Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Aspoestertjie, die Haai en die vliegtuig

Hierdie is amper ’n feëverhaal. Aspoestertjie word genoem, maar sy verdwyn wanneer ’n brandende vliegtuig verskyn.

Kom ons begin: Wanneer een van die wêreld se beste rugbyspanne die dag teen ’n Aspoestertjie-span verloor, kan dinge maar vir die verloorders warm raak.

Charl van Rensburg was vir jare een van die Haaie se staatmakers. Hy onthou die nederlaag in 1999 teen die Griekwas goed, maar nie so goed soos hoe hy die vliegtuigdrama daarna onthou nie! Foto: Getty Images

Hulle word sommer lekker geterg deur die res van die land en hul afrigters en ondersteuners is kwaad en haal hulle behoorlik oor die kole.

Dinge kan maar warm raak. Vra maar vir die Haaie-span wat in 1999 in Kimberley deur Griekwas verras is. Hulle het die vlamme amper regtig aan hul sitvlak voel brand.

Daardie Haaie se nederlaag was darem nie so onverwags soos die Bulle s’n verlede naweek teen die Pumas s’n nie.

Anders as die huidige Pumas, het daardie Griekwas verskeie grotes laat struikel.

’n Onlangse foto van Charl van Rensburg. Hy is deesdae die direkteur van i.CERAM SA, ’n navorsings- en ontwikkellingsmaatskappy wat veral fokus op beenrekonstruksies, beenkanker en chemiese beeninfeksies. Foto: Facebook

“Daardie jare toe André Markgraaff Griekwas afgerig het, was hulle sterk, jong,” vertel Charl van Rensburg vandeesweek.

Van Rensburg, nou 47 jaar oud, was in 1999 een van die Haaie se staatmakers gewees.

Hy sou in ’n lang rugbyloopbaan, waarin hy ook lank in Frankryk gewoon het, eindelik in meer as 200 eersterangse wedstryde slot of flank speel.

Daar was daardie dag in Junie 1999 in Kimberley spelers soos Victor Matfield, Phillip Smit, Dawie Theron, Luther Bakkes, Boeta Wessels en Hakkies Husselman in Griekwas se span.

“Ons was beslis nie oorgerus nie. Ons het geweet dit sou ’n taai wedstryd wees,” sê Van Rensburg.

Die vorige dag het die Proteas in Birmingham in Engeland hul halfeindstryd in die Wêreldbeker-toernooi teen Australië verloor.

Dit was die wedstryd waarin Allan Donald en Lance Klusener in ’n bisar uithardloop-voorval betrokke was, wat die Proteas se toernooi in trane laat eindig het.

Die toekomstige superster Victor Matfield het in 1999 nog vir Griekwas gespeel. Foto: Gallo Images

Sean Laurénz en Paul Mitchell skryf in hul boek Black and White dat van die Haaie se spelers in die vliegtuig op pad na Kimberley dié dramatiese krieketwedstryd tot op die been ontleed het.

Daarvan onthou Van Rensburg niks. Hy onthou net dat dit ’n “bleddie taai” wedstryd teen Griekwas was, wat hulle met 23-29 verloor het.

Ná ’n korterige onthaal ná die wedstryd is die Haaie na die lughawe. Voor hulle in die kleinerige vliegtuig geklim het, is drie groentjies in die Haaie se span eers op die tradisionele wyse verwelkom.

Howard Cleland, fotograaf, en Don Muir, vlieënier, gee uiting aan hul vreugde om weer veilig op Moeder Aarde te wees. Foto: Black and White

“Ons spelers wat vir die eerste keer in ’n wegwedstryd saam ons gegaan het, het gewoonlik ’n paar houe op die sitvlak gekry,” verduidelik Van Rensburg.

Daardie keer was dit Justin Swart, Trevor Halstead en Brent Moyle, wat vir ’n paar minute met brandende boude rondgeloop het.

“Justin was baie bang vir vlieg en ek onthou dat hy agter in die vliegtuig gaan sit het,” sê Van Rensburg.

Van Rensburg het sy lang lyf op twee sitplekke langs die vlerk tuisgemaak.

“Ons was nog nie lank in die lug nie, toe was daar skielik ’n harde geluid en so ’n helder rooi-oranje lig,” sê Van Rensburg.

“Ek het by die venster uitgekyk oorkant my en toe sien ek dit lyk of daar ’n brandende kombers om die enjin gedraai is.”

Die brand het ’n lang stert gemaak en blykbaar het Swart net sy kop tussen sy bene gedruk toe hy die vlam by sy venter sien verbytrek.

Don Muir, die vlieënier, het teruggedraai Kimberley toe en die senter Joe Gillinham het uit volle bors vir hom “He’s Got the Whole World in His Hands” begin sing.

Joe Gillingham hier in 1997 tydens ’n Springboktoer saam met Thinus Delport in Italië, het glo spontaan vir die vlieënier begin sing terwyl hy met die brandende vliegtuig terug na Kimberley gevlieg het. Foto: Gallo Images

Jacques Benadé, wat daardie jaar gereeld vir die Haaie losskakel gespeel het, het op ’n keer vertel dat Gillingham ’n “weird ou” is.

“Het jy al daardie Ace Ventura-flieks gesien waarin Jim Carey so gesigte trek? Wel, Joe Gillingham is amper snaakser as Jim!” het Benadé verduidelik.

“Ja, dis snaaks hoe elkeen verskillend reageer het. Ek onthou net dat ek gedink het: ‘Dankie tog, ek het vroeër in die week my testament reggemaak’,” vertel Van Rensburg.

Terug op Moeder Aarde is die brand behoorlik geblus. Die vleuel Shaun Payne, wat om die een of ander rede in die vlieënier se kajuit was toe die brand uitgebreek het, het almal wat wou luister opgewonde vertel wat die vlieënier alles gedoen het.

“Dit was k*k, maar ek voel nog steeds nie so k*k soos Allan Donald nie,” het die stut Adrian Garvey volgens Laurénz en Mitchell in hul boek Black and White gesê.

Die span moes toe wag vir ’n ander vliegtuig wat hulle na Durban sou neem.

So het die Sunday Tribune se plakkaat gelyk die dag ná die Haaie se noue ontkoming. As dit nie vir die vliegdrama was nie, het die plakkaat dalk eerder op die Haaie se nederlaag teen die Griekwas gefokus! Foto: Black and White

“Ons is maar Spur toe waar van die manne ’n paar biere gedrink het en almal dankbaar was dat ons nie gesterf het nie,” sê Van Rensburg.

Laurénz en Mitchell onthou dat daar meer as net “’n paar biere” gedrink is.

“Godsdienstige manne het tequila gedrink en partytjiediere het skielik die lewe, God en die heelal in diepte bespreek,” het hulle in Black and White geskryf.

Eindelik is die span terug lughawe toe waar ’n ander vliegtuig, volgens Van Rensburg “dieselfde tipe vliegtuig!” vir hulle gewag het.

“En kan jy dit glo? Toe ons naby Durban kom, was daar ’n elektriese storm en het die vliegtuig vreeslik geskud,” onthou Van Rensburg.

Almal was daardie nag baie bly om eindelik in hul bed te klim. Die nederlaag teen die Griekwas was toe al lankal vergete.

• Volgens Van Rensburg is Don Muir, wat die brandende vliegtuig veilig geland het, ’n tyd later tydens ’n onthaal waar die afrigter Ian McIntosh gehuldig is, oor die erns van die situasie daardie aand uitgevra.

“Op ’n skaal van een tot tien was dit beslis ’n tien,” het hy glo gesê.

Meer oor:  Dawie Theron  |  Victor Matfield  |  Griekwas  |  Curriebeker-Reeks  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.