Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Armdrukstryd’ wag op Bokke in Parys

Rugbyliefhebbers wat hoop om ná Saterdagaand se braai reg te skuif vir hardlooprugby en Franse flair wanneer die Springbokke en die Hane mekaar pak, gaan heel waarskynlik teleurgestel word.

Steven Kitshoff maak reg om die bal na Siya Kolisi uit te gee tydens ’n oefening Donderdag in Parys. Foto: Gallo Images

Maak eerder reg vir toetsrugby waarin twee agttalle grotendeels in ’n armdrukstryd die wenner sal bepaal.

Die verwagting is dat dit in Parys sal reën en die Franse het met voorbedagte rade ’n swaarder pak gekies.

Wanneer die Bokke se loskopstut, Steven Kitshoff, jou vertel dit gaan pret wees, beteken dit allermins nie dat dit ’n skouspel sal wees nie.

“As die veld wel nat is, sal die voorspelers ’n nog groter rol speel. Ek glo nie dit sal werklik ’n voordeel vir een van die twee spanne wees nie en dit sal neerkom op wie die graagste wil wen.”

Die toerspan het verlede week voor die toets teen Engeland in Londen ook voorberei vir ’n droë én nat Twickenham.

Daar is die afgelope week verskeie kere daarna verwys dat die Bokke se aanslag in die kol was, maar dat die afronding beter moes gewees het.

Kortom, die besoekers se lynstaanwerk was vrot en die pak se rolmale naby Engeland se doellyn nie juis veel beter nie.

Kitshoff sê die Springbokke berei haarfyn voor vir elke toets en die spelers is ywerig om wenmomentum te kry met toetse teen Skotland en Wallis wat ook nog wag.

“Coach Rassie (Erasmus) lê baie klem daarop dat daar ’n sterk kern van leiers in die span moet wees en dat die spelers beheer en eienaarskap neem.

“Ons weet wat die einddoel is, maar besef ook ons het teen Engeland heeltemal onderpresteer.”

Die 26-jarige Kitshoff het nog verlede seisoen vir Bordeaux Bègles in Frankryk gespeel en dié ervaring sal waardevol wees teen die Franse.

Hy kry in die afwesigheid van die veteraan Tendai Mtawarira, wat die toer met ’n besering misloop, die geleentheid om Erasmus te oortuig hy is die keur onder die loskoppe in Suid-Afrikaanse rugby.

Die Bulle se Lizo Gqoboka, wat vanjaar weens ’n gebreekte toon min rugby gespeel het, kan volgende jaar met sterk vertonings in die Superreeks ook in die prentjie wees met die oog op die Wêreldbeker-toernooi.

Daar was ’n seisoen of wat gelede ’n skaarste aan vaskopstutte, maar die situasie het sedertdien omgeswaai. Thomas du Toit, Vincent Koch, Wilco Louw en Frans Malherbe is die vaskoppe in die toergroep.

Meer oor:  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Habe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.