Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Arno lei Bulle in Duane se afwesigheid
Arno Botha gaan Saterdag die Bulle in hul stryd teen Griekwas lei. Foto: Gallo Images

Enige span wat sonder die deugde van die Springbok Duane Vermeulen is, is aansienlik armer daaraan toe.

Nog meer so as nóg ’n Bok wat in die nr. 8-trui gekies kon word, Nizaam Carr, ook beseer is.

Dit plaas die diepte in die Bulle-kamp in perspektief met die Blitsbok Tim Agaba wat Vermeulen vervang en die belowende Elrigh Louw, wat as ’n plaasvervanger gekies is.

Jake White, die Bulle-afrigter, het Arno Botha, wat self as agtsteman oorweeg kon word, gevra om die Bulle Saterdagaand op Loftus Versfeld in die Unlocked-Superreeks teen Griekwas aan te voer.

Die Bulle begin hulle veldtog in die plaaslike Superreeks Saterdag teen Griekwas sonder die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen. Foto: Gallo Images

White sê Vermeulen het Saterdag op Nuweland in die wedstryd tussen die Groen- en Goud-spanne ’n hou teen die been gekry en daar is besluit om nie met hom te waag nie.

“Hy kon gespeel het, maar ons het vyf naweke se rugby voor ons (voor die Bulle se eerste loslootjie in November) en dit is onnodig om met hom te waag.

“So ook met Nizaam (knie). Dit is op ’n manier ’n bedekte seën, want dit gee ander spelers (Agaba en Louw) ’n kans,” sê White.

Die Bulle-spelers se deelname aan die proefwedstryd op Nuweland het wel teen ’n duur prys gekom, met die jong haker Schalk Erasmus wat sedertdien ’n enkeloperasie ondergaan het.

White sê Erasmus sal na verwagting oor ses weke weer kan speel, wat meebring dat Corniel Els Saterdag op haker begin.

Kurt-Lee Arendse, die Blitsbok wat twee naweke gelede op Loftus teen die Haaie twee drieë gedruk het, het ’n gekneusde bobeenspier en is ook nie oorweeg nie.

Hy word vervang deur die 21-jarige David Kriel.

Die opwindende Kriel vorm saam met Gio Aplon en Travis Ismaiel die Bulle se agterste trio.

Die Springbok-stut Trevor Nyakane is ook in die beginspan. Hy is verlede week aan die stryd op Nuweland onttrek omdat hy in nabye kontak met Oupa Mohoje was (wat positief vir Covid-19 getoets is).

Jy wil natuurlik hê hy moet eerder hier wees, maar hy is ’n Springbok en hy weet hoe ons speel. Ons sal sien hoe hy lyk Saterdag en sal hom vervang as dit nodig is.
Jake White

White sê hoewel dit nie ideaal is dat Nyakane nie die laaste twee weke saam met die span kon oefen nie, “is hy belangrik vir die Bulle”.

“Jy wil natuurlik hê hy moet eerder hier wees, maar hy is ’n Springbok en hy weet hoe ons speel.

“Ons sal sien hoe hy lyk Saterdag en sal hom vervang as dit nodig is.”

Embrose Papier

White het verras met twee skrumskakels op die plaasvervangersbank – Embrose Papier en Marco Jansen van Vuren.

Hy sê Jansen van Vuren, wat in 2015 en 2016 vir die Junior Bokke skrumskakel gespeel het, word deesdae as ’n buite-agterspeler beskou.

“Dit is nie regtig twee skrumskakels nie. Hy (Jansen van Vuren) is ’n speler wat skrumskakel kan speel, maar nou eerder ’n buite-agterspeler is.

“Hy is een van die vinnigste ouens in die groep en ons is gelukkig dat ons baie skrumskakels het.”

Die Bulle se span is:
Gio Aplon, Travis Ismaiel, Stedman Gans, Cornal Hendricks, David Kriel, Morné Steyn, Ivan van Zyl, Tim Agaba, Arno Botha (k), Marco van Staden, Ruan Nortjé, Jason Jenkins, Trevor Nyakane, Corniel Els, Jacques van Rooyen. PLAASVERVANGERS: Johan Grobbelaar, Lizo Gqoboka, Mornay Smith, Sintu Manjezi, Elrigh Louw, Embrose Papier, Chris Smith, Marco Jansen van Vuren.


Meer oor:  Jake White  |  Arno Botha  |  Duane Vermeulen  |  Pretoria  |  Kaptein  |  Griekwas  |  Rugby  |  Bulle  |  Springbok  |  Unlocked  |  Beseer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.