Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Arbeidshof sê Saru moet Watson heraanstel

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het Vrydag ’n opstopper in die arbeidshof gekry.

André Watson. Foto: Gallo Images

Dié hof het beslis dat die nasionale rugbybeheerliggaam sy voormalige hoof van skeidsregters, André Watson, in sy pos moet heraanstel.

Watson is in 2015 deur Saru afgedank nadat ’n griefskrif deur senior skeidsregters teen hom ingedien is. Daarin is onder meer kapsie gemaak teen sy “diktatoriale bestuurstyl” en “skeltaal” wat hy teenoor skeidsregters gebruik het.

Sy prokureur, Bertie Grobbelaar, het Vrydag aan Netwerk24 die arbeidshof se beslissing bevestig.

“Die arbeidshof het die bevinding deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie ingevolge waarvan André uit Saru se diens ontslaan is, tersyde gestel. Dit is vervang met ’n gewysigde bevel dat die sanksie van ontslag uit Saru se diens met ’n skriftelike waarskuwing vervang moet word.

“Die bevel bepaal ook dat hy met onmiddellike ingang weer deur Saru in sy pos, met dieselfde diensvoorwaardes en voordele en met 'n terugbetaling van ’n groot gedeelte van sy salaris wat verbeur is, in diens geneem moet word,” sê Grobbelaar.

Watson wou nie kommentaar lewer nie en het navrae na Grobbelaar verwys.

Grobbelaar het ’n skrywe aan Saru gerig om die “praktiese uitvoering” van die arbeidshof se uitspraak te koördineer. Watson is in Februarie verlede jaar deur Mzwamadoda “Banks” Yantolo vervang.

Saru het by monde van ’n woordvoerder gesê hy sal die uitspraak bestudeer voor kommentaar gelewer word.

Meer oor:  Arbeidshof  |  André Watson  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.