Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Aplon se seisoen by Bulle kortgeknip

Gio Aplon se rugbyseisoen is iets van die verlede.

Die Bulle se beseringsverslag het Maandag, soos verwag, nie goeie nuus oor dié ervare Springbok-agterspeler se kniebesering ingehou nie.

Gio Aplon sal nie weer vanjaar vir die Bulle op die aanval die krane oopdraai nie. Foto: Gallo Images

Aplon het Vrydagaand in Bloemfontein knieligamente in die plaaslike Superrugby Unlocked-reeks teen die Cheetahs geskeur en sal tussen ses en nege maande buite aksie wees.

Benewens vrae oor of die besering Aplon, wat vroeër die maand 38 geword het, se loopbaan kan beëindig, laat dit die Bulle sonder ’n erkende heelagter vir die res van die seisoen.

Die Bok Warrick Gelant het gedurende die Covid-tydperk besluit om sy rugby in die Kaap te gaan speel en twee ander spelers wat in die laaste vesting oorweeg sou kon word – Manie Libbok en Divan Rossouw – is ook vort en speel nou onderskeidelik vir die Haaie en die Leeus.

Die Bulle het bevestig Aplon word Woensdag geopereer.

Hy het tot 30 Junie 2021 ’n Bulle-kontrak en die kans is groot dat hy dalk nie weer op Loftus Versfeld sal uitdraf nie.

Die 21-jarige David Kriel is nou die gunsteling om Saterdagaand die nr. 15-trui te dra wanneer die Bulle op hul tuisveld teen die Haaie te staan kom.

Hy sê Aplon “se stem sal gemis word” in die agterlyn.

“Ek voel baie jammer vir Gio en ek wens hom ’n spoedige herstel toe,” sê Kriel.

“Die vooruitsig dat ek dalk nou die eerstekeuse-heelagter kan wees, is opwindend. Dit gebeur nie elke dag dat ’n 21-jarige vir die Bulle begin nie. Dit is ’n groot eer en ek wil elke oomblik geniet.”

Dié belowende veelsydige agterspeler sê alles het vinnig gebeur nadat hy vanjaar van die Westelike Provinsie af by die Bulle aangesluit het.

“Jy moet altyd gereed wees vir sulke geleenthede wat na jou kant toe kom. Ek is oorgehaal om die meeste daarvan te maak.”

Kriel sê die nederlaag teen die Cheetahs het nie die Bulle se selfvertroue geknou nie.

“Om te verloor is nooit lekker nie. Ek dink ons goeie karakter gewys om terug te kom en ons het teen die einde baie durf gewys.

“Ons vertoning teen die Haaie (verlede maand op Superfan-Saterdag) is nog vars in die geheue en ons sal weer so wil speel.

“Ons moet meer met die bal speel. Teen die Haaie het ons met groter vryheid gespeel en dit sal goed wees as ons Saterdag met dieselfde ingesteldheid kan speel.”

As die Bulle-breier, Jake White, wel besluit dat Kriel die geskikte plaasvervanger vir Aplon is, sal dit vir Travis Ismaiel en Kurt-Lee Arendse ’n kans gee om op vleuel na die beginspan terug te keer.

Meer oor:  Gio Aplon  |  Superrugby Unlocked  |  Besering  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.