Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Aussies uit veld geslaan oor Bokke onttrek

Die ringkoppe van Rugby Australië (RA) was onkant gevang deur Suid-Afrika se onttrekking aan die Rugbykampioenskap, maar glo steeds hulle kan die finansiële knou wat dit hulle gaan toedien, absorbeer.

Australië se rugbybase is onkant betrap deur Suid-Afrika se onttrekking aan die Rugbykampioenskap, waarin die Springbokke die verdedigende kampioen is. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Vrydag aangekondig die Springbokke sal weens kommer oor die spelers se welstand nie vanjaar in die reeks in Australië speel nie. Dit beteken die titel sal vanjaar net deur drie van Sanzaar se vier lidlande (Nieu-Seeland, Australië en Argentinië) beslis word en die Aussies met ’n spreekwoordelike gat in die geldsak laat.

“Ons sal ’n manier hierdeur vind,” het RA se voorsitter, Hamish McLennan, Woensdag aan verslaggewers gesê.

“Ons was verras want Suid-Afrika het ingestem tot die toernooi en die skedulering, so ons was teleurgesteld dat hulle besluit het om te onttrek.

“Dit gaan ons nogal heelwat geld kos, maar ons sal dit hanteer . . . Ons het tot dusver bewys ons (RA) is ’n veerkragtige organisasie.”

Hamish McLennan Foto: Getty Images

McLennan het gesê daar is geen sprake dat skadevergoeding van Saru geëis sal word nie, maar bevraagteken die wysheid van die besluit.

“Ek dink dit was duidelik dat (die kompetisie) goed vir almal sou wees,” sê hy.

“As jy kyk na Suid-Afrika: hul topspelers sou vir 20 maande nie toetsrugby gespeel het nie teen die tyd dat die (Britse en Ierse) Leeus volgende jaar daar aankom.

“Ons sou hulle oorgenoeg tyd gegee het om voor te berei vir die toetse. Ons het reeds die Argentyne hier en hulle is baie tevrede met hoe hul voorbereidings verloop. Ons is verward (oor Suid-Afrika se besluit), maar ons moet aanbeweeg.”

Wat die toekoms betref is McLennan vol vertroue dat die Rugbykampioenskap volgende jaar met al vier sy lidlande sal plaasvind.

Hy het ook gesê beplanning vir aanstaande jaar se Superreeks gaan soos gewoonlik aan, en die Aussies is in gesprekke met Nieu-Seeland se rugbybase oor ’n kompetisie tussen dié nasies se spanne.

“Ons kyk steeds na ’n plaaslike kompetisie, met wedstryde teen die Nieu-Seelanders (ná die seisoen). Ons probeer iets hieroor met ons Kiwi-vriende vasmaak en sal oor die volgende maand of so weet hoe dinge sal lyk.

“Ons sal aanhou probeer om ’n ANZAC-blok te vorm. Ek dink dit sal baie magtig op die wêreldverhoog wees. Ons spelers sal beter wees as ons elke week teen die Kiwi’s speel en dis wat die uitsaaiers en ondersteuners wil hê.

“Van ons kant is daar niks in die pad daarvan nie. Dis in Nieu-Seeland se hande om te besluit wat hulle wil doen.” – Reuters

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wallabies  |  All Blacks  |  Bledisloebeker  |  Rugbykampioenkap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.