Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ashwin wil nou Mallett se e-posse sien

Ashwin Willemse se regspan beplan om deur die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) toegang te kry tot die sogenaamde Nick Mallett-e-posse.

Ashwin Willemse. Foto: Denzil Maregele

Nqobizitha Mlilo, dié voormalige Springbok-vleuel se prokureur, het intussen gesê hul vergadering Vrydagoggend met Gideon Khobane, SuperSport se uitvoerende hoof, was “doelloos” en daar is niks bespreek wat Willemse van plan sal laat verander nie (om die gelykheidshof te nader).

Willemse wil steeds in die hof bewys sy optrede op 19 Mei toe hy met Mallett en Naas Botha koppe gestamp het en in ’n regstreekse SuperSport-uitsending in Randburg uit die ateljee gestap het, is gedryf deur rassisme.

SuperSport het Dinsdag bekend gemaak adv. Vincent Maleka SC se verslag spreek Mallett en Botha vry van enige vorm van rassisme (teenoor Willemse).

Die uitsaaier het Maleka gevra om die ondersoek te doen in die hoop om agter die kap van die byl te kom.

Willemse het besluit om nie sy saak aan Maleka te stel nie, omdat hy gemeen het dit is nie die geskikte forum nie.

Mlilo sê Willemse gaan die gelykheidshof nader om sy saak aan te hoor.

“Die rassisme kom al ’n lang pad en dit het bloot daardie dag gemanifesteer met Ashwin wat keelvol was.

Gideon Khobane, SuperSport se uitvoerende hoof, wat Vrydag met Ashwin Willemse vergader het. Foto: Gallo Images

“Hy het nie geweet van die e-pos wat Mallett gestuur het nie en Maleka se verslag het dit op die lappe gebring.

“Ons wil graag weet wat SuperSport se reaksie op die e-pos was. Die moontlikheid is daar dat ons ingevolge die Paia-wet gaan vra vir toegang tot nog e-posse,” sê Mlilo.

Maleka het in sy verslag verwys na ’n e-pos wat Mallett in 2016 gestuur het aan Scott Seward, ’n uitvoerende regisseur van SuperSport. Daarin vra die oud-Bok-breier dat hy en Willemse eerder nie moet saamwerk nie.

“Ek dink hy (Willemse) praat nonsens, ons irriteer die hel uit mekaar en ons werksomgewing is gespanne en onplesierig,” het Mallett geskryf.

Mallett het gesê hy is baie gelukkig om saam met Breyton Paulse, Hanyani Shimange en Gcobani Bobo te werk, “want anders as Ashwin, respekteer ek hul rugbymenings en harde werk.”

Mlilo sê Khobane het hulle in die gees van versoening genooi na Vrydag se ontmoeting, “maar dit het nie naastenby aan die verwagtinge voldoen nie”.

“Daardie gees van versoening het jammerlik ontbreek en die ontmoeting was sinloos.”

Clinton van der Berg, SuperSport se woordvoerder, het gesê hulle gaan nie kommentaar lewer oor die ontmoeting nie.

Meer oor:  Naas Botha  |  Ashwin Willemse  |  Supersport  |  Nqobizitha Mlilo  |  Nick Mallett
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.