Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
André-Hugo onder Bok-pa se vlerk uit

As uitblinker op die rugbyveld is André-Hugo Venter meestal uitgesonder as André Venter se seun – spruit van die voormalige Springbok-sterflank.

André-Hugo Venter
André-Hugo Venter op ’n stormloop teen Georgië verlede maand.

Maar deesdae staan André-Hugo op sy eie bene as speler en vervaag die etiket van André Venter se seun by die dag.

“Ek is baie dankbaar vir my pa en die rol wat hy al in my lewe gespeel het,” sê André-Hugo uit die WP se bioborrel voor hul beplande kragmeting volgende week in die Kaap teen die Britse en Ierse Leeus.

“Tot ’n mate verstaan ek dat hulle na my as André Venter se seun verwys. Hy het baie goed in sy loopbaan bereik en ek is nog nie naby dit nie. En ek strewe gewis ook daarna om eendag te kan sê ek het ’n Springbok-baadjie in my klerekas.

“ En, ja, ’n mens raak ook gewoond daaraan dat hulle na my as André Venter se seun verwys.

“Een of ander tyd sal dit nie meer so wees nie, want dan is jy hopelik goed genoeg om ’n eie identiteit te kon skep.”

Die 19-jarige Venter het vanjaar reeds ’n groot tree vorentoe gegee om van die pa-etiket ontslae te raak.

Hy het sy kans vir die Maties in die Varsitybekerreeks aangegryp, waar John Dobson hom raakgesien en ingekatrol het vir die Stormers-groep.

Venter het ook uitmuntende spel vir Bafana Nhleko se Junior Bokke in die reeks teen die jong spanne van die Poemas, Georgië en Uruguay gelewer.

Ek strewe ook daarna om eendag ’n Springbok te wees.
andré venter
Pa André in aksie teen Uruguay in die 1999-Wêreldbeker. Foto: Gallo Images

“Een ding wat vir my onder coach Bafana uitgestaan het, is die harde werk wat ons ingesit het. Ons het vroegoggend en in die aande geoefen.

“Hulle het ons met tye hard gedruk, wat duidelik gehelp het.

“Dit het in ons wedstryde gewys dat ons ’n span is wat vir 80 minute speel en nie net die eerste helfte goed speel en daarna uitsak nie. Ek dink juis ons het in die tweede helfte van ons wedstryde selfs beter gespeel.”

Oor sy eie spel wat weekliks aan die verbeter is, wil dié haker nie uitwei nie.

“Ek is maar net dankbaar en gelukkig dat ek vir daardie drie spanne (die Maties, Stormers en Junior Bokke) kon speel. Ek sien daarna uit om vir die res van die seisoen by die Stormers en WP in te val en hopelik te speel.

“Ek sien regtig uit na wat die toekoms inhou en is net dankbaar vir die geleenthede wat ek gekry het.”

Hy het die oorgang van jeugrugby na senior rugby darem nie te moeilik gevind nie.

“As ’n mens nie vinnig aanpas nie, kan jy vinnig uitgeskop word. ’n Mens moet opdaag en elke keer jou beste gee. As ’n groot ou op jou afhardloop, moet jy hom duik. Jy moet hard hardloop.”

Tussendeur die rugbyverpligtinge is Venter nou ’n tweedejaarstudent aan Maties waar hy BRek studeer.

“Dit is maar tydrowend om nog te studeer ook. Ek kom darem nog by alles uit, maar as dit eksamens is, raak dit nogal interessant om by als uit te kom. Maar dit kan gedoen word. Dis nie maklik nie, maar haalbaar.”

Meer oor:  Wp  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.