Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Anton Tonto vir Heyneke se Lone Ranger
Anton Leonard en Heyneke Meyer hou in 2003 die Curriebeker vas. Foto: Gallo Images

Heyneke Meyer het na die Lone Ranger gekyk toe hy ’n kind was.

Die gemaskerde voormalige geregsdienaar wat skelms en ander uitvaagsels op televisie en op die silwerdoek laat les opsê, het die toekomstige Springbok-afrigter se aandag gaande gemaak.

Maar, het klein Heyneke toe al gesien, die Lone Ranger werk nie alleen nie. Sy vriend Tonto, ’n inheemse Amerikaner, is altyd aan sy sy.

Dis ’n les wat Meyer goed geleer het en een waaroor hy ook in sy nuwe boek 7: My Notes on Leadership and Life skryf.

“Jy kan dit nie alleen doen nie. Anton was my Tonto.”

Anton Leonard was soms byna onkeerbaar wanneer hy op loop gesit het. Foto: Gallo Images

Meyer skryf hoe hy en die voormalige Springbok-losvoorspeler Anton Leonard ’n klompie jare saamgewerk het om sukses op die rugbyveld te behaal.

“Vir Anton het ek baie tyd en baie respek. Ek en hy het al ’n interessante paadjie saamgeloop,” het Meyer hierdie week gesê.

Hulle paadjies het in 1997 gekruis toe Meyer saam met Phil Pretorius na George is om die SWD-Arende af te rig.

“Anton was toe nog ’n jong mannetjie wat vir polisie amateur-rugby gespeel het. Ons het die spelers getoets en ek sien toe hy het ongelooflike atletiese vermoëns,” sê Meyer.

“Ek het vir hom gesê hy kan ’n Springbok word as hy bereid is om hard te werk.”

So het Leonard later een van die leiers van die Arende geword en is hy ook, tot Meyer se vreugde, in 1999 by die Stormers betrek.

Meyer is in 2000 Pretoria toe om die Bulle af te rig.

“Ek vra toe vir Anton om saam te gaan en hy doen dit. Die ouens daar het hom nie geken nie en het hom aanvanklik maar agterdogtig aangekyk, maar hy het gou hul vertroue gewen.”

Meyer het Leonard toe ook later die Bulle se kaptein gemaak.

Anton Leonard het ook help afrig by die Bulle en die SWD-Arende. Hy is deesdae in die restaurantbedryf. Foto: Gallo Images

“Hy het nooit mense se ore van hul koppe afgepraat op die veld nie. Hy het met sy voorbeeld gelei.”

Saam het Meyer en Leonard groot sukses behaal. Hulle het twee keer die Curriebeker gewen terwyl Leonard die kaptein was.

“Anton het in ’n stadium al uitgetree, toe kry Pierre Spies seer en ek bel hom en sê vir hom ek het hom vir drie wedstryde nodig. En hy sê vir my: ‘Coach, ek sal nooit betyds fiks genoeg word nie.’ Maar hy kom en hy word betyds fiks en hy speel toe seker ses of sewe wedstryde vir ons.”

Heyneke Meyer was verlede jaar nog Stade Français se afrigter. Foto: Getty Images

Leonard was nie meer die kaptein nie, maar hy het alles ingesit, selfs as hy net op die oefenveld was of op die paviljoen as ondersteuner gesit het.

“Hy is een van daardie spelers wat ongelukkig was om nie meer kere vir die Springbokke te speel nie. Hy het nie altyd die krediet gekry wat hom toekom nie,” sê Meyer.

Daarom is hy bly dat hy ook ’n bietjie meer oor sy goeie verstandhouding met Leonard in sy boek kon vertel.

Gepraat van Meyer se boek. Hy het dit self laat druk en verwag nie om geld uit die verkope te maak nie.

“Solank ek weet dat my boek in hierdie moeilike tye iets vir iemand beteken, hulle inspireer, is dit vir my genoeg.”

Meer oor:  Heyneke Meyer  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Bulle  |  Stade Francais  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.