Ná die teleurstelling dat sy kontrak by die Vrystaat nie hernu is nie, is die haker Elandré Huggett besig om hom voor te berei vir ’n nuwe hoofstuk in sy loopbaan.

Elandré Huggett / Foto: Gallo Images
Hy meld op 1 Julie by die Franse klubspan Narbonne met ’n kontrak van twee jaar aan.
“Ek het onlangs nog gesweet oor waar ek sou speel, maar ’n week ná ek by die agent Anthony Johnson aangesluit het, het hy vir my werk in Frankryk gekry,” sê ’n baie verligte Huggett.
Hy gaan eers sonder sy vrou, Izel, Frankryk toe, aangesien sy nog eksamen moet aflê voor sy as geoktrooieerde rekenmeester kwalifiseer. Sy sal daarna by hom aansluit.
“Dit is vir my hartseer om die Vrystaat en veral Bloemfontein te verlaat aangesien ek my hele loopbaan hier deurgebring het.
“Dit gaan egter nou daaroor dat ek die beste van die saak maak,” sê die 27-jarige haker.
In sy loopbaan het Huggie, soos sy spanmaats hom noem, heelwat las van veral kniebeserings gehad en dit het uiteindelik verhoed dat hy ooit Pro14-rugby vir die Cheetahs kon speel.
Hy het Varsitybeker (vir die Shimlas), SuperSport-uitdaagreeks, Curriebeker- en Superrugby vir die Vrystaat en Cheetahs gespeel.
Hy het van 2013 tot 2016 vir die Griffons onder die afrigting van Oersond Gorgonzola gespeel. Hy glo egter die beste afrigter onder wie hy nog gespeel het, is Franco Smith, wat die unie einde November verlaat om hom in Januarie by Italië as hul afrigter aan te sluit.

Dennis Visser / Foto: Gallo Images
Hy sê hierdie is sy laaste stop op sy rugbyreis.
“Ek wil vir die volgende twee jaar so hard as moontlik speel, my hart uitspeel dat ek nog ’n kontrak losspeel. Ek wil my rugbyloopbaan in Frankryk afsluit.
“Dit sal uiteraard afhang van hoe lank die liggaam hou en saamspeel, en solank die beserings wegbly sal ek op die veld wees.”
Hy sê hy gaan Bloemfontein en sy vriendelike mense mis, maar hy is gereed vir die nuwe avontuur wat wag.
“Ek het hier baie vriende gemaak en gaan hulle mis, maar ek sal nuwe vriende maak. Ek gaan rooivleis ook kwaai mis, want ek verstaan dis maar aan die duur kant daar,” sê Huggett wat op 5 Oktober 1991 in die Panorama-kliniek in Kaapstad gebore is.
* Nog ’n Cheetah-speler, die slot Dennis Visser, wie se kontrak saam met die van Huggett en Ernst Stapelberg op dieselfde dag verval het, sluit hom saam met Huggett by Narbonne aan.
Stapelberg het sy rugbystewels gebêre en werk deesdae vir hul familieonderneming.