom om vinnig geld te maak nie, maar eerder om ’n toekoms uit rugby te maak,” het Kempson gesê.

Die een positiewe aspek is dat Kempson van voor kan begin en met sy jong en onervare spelers ’n span kan bou.

“Ons kan met iets nuuts begin. Die verlede se bagasie is nie ons bagasie nie.”

Hy besef deeglik dat die jongelinge sterk teenstand in die Curriebeker-reeks gaan kry en dat hulle dit moeilik gaan vind. Hy hoop egter dat die ervaring wat die spelers sal opdoen, hulle sal help wanneer dit by die tweede deel van die reeks kom.

“Daar is spelers van hoogstaande gehalte in die groep, ongeag hul jeug. Hulle wil net speel. Die feit dat hulle ondanks alles besluit het om hier te bly, is aanduidend van hul aspirasies.

“Ons besef dit is ’n professionele era en spelers wil vergoed word, maar dié spelers probeer ’n pad vir hulle in rugby oopspeel en die Curriebeker bied hulle daardie geleentheid.”

Volgens Kempson gaan dit ’n moeilike begin vir hulle wees met die eerste stryd teen die SWD, die tweede een teen die Boland in ’n wegwedstryd en die derde teen die Grens-Bulldogs.

“Ons het ’n paar taai wedstryde wat wag. Daar gaan ekstra byt in die SWD- en Grens-wedstryd wees.

“’En natuurlik is die Kings se voormalige afrigters, wat nou skaars ses maande weg is, nou by Boland.”

Intussen het Oregan Hoskins, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, Vrydag by dié liggaam se algemene jaarvergadering gesê die situasie in die OP is nog nie uitgeklaar nie. Die opstel van ’n reddingsplan vir die beleërde unie is ook nog nie afgehandel nie.

Die OP-Kings se Curriebeker-groep is:

Voorspelers: Brandon Brown, David Murray, Gerrit Huisamen, Greg Jackson, Hayden Tharatt, JP Jamieson, Kevin Kaba, Lusanda Badiyana, Nicolaas Oosthuizen, Roche van Zyl, SF Nieuwoudt, Sintu Manjezi, Tango Balekile, Mzuvukile Sofisa, Warrick Venter, Wynand Grassmann, Stephan Zaayman.

Agterspelers: Athenkosi Mayinje, Davron Cameron, Courtney Winnaar, Garrick Mattheus, Jeremy Ward (k), Jixie Molapo, Keanu Vers, Lindelwe Zungu, Michael Brink, Riaan Esterhuizen, Sibusiso Ngcokovane, Simon Bolze, Somila Jho, Siphumelelo Msutwana, Warren Swarts, Thaki Boloko, Chuma Faas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.