Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Asseblief, noem my op my naam’, vra Ashley

Dit gaan nog ’n tydjie neem vir hom om gewoond te raak daaraan dat hy voortaan as “coach” aangespreek gaan word, daarom het Ashley Johnson die spelers van die Birmingham Moseley-rugbyklub in Engeland gevra om hom op sy naam te noem.

Hy het onlangs sy loopbaan as afrigter begin nadat hy tussen 2012 en 2020 in 198 wedstryde vir die Engelse Premierliga-span Wasps gespeel het.

Die onmiskenbare profiel van Ashley Johnson, die gewese Springbok wat kultusstatus by die Wasps in Engeland verwerf het. Foto: Getty Images

“Ek het nou die dag vir die ouens by die oefening gesê ‘asseblief, noem my op my naam’. By Wasps het ek en baie ander senior spelers gehelp, so ons was toe al eintlik afrigters. Ek is seker by die Springbokke word dit ook gedoen waar die senior spelers hand bysit, so ek verkies dat ek op my naam genoem word,” sê Johnson uit Coventry, waar hy en sy gesin woon.

Op 34-jarige ouderdom droom Johnson daarvan om eendag op die hoogste vlak af te rig en sy rol as voorspeler- en verdedigingsafrigter by Moseley is die begin van dié pad.

Dis geen toeval dat hy by Moseley beland het nie. Sy goeie vriend Cliffie Hodgson, wat by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch op skool was, het vir Moseley heelagter gespeel en Johnson het – wanneer hy nie vir Wasps gespeel het nie – gewoonlik daar ’n draai gaan maak.

“Ek het gesien dis ’n goeie klub met goeie waardes en goeie afrigters by wie en onder wie ek baie sal kan leer. Ek het ook gevoel die Nasionale Eersteliga is ’n goeie vlak vir my om my loopbaan as afrigter te begin.

Ashley Johnson in aksie vir die Wasps in 2018. Foto: Getty Images

“Almal begin iewers en is mos ambisieus om eendag op die hoogste vlak te kan afrig en dis ook waar ek my nou bevind. In hierdie stadium geniet ek dit, veral omdat ons min ouens in ’n groep is wanneer ons oefen.

“My hele lewe was ek altyd gewoond daaraan as ek by die oefening kom, dat daar ’n groot groep spelers is. Dit was aanvanklik vir my moeilik om alles op die internet via Zoom te moes doen,” sê Johnson.

Hoewel hy dalk nog ’n paar seisoene se rugby in hom gehad het, sê Johnson die besluit om die spel te groet en voltyds by afrigting betrokke te raak, gesamentlik deur hom en sy gesin geneem is.

“Ek sou baie graag nog wou aanhou speel. Daar was egter baie faktore wat in ag geneem moes word. My seun (Jordan) gaan volgende jaar hoërskool toe en dit was deel van die besluitnemingsproses.

“Ons bly in Coventry en Birmingham is ’n katspoeg (sowat 30 km) weg van die huis en dit sal help met standvastigheid.

“Sou ons byvoorbeeld moes getrek het, sou die seuns (Jordan en die tweeling, Zachary en Ryhan) ietwat ontwrig gewees het en hul akademiese welstand is vir my en my vrou, Chrizaan, baie belangrik.”

Johnson sê hy het vir elk van die 198 wedstryde wat hy vir Wasps gespeel het, altyd 100% gegee en dit is presies wat Birmingham Moseley van hom gaan kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.