Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Aussies wil Kampioenskap só red

Die Rugbykampioenskap wat in Oktober en/of November in Australië beslis word, óf ’n uitgebreide Bledisloebeker-reeks tussen die All Blacks en die Wallabies met bykomende wedstryde teen ’n Anzac-uitnodigingspan.

Die Springbok-slot Eben Etzebeth storm op die Wallaby-kaptein, Michael Hooper, af toe dié twee spanne in 2018 in Brisbane in die Rugbykampioenskap kragte gemeet het. Foto: Getty Images

Dít is van die planne wat beraam word in rugbykringe Doer Onder om toe te sien dat daar wel nog vanjaar toetsrugby in die Suidelike Halfrond is.

Rob Clarke, waarnemende uitvoerende hoof van Rugby Australië (RA), sê daar is “absolute toewyding” van Sanzaar om vanjaar se Rugbykampioenskap in ’n borrel (hub) aan te bied.

“Ons kan dit in die Oktober/November-tydgleuf doen. As ons al die spanne (Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Argentinië) op een plek in Australië kan laat byeenkom, kan ons ’n kampioenskap soortgelyk aan ’n Wêreldbeker-struktuur aanbied.

“Daar kan toetse in die week wees om die kampioenskap binne ’n beperkte tydperk in te pas. Ons kyk daarna as ’n moontlike oplossing,” het Clarke gesê.

Dit sal beteken dat Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Argentinië se tuistoetse in die kampioenskap in die slag sal bly.

Die Springbokke is veronderstel om op 8 Augustus op Ellispark die Poemas aan te durf en op 19 en 26 September die Wallabies en All Blacks in onderskeidelik Pretoria en Mbombela (Nelspruit).

Veral die verlies van die toets teen Nieu-Seeland in die Laeveld – wat die eerste in die geskiedenis sal wees – sal ’n finansiële slag vir die Pumas wees.

Pieter Burger, die Pumas se uitvoerende hoof, het onlangs benadruk dit sal verreikende gevolge vir die unie inhou as die All Black-toets deur die mat val.

Rob Clarke, waarnemende uitvoerende hoof van Rugby Australië. Foto: Getty Images

Clarke sê die eerste prys sal wees om die Bokke, die wêreldkampioen, en Argentinië in die kampioenskap te laat meeding, maar as Covid-19-reisbeperkings dit verhoed, kan die stryd om die Bledisloebeker (tussen die Aussies en Kiwi’s) uitgebrei word.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sal boonop moet besluit of die Springbokke genoeg tyd sal hê om voor te berei vir die kampioenskap aan die einde van die jaar.

Die Nieu-Seelandse Superrugby-franchises pak mekaar reeds van volgende maand af in ’n nuwe plaaslike reeks, terwyl die Aussie-spanne in Julie tot die speelveld sal terugkeer.

Wanneer daar weer in Suid-Afrika beroepsrugby gespeel sal word, bly ’n ope vraag. Dit kan egter nog lank wees aangesien kontak-oefeninge waarskynlik eers op vlak 1 van die nasionale inperking toegelaat sal word.

RA het ook die voorstel gemaak vir ’n Anzac-uitnodigingspan, wat uit spelers van Australië en Nieu-Seeland saamgestel sal word.

As ons nie ’n volle Rugbykampioenskap kan speel nie, moet ons kreatief wees.

Clarke het bevestig daar is gesprekke met Nieu-Seeland Rugby (NZR) om ’n reeks van vier toetse te speel en dié uitnodigingspan op die been te kry.

Hoewel ’n bykomende Bledisloebeker-toets nie noodwendig ondersteuners opgewonde sal maak nie, kan die Anzac-span ’n interessante toevoeging wees, meen Clarke.

“Ons voer gesprekke met ons Kiwi-vriende en hulle het dieselfde uitdagings. Daar word gekyk na dit wat ons ondersteuners kan bied.

“As ons nie ’n volle Rugbykampioenskap kan speel nie, moet ons kreatief wees.”

’n Anzac-vyftiental het in 1989 teen die Britse en Ierse Leeus in Australië kragte gemeet.

Drie Kiwi’s – Kieran Crowley, Frano Botica en Steve McDowall – was saam met 12 Wallabies in die beginspan.

Die Leeus het met 19-15 geseëvier in Brisbane. – nzherald.co.nz, Sunday Telegraph

Meer oor:  Rugby Australië  |  Rugbykampioenskap  |  Rob Clarke  |  Ra  |  Sanzaar  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.