Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Amerikaners kan van Siya Haai maak
Siya Kolisi, die Stormers se kaptein, kan ’n teiken vir die Haaie wees indien die Amerikaanse konsortium MVM Holdings by die Durbanse unie betrokke raak. Foto: Getty Images

Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, kan die Westelike Provinsie volgende jaar dalk vir die Haaie verruil indien die Amerikaanse konsortium MVM Holdings in Durban ’n vastrapplek kry.

Netwerk24 verneem dat die onderhandelinge tussen MVM en die Haaie, vir ’n moontlike aandeelhouding in die Durbanse rugbyfranchise, flink vorder. Dít nadat die WP Rugbyunie (WPRU) nie beheer oor sy sakevleuel se direksie aan MVM wou afstaan in ruil vir ’n belegging van $6 miljoen nie.

Kolisi en ander senior spelers was almal gretig vir dié transaksie om voort te gaan en sodoende sekerheid oor die franchise se toekoms te verkry.

Daar is egter ondanks troebel finansiële waters waarin die WPRU hom bevind nie veel entoesiasme onder Kaapse rugbybase om met die Amerikaners sake te doen nie.

Die WP kan egter vanweë die samestelling van belangstellendes in die MVM-konsortium een van sy mees bemarkbare spelers, Kolisi, kwyt wees.

Een van diegene wat belangstel om deel van die MVM-konsortium se beoogde belegging te wees, is Vincent Mai, ’n weldoener van Kolisi.

Mai het ’n beursskema befonds wat destyds vir Kolisi se onderrig by Grey High School in Port Elizabeth betaal het. Kolisi het al op rekord gesê dat hy nie sonder Mai sy opgang sou gemaak het nie.

Kolisi saam met die man wat vir sy onderrig betaal het, Vincent Mai. Foto: Instagram

Mai is die stigter van die Amerikaanse sakekonglomeraat Cranemere en ’n filantroop, wat vir Suid-Afrikaanse kinders uit agtergeblewe gemeenskappe se onderrig betaal.

Die feit dat Michael Yormark, president van die internasionale sportagentskap Roc Nation, in die MVM-stal is, kan nóg ’n groot faktor wees. Roc Nation tree as kommersiële agente vir Kolisi op.

Roc Nation verteenwoordig ook die Bok-blits Cheslin Kolbe. Yormark het op ’n onlangse besoek aan Kaapstad in ’n onderhoud met Netwerk24 die mening gelug dat Kolbe sy rugby in Suid-Afrika behoort te speel en hy kan straks ook op die Haaie se radar wees indien MVM ’n aandeelhouding in dié unie bekom.

Toe Marco V. Masotti, die oud-Suid-Afrikaner en Amerikaanse prokureur aan die spits van MVM, sy aanvanklike visie vir ’n belegging verwoord het, het hy vir Kolisi as ’n “ikoniese figuur” beskryf.

Hy het die belangrikheid van Kolisi in ’n opvolg-onderhoud oor die samestelling van sy konsortium beklemtoon.

“Die feit dat Siya deel van die span is, is vir al die lede van die groep ’n groot faktor,” het Masotti gesê.

Kolisi is nog tot ná volgende jaar se toer van die Britse en Ierse Leeus by die WP gekontrakteer, maar daarna sal die Kaapse unie ’n stryd op hande hê om aan hom vas te klou.

Die feit dat Siya deel van die span is, is vir al die lede van die groep ’n groot faktor.
Marco V. Masotti

’n Faktor in die WP se guns sal wees hoe Kolisi se lewe tans ingerig is in die Kaap en daar is ook die vraag of hy dieselfde sosiale indruk buite Wes-Kaapse grense sal kan maak.

As Springbok-rugby se eerste swart toetskaptein verteenwoordig Kolisi veel meer as net die spel en is die waarde wat uit sy handelsnaam ontgin kan word enorm.

• Kolisi tel wel onder etlike spelers wat hul spelpeil sal moet lig as die WP nog ’n faktor in vanjaar se Curriebeker-reeks gaan wees.

Met die uitsondering van die stutte Steven Kitshoff en Frans Malherbe, en die beseerde heelagter Warrick Gelant, het Wêreldbeker-spelers soos Kolisi, Bongi Mbonambi, Herschel Jantjies en Damian Willemse nog nie vanjaar vir die Stormers en WP tot hul reg gekom nie.

John Dobson

John Dobson, die WP se afrigter, maak Woensdag sy span bekend vir Vrydagaand se wedstryd teen die Pumas op Nuweland.

Met ander oorblywende wedstryde teen Griekwas, die Cheetahs en Haaie bygereken, staan die Streeptruie ondanks die laaste twee naweke se nederlae teen die Bulle en Leeus steeds sterk vir ’n plek in die halfeindronde.

’n Oorwinning oor die Pumas is egter ononderhandelbaar en dis tyd vir Kolisi en kie om momentum aan die WP se veldtog te gee.

Meer oor:  Marco V. Masotti  |  Siya Kolisi  |  Kaapstad  |  Durban  |  Westelike Provinsie  |  Haaie  |  Springbok-Kaptein  |  Belegger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.