Nog ’n Amerikaanse maatskappy het tot die rugbywêreld toegetree, met die aandelefirma Silver Lake wat glo in gevorderde gesprekke is om ’n aandeel in die kommersiële vleuel van die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NSRU) te bekom.

Hoe beter Beauden Barrett (voor) en Richie Moaga in die toekoms op die speelveld vaar, hoe beter vir die Amerikaanse maatskappy Silver Lake – dis nou as ’n belegging van 15% in die Nieu-Seelandse Rugbyunie se kommersiële aktiwiteite deurgevoer word. Foto: Getty Images
Die nuus volg kort op die hakke van MVM Holdings se belegging wat aan hom ’n beherende belang van 51% in die Haaie se franchise gegee het.
Volgens Reuters se bron kan Silver Lake “tot 15%” van die NSRU se kommersiële belange bekom, wat hom in staat sal stel om uit die All Blacks se welslae voordeel te trek.
Volgens Sky News, wat eerste oor dié voorgestelde transaksie berig het, kan dié transaksie se waarde in die omgewing van $2 miljard wees. Volgens Sky is dit nog nie beklink nie, maar kan daar vandeesmaand al ’n aankondiging wees.
Silver Lake, wat in Kalifornië gesetel is, se beleggingsportefeulje beloop reeds $75 miljard. Die meeste van sy beleggings is in tegnologie en sportspanne.
Silver Lake wou nie kommentaar lewer nie.
Die NSRU het aan Reuters gesê hy “is op ’n pad om te sien hoe ’n beleggingsvennoot dalk sal lyk – wat baie opwindend vir ons is”.
Die NSRU het verlede jaar ’n hersiening gedoen van hoe die spel in Nieu-Seeland bedryf en gefinansier word en gesê dit kan in die toekoms dalk ’n belegging van buite insluit.
Silver Lake het deur ’n aandeelhouding van 10% in die City Football Group ’n indirekte aandeelhouding in die Engelse sokkerklub Manchester City, asook spanne in die VSA, Australië en China. – Reuters